Covid-veldhospitaal geopen

Tanja Bause
Tanja Bause – Die 70-bed veldhospitaal wat die Namibiese sakegemeenskap onder aanvoering van Namibia Breweries Limited (NBL) langs die Windhoek Sentrale Hospitaal laat oprig het, is gister deur die eerste minister, me. Saara Kuugongelwa-Amadhila, geopen.

Volgens die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, sal die veldhospitaal as 'n saal van die Katutura intermediêre hospitaal bestuur word.

NBL het N$1,8 miljoen vir die hospitaal van 1 500 vierkante meter be­skikbaar gestel.

“'n Hospitaal van dieselfde grootte word tans langs die staatshospitaal in Oshakati opgerig. Die uitbreiding van Katutura se tuberkulosesale en die konstruksie van die voorafvervaardigde isolasiefasiliteite by uitgesoekte hospitale oraloor die land is ook deur die private sektor moontlik gemaak,” het Kuugongelwa-Amadhila gesê.

“Na verwagting sal die fasiliteite tussen Augustus en Oktober klaar wees. Die regering is besig om die ou gebou van die Namibiese Instituut vir Patologie (NIP) en die Katutura-verpleegstersaal op te knap om ekstra isolasiebeddens te kan voorsien. Daar is tans 1 732 isolasie beddens landwyd waarvan 142 in die intensiewesorg­eenhede is.”

Kommentaar

Republikein 2025-04-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer