Covid verbind met gehoorprobleme

Die eerste en mees prominente simptome van Covid-19 betrek die longe, maar dit blyk nou die virus is nie net tot dié deel van die liggaam beperk nie.
Henriette Lamprecht
Dr. René Hugo – Prof. Kevin Munro van Manchester Universiteit het verklaar die langtermyn-gesondheidsgevolge van Covid-19 kan 'n wyer impak as net respiratoriese siektes hê.

Daar is vroeg reeds besef die virus kan, benewens die longe, ook die sentrale senuweestelsel aanval. Een van die kenmerke van dié senuwee-aantasting – wat ook algemeen as diagnostiese leidrade gebruik is – is die verlies aan reuk en smaak.

Minder algemeen, maar miskien 'n simptoom wat meer aangrypend is, is die aantasting van dié deel van die sentrale senuweestelsel wat die vermoë om te hoor, bedien.

Dit blyk dat Covid-19 die gehoor op drie maniere kan beïnvloed: deur die verlies aan gehoor, en die ontwikkeling van tinnitus (oorsuising) en vertigo.

Navorsers by die Manchester Centre for Audiology and Deafness het gevind 14,8% van pasiënte met Covid-19 ervaar 'n aanhoudende gefluit of dreuning, ook genoem tinnitus, in die ore. So ook ondervind 7,2% erge rotasie-vertigo ('n balansversteuring) en 7,6% gehoorverlies.

Tinnitus, die algemeenste oorprobleem weens Covid-19, het belangrike implikasies vir pasiënte se lewensgehalte. Die ervaring van 'n gedurige fluit, suis of dreuning in die ore lei dikwels tot verhoogde angs en stres en daarmee saam versteurde of verminderde slaappatrone. Dit kan weer aanleiding gee tot negatiewe werks­prestasie en versteurde sosiale patrone soos humeurigheid en afsondering.

Vertigo is die sensasie wanneer jy, of die omgewing rondom jou, in die rondte draai. Hoewel die voorkoms hiervan nie baie algemeen is nie, is die ervaring van vertigo dikwels lewensveranderend. In die slegste moontlike scenario kan dit beteken die persoon kan nie sonder ondersteuning loop, motorbestuur of selfs regop kom uit 'n sittende posisie nie. Die toestand gaan ook dikwels met naarheid en braking gepaard.

Die gehoorverlies ná Covid-19 kan een of albei ore affekteer en is gewoonlik van 'n gemiddelde tot erge graad. Soms herstel die toestand in 'n mate, maar baie selde volkome. Dié gehoorverlies sal meestal met tinnitus en/of vertigo gepaardgaan.

Die vraag is nou: waarom veroorsaak Covid-19 hierdie aantasting van die oor? Die antwoord hierop is nog nie duidelik nie, maar daar is 'n aanduiding die probleem kan verskillende oorsake hê.

Die eerste oorsaak is ongetwyfeld die coronavirus self. Die virus val geredelik die sentrale senuweestelsel aan – waarvan die oor en die balans-orgaan 'n deel vorm. Daarbenewens neig die virus om 'n spesifieke soort sel – wat in die wand van die longe voorkom – aan te val. Hierdie selle kom ook in die middeloor voor en navorsers het onlangs die virus hier geïdentifiseer.

Die oor is oor die algemeen redelik sensitief vir beskadiging deur verskillende soorte virusse. Gehoorverlies kan onder meer dikwels die gevolg van virale siektes soos rubella (Duitse masels), meningites en masels wees. Die kanse is derhalwe groot dieselfde patroon kan ná Covid-19 ook voorkom.

Virusse is wel nie die enigste oorsaak van beskadiging van die oor nie. Vir baie jare is dit algemeen bekend sekere medikasies soos aspirien, kinien en sommige antibiotikums kan die oor permanent beskadig.



XXX

Enkele medikasies wat gebruik word om Covid-19 te beveg, het ongelukkig ook ototoksiese (oorbeskadigende) neigings.

In 'n studie wat in Januarie vanjaar gepubliseer is, word aangetoon die volgende middels is “gevaarlik vir die oor”: chloroquine en hydroxychloroquine, azitromycin, lopinavir-ritonavir, interferon, ribavirin en ivermektien.

Dis egter moontlik die newe-effekte van dié medikasies kan afgewater word as die toediening daarvan vroeg gestaak of verminder word. Daarom ondersteun dié navorsers gehoormonitering tydens Covid-behandeling: “Recognition of hearing loss, tinnitus, or vertigo is therefore crucial to facilitate early intervention and prevent long-term damage”.

In ag genome die twispunt rondom Covid-entstowwe, is dit nodig dat die moontlikheid van entstowwe as 'n oorsaak van Covid-verwante oorbeskadiging ondersoek moet word.

In een studie wat onlangs in die VSA onder ongeveer 150 000 deelnemers gedoen is, het dié navorsers onomwonde bevind daar is geen bewyse dat mense wat die entstof ontvang het 'n risiko loop vir permanente gehoorverlies, tinnitus en/of vertigo nie.

'n Onverwagte nasleep van Covid-19 op mense se gehoor word tans waargeneem. Gehoorklinieke wêreldwyd word deur angstige gehoorapparaatdraers oorval wat beweer hul gehoor het erg in die Covid-tydperk agteruitgegaan. Maar wanneer die gehoor getoets word, word dikwels geen agteruitgang gevind nie. Nogtans ervaar die pasiënte die teendeel.

Die oor en sy werking moet egter altyd in konteks gesien word. Die Covid-19-pandemie het meegebring dat mense se sosiale interaksie verander het. Skielik is nabye mens-tot-mens kontak taboe, sosiale afstand word algemeen gehandhaaf en almal dra maskers. Persone wat sukkel om te hoor het egter nodig om naby aan sprekers te staan sodat hulle beter klank-aanwysings kan kry. Dis ook belangrik dat hul gespreksgenote se gesigte (en veral hul mond) duidelik sigbaar is as hulle suksesvol wil kommunikeer. So het Covid-19, selfs sonder dat enigeen positief getoets is, mense se gehoor beïnvloed.

[email protected]

• Dr. René Hugo is 'n gehoorspesialis van Swakopmund.

FOTO’s UNSPLASH, ter illustrasie

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!