Craven se Olimpiese plek nou bo twyfel

Tristan de Lange, bekend as bergfietsryer, het ook gister sy aandele met 'n sterk tweede plek aansienlik laat styg.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Dit voel ongelooflik goed om ná al sy harde werk weer die nasionale kampioen te wees, het Dan Craven gesê nadat hy gister die Nedbank nasionale padresies oor 157 kilometer gewen het.

Ondanks sy 37 lewensjare het Craven sy legendariese status in Namibiese fietsry gestand gedoen deur die nasionale padfietstitel vir die sesde keer te verower. Vyftien jaar het verloop sedert sy eerste triomf in 2005, met nog seges wat in 2006, 2008, 2016 en 2016 gevolg het. Die afgelope drie jare is hy egter naelskraap deur eers Till Drobisch, Martin Freyer en daarna die jong Alex Miller geklop.

Hy voel asof hy weer sy beste vorm soos in 2015 begin bereik, het Craven gister gesê.

“Ek is nie meer 'n professioneel gekontrakteerde fietsryer nie, om verskeie redes, insluitend tye wat ek beseer was. Daar was opofferings soos toe ek in Maart verlede jaar my swanger vrou tuis gelos het om by die Afrika-kampioenskap in Ethiopië te gaan seker maak dat Namibië vir die Olimpiese Spele kwalifiseer.

“Nou het ek weer my vrou en sewe-maande-oue baba (in die VSA) agtergelaat vir hierdie (verpligte) seleksie-resiese. Maar ek het nog altyd my familie en wonderlike mense agter my gehad. Ek ry al sedert 2012 in Nedbank se kleure – hulle ondersteun my al langer as wat ek my vrou ken.

“Die Namibiese fietsrytoneel is nie meer wat dit in my begindae was nie ... dit groei soos 'n paddastoel te danke aan die organisering van Windhoek Pedal Power en die Fietsryfederasie (NCF). Ons het so 'n lekker gemeen­skap aan die ontwikkel.”

Gister het Tristan de Lange, eintlik bekend as 'n bergfietsryer wat in 'n wedloop van sy eie teen Alex Miller gewikkel is om die enkele beskikbare Olimpiese posisie in te palm, die wenkbroue laat lig as die enigste man wat aan die voorpunt saam met Craven weggebreek het.

Die twee het deurgaans saamgewerk en het uiteindelik meer as ses minute voor die res klaargemaak. Die twee het hul finale jaagtog eindstreep toe ook vir die laaste paar honderd meter gelos, met Craven net met enkele meters te sterk.

Oor gister se resies het Craven gesê: “Tristan was só sterk en dit was so heerlik om 'n aggressiewe resies te ry en iemand te hê wat dit saam met jou doen. Ons het 'n sinergie en wedersydse respek gehad.”

Craven, wat vooraf met sy internasionale ondervinding reeds na die sterkste kandidaat gelyk het, is vas oortuig dat hy nou die keurkomitee finaal oortuig het.

“Wat op aarde kan moontlik by die Kaapstad-fietstoer (op 8 Maart, die finale uitdunresies volgens die NCF-kriteria) gebeur wat vandag se uitslag (asook sy vertoning twee naweke gelede in die Nedbank Cycle Challenge) sal uitkanselleer?

“Volgens my siening is dit onmoont­lik; jy kan die keurkomitee uitvra, maar hulle sal regtig 'n goeie rede moet hê.

“Ek het reeds 'n klomp groot planne aan die gang en ek het mense oorsee wat geloof het in die projekte waaraan ek werk. Volgens my bevestig vandag se uitslag dat hul geloof geregverdig is.

“Ek gaan nou volstoom voort vir die Olimpiese Spele. Die Kaapstad-fietstoer tel nog, maar die uitslag kan niks meer verander nie.”



TOKIO 2020

Craven het sy gevoel voor sy derde Olimpiese Spele soos volg opgesom.

“Ek was reeds by twee Olimpiese Speles; ek is 37 jaar oud; ek ry nie meer op professionele vlak nie. Ek weet wat by die Olimpiese Spele gaan gebeur.

“Die roete (in Tokio) is só moeilik dat dit bykans onmoontlik lyk vir enige Namibiese ryer om selfs die volle afstand te voltooi. Ons het laas naweek gesien hoe Victor Campenaerts (België) ons ryers oorskadu het.

“Persoonlik hoef ek nie 'n derde Olimpiese Spele te beleef nie, maar my projekte is wat saam met my na die Olimpiese Spele moet gaan.

“Julle sal dalk onthou hoedat ek by verlede jaar se Nedbank Cycle Challenge publisiteit help maak het vir die twee werkers op ons plaas by Omaruru, wat met hul eie hande fietse bou. Ek gaan die Olimpiese resies met een van hul handgemaakte fietse ry en wys dat hul produkte op daardie vlak tuis hoort. Hierdie projek dryf my reeds die afgelope 18 maande. Dit is nie vir myself nie, maar vir Namibië.”



TRISTAN VERSTOM ALMAL

De Lange het gesê hy en Craven het aan die voorpunt saamgewerk en het vroeg gesien dat die peloton hulle nie meer sou inhaal nie.

“Ek het met 'n oop gemoed kom ry om te sien waar die vlak van mededinging onder die padfietsryers is. Dit was goed, maar ek is verheug om te sien dat my fiksheid op standaard is. Ek werk al vier jaar om vir die Olimpiese bergfietsresies te kwalifiseer en met die laaste uitdunresiese wat voorlê, is ek ten volle daarop gefokus.

“Dit is altyd 'n eer om met so 'n ervare fietsryer soos Dan mee te ding. Jy kan baie leer en dit maak 'n resies pret. In die Olimpiese jaar is dit goed om te sien dat die gehalte van resiese hoog is.”

Nadat De Lange verlede naweek by die SA Beker bergfietsresies op Mankele in Mpumalanga vanweë twee pap wiele tyd verloor het en die knie moes buig teen Alex Miller (derde), was dit gister Miller se beurt om weens tegniese probleme kontak met die voorlopers te verloor.

Op die laaste van die drie rondtes na Matchless se klimme, het 'n skakel in Miller se fietsketting gebuig en moes hy lank wag vir 'n tegnikus om hom te bereik.

Vir De Lange en Miller bly nog drie NFC-kriteriumbyeenkomste op agtereenvolgende naweke oor – die Nedbank UCI veldresies in Windhoek einde volgende maand, 'n SA Beker-byeenkoms in Pretoria asook die Afrika-kampioenskap, waarskynlik in Marokko.

De Lange sê hy beskou homself nie eksklusief as 'n bergfietsryer nie. “Ek is net lief vir fietsry in die algemeen en ek hou daarvan om voluit gas te gee in wat ek ook al aanpak. Op die oomblik is my passie en prioriteit in bergfietsry, maar fietsry is fietsry en dis lekker om die manne te toets.”



DIEPTE GESOND

Drikus Coetzee het die laaste podiumposisie ingeneem deur die voorste jaaggroep se resies eindstreep toe te wen.

Hy het sodoende die bronsmedalje gevoeg by die nasionale tydtoetstitel wat hy twee dae tevore met 'n verskil van meer as elf minute gewen het

Coetzee (04:04:50) was gister met twee sekondes voor om Martin Freyer van die podium weg te hou, met Ingram Cuff, Kai Pritzen, Gerhard Mans Junior en Xavier Papo op hul agterwiele. Ondanks 'n meganiese terugslag het Miller (eerste o.23) gemaklik voor Danzel de Koe en Brandon Plaatjies as die res van die toptien elite ryers klaargemaak.

Die nasionale afrigter, Hans du Toit, is baie in sy skik met die gesonde kompetisie wat onder die voorste tiental ryers in die land heers.



VERA WEN NOMMER 7

Vir Vera Adrian was gister se oorwinning in die vroueresies oor 102 kilometer haar sewende nasionale titel.

Met die land se bergfietskoningin Michelle Vorster afwesig, was daar geen kompetisie om haar enigsins te druk nie, met Irene Steyn die enigste ander inskrywing vir elite vroue, terwyl die subveteraanvroue 'n korter afstand gery het.

Die 26-jarige Adrian het haar eerste nasionale titel in 2012 verower, waarna sy nou reeds sedert 2015 op 'n string van ses opeenvolgende titels is. Sy is ook onlangs getroud met haar jarelange vriend Konny Looser, 'n kragtige Switserse bergfietsryer.

Adrian sê: “Ek is bly ek het gewen, want dit is 'n eer om die nasionale kampioenskaptrui oorsee te gaan dra. Maar ek droom daarvan dat ons eendag twintig of veertig vroue by die wegspringstreep kan sien.”

Volgens haar is die Tokio-spele 'n sterk dryfveer as deel van haar oefen- en resiesprogram.

“My Olimpiese debuut (Rio 2016, as Afrika-kampioen) was 'n oorweldigende ondervinding. Ek hoop om dit hierdie keer beter te hanteer.

“My oefenprogram verloop sover goed ... dit was die afgelope maande nogal koud in Europa. Die hoogte bo seespieël het my vandag 'n bietjie gevang en my harttempo was nogal hoog, maar die krag was goed.

“Daar is vyf maande voor die Spele en ek oefen voluit om 'n goeie prestasie te lewer.”



KAMPIOENTRUIE

In die kategorieë wat erkenning van fietsry se wêreldbeheerliggaam (UCI) geniet en waarin Namibiese kampioentruie vir die volgende twaalf maande toegeken word, was die naweek se wenners soos volg:

TYDTOETS: Elite mans, Drikus Coetzee. Elite vroue, Melissa Hinz. Mans o.23, Dieter Koen. Junior mans, Hugo Hahn. Junior vroue: Monique du Plessis.

PADRESIES: Elite mans, Dan Craven. Elite vroue: Vera Adrian. Mans o.23, Alex Miller. Junior mans, Hugo Hahn. Junior vroue: Monique du Plessis.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!