Cuff en Liebenberg raap Weskus-titels op

Bergfietsy
Tielman van Lill
Adolf Kaure

Die tweede been van die Hollard Gravel & Dirt MTB-marathonreeks is Saterdag 15 kilometer buite Swakopmund by die Moonlight Resort beslis.

Dié byeenkoms wat as die West Coast MTB & Run bekend staan, het onderskeidelik in die hoofitem ’n 75 km-uitdaging en ’n makker 35 km-roete vir die fietsryers vir die vyfde agtereenvolgende jaar aangebied,

Ingram Cuff, wat die elite-mansafdeling gewen het, het die rekord vir die 75 km met 2 ure 29 minute en 43 sekondes op die stophorlosie verpletter. Courtney Liebenberg is beslis terug met ’n knal ná haar kniebesering verlede jaar en raap die elite-vroue-afdeling in 3:00:50 op.

Volgens Silvio Suardi, organiseerder van die gewilde byeenkoms, kan hy van indrukwekkende fietsryvertonings die afgelope naweek getuig.

“Die ontwikkeling van fietsry in Namibië is ongelooflik. Jy kan maar net na die jong ryers kyk wat tans opgang maak.

“Die roete was goed uitgelê en gemerk wat vir ’n vinnige resies gesorg het. Die rekord wat vandag gebreek is, is ’n teken van hoe vinnig die resies was,” het Suardi gesê.

Daar was vir die eerste keer ’n 14 km- en 5 km-veldwedloop wat plaasgevind het. Erick Goeieman het die mansafdeling in die 14 km met 55 minute en 56 sekondes gewen, terwyl Nicoleen Karsten met 1:09:40 eerste van die vroue oor die wenstreep gedraf het.

Suardi het ná die tyd gesê: “Ons het baie goeie terugvoering van die drawwers gekry. In geheel was dit ’n goed georganiseerde resies.”

COVID-19-MAATREëLS

Hoewel daar meer as 400 deelnemers vir die verskillende wedlope aangetree het, is alle Covid-19-maatreëls streng gevolg.

“Die wedlope is met tussenposes vir al die items begin, sodat nie meer as 100 ryers of drawwers op ’n slag weggespring het nie,” het Suardi verduidelik.

Die byeenkoms is sonder toeskouers gehou en daar was ná die byeenkoms ook geen prysuitdeling nie om te verhoed dat daar nie te veel mense op eenslag saam is nie.

“Vanjaar het ons nie die 20 km- bergfietsresies of resies vir kinders aangebied nie. Gewoonlik is die kinders se deelname ’n hoogtepunt vir die ouers. Ons het besluit om dit so te doen om die samedromming van mense te verhoed. Ons het ook die deelnemers gevra om asseblief nie hul families na die byeenkoms te bring nie,” het Suardi afgesluit.

Al die wenners sal hul prysgeld in ’n later stadium ontvang. Die derde been van die Hollard Gravel & Dirt MTB-marathonreeks sal oor twee weke in Windhoek plaasvind.

Die belangrikste uitslae

75 km (bergfiets)

Mans: 1 Ingram Cuff (2:29:43), 2 Jeane-Paul Burger (2:29:44), 3 Bergran Jensen (2:29:45).

Vroue: 1 Courtney Liebenberg (3:00:50), 2 Nina Holtrup (3:02:31), 3 Jeane Heunis (3:05:17).

14 km (draf)

Mans: 1 Erick Goeieman (55:56), 2 Pierre van Rensburg (56:11), 3 Petrus Shigwedha (59:09).

Vroue: 1 Nicoleen Karsten (1:09:40), 2 Lydia Thiel (1:13:10), 3 Inka Krafft (1:14:36). - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!