CR die u2018proses-presidentu2019
CR die u2018proses-presidentu2019

CR die ‘proses-president’

Ramaphosa het volgens Venter sy kaarte reg gespeel, hoewel dit baie frustrasie veroorsaak het omdat mense wou hê hy moes gou sekere besluite neem.
Philda Essop - ’n Jaar nadat pres. Cyril Ramaphosa tot ANC-president verkies is, het politieke kenners hom as die “proses-president” beskryf wat ’n nuwe aanslag gebring het, maar versigtig was om nie groot besluite te neem nie.

Ramaphosa het Jacob Zuma op 18 Desember 2017 op die ANC se 54ste nasionale konferensie as ANC-president opgevolg.

Theo Venter, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit, sê een van die tradisies in die ANC is dat die oomblik as ’n nuwe partyleier verkies word, partylede hulle neerlê by sy besluite.

Ramaphosa het volgens Venter die “proses-president” geword en verseker dat sy besluite so inklusief moontlik is.

“Vinnige besluite sou eenvoudig nie gedeug het nie. As hy ’n keuse gehad het, sou Ace Magashule nie sekretaris-generaal van die ANC gewees het of Pule Mabe die woordvoerder nie. In die ANC – ongeag wie die president is – is tradisie jou groot teenstander. Dit is hoe dinge gedoen en nie gedoen word nie.”

Ramaphosa het volgens Venter sy kaarte reg gespeel, hoewel dit baie frustrasie veroorsaak het omdat mense wou hê hy moes gou sekere besluite neem.

“Hy kon gou van Supra Mahumapelo, voormalige premier van Noordwes, ontslae geraak het. Desnieteenstaande het die ANC se nasionale uitvoerende komitee vergadering ná vergadering gehou voordat hulle uiteindelik ’n besluit geneem het. Ses maande later staan Mahumapelo en ander die besluit in die hooggeregshof teë en verloor, want die regter sê ’n proses is gevolg.”

STAATSMANSKAP

Ramaphosa bring volgens Venter waardigheid en staatsmanskap na die ANC-presidensie.

“Hy praat goed, is vriendelik en lê nie die vyandigheid aan die dag wat in die laaste twee jaar deur Zuma uitgebeeld is nie.”

Hoewel hy ’n nuwe manier van dinge doen bring, is daar in sy toesprake ook ’n “ingeboude ambivalensie”, sê Venter.

“Hy sê grondhervorming sal nie voedselsekerheid en landbouproduksie belemmer nie, maar sê terselfdertyd dit moet dramaties en radikaal wees. Die ambivalensie is daar omdat hy met twee gehore praat. Hy praat in die eerste plek met sy partyvolgelinge.”

Prof. Tinyiko Maluleke, politieke ontleder aan die Universiteit van Pretoria, sê Ramaphosa het verskeie dinge na die ANC gebring.

“Nee, hy het die ANC nie herstel nie. Hy sal dit nooit op sy eie kan doen nie, maar niemand kan hom daarvan beskuldig dat hy nie probeer het nie. Hy het probeer. Een van die maniere is sy Thuma Mina-boodskap. Dit is ’n baie groot geskenk wat Ramaphosa aan die ANC gegee het wat so verdeeld en vol faksies is. Ramaphosa het ’n visie gebring wat vars is en waarskynlik die ANC uit die moeras van onbekwaamheid, swak leierskap, korrupsie en geërodeerde vertroue tussen die mense en die party gaan lig.”

TOPSES-LEIERS

Nog ’n verandering wat Ramaphosa na die ANC gebring het, is sy veldtog teen korrupsie wat nog nie afgehandel of sonder probleme is nie.

“Daar is ook vrae wat oor hom gevra moet word, nie net oor Bosasa nie, maar ook oor die teenwoordigheid van Bathabile Dlamini en Nomvula Mokonyane in sy kabinet en die ANC se topses-leiers wat wemel van teenstrydighede. Desondanks dink ek sy veldtog teen korrupsie bring nuwe moontlikhede na die ANC.”

Maluleke is nie oortuig daarvan dat Ramaphosa die tydperk van welwillendheid wat die ANC en die land hom tot Februarie bied robuus genoeg benut nie.

“Hy het baie hard probeer om eenheid in die ANC te bewerkstellig. Dermate dat Dlamini steeds in die kabinet is en Malusi Gigaba net in die pad gesteek kon word toe hy homself eintlik afgedank het. Selfs die onlangse kabinetskommeling was klein.

“As jy sy benadering wil verdedig, kan jy sê dat hy nooit ’n algemene verkiesing gewen het nie, die ANC bymekaar probeer hou en die rus nie wil versteur nie en daarom is hy so ekstra versigtig.”
– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!