'Curriebeker 2017 sal reeds beter loop' – Jones
Die nuwe afrigter sal vir Roger Thompson, Tinus du Plessis en Jaco Engels as deel van sy breinstrust hê.
Andrew Poolman - Die Walliese afrigter Lyn Jones sien met gretigheid daarna uit om 'n taak oor te neem wat vele ander twee keer sal laat dink – die Namibiese Welwitschias in die 2017 Curriebekerreeks.
Op 'n afdag vir die nasionale rugby-oefengroep het Jones gister 'n paar media-afsprake nagekom, nadat hy Maandag in Windhoek aangekom het.
Jones was die Namibië Rugby-unie se suksesvolle kandidaat wat by John Williams oorneem, wat na afloop van verlede jaar se onsuksesvolle Curriebeker-aanslag bedank en na Suid-Afrika teruggekeer het. Die Welwitschias het in 2016 elkeen van hul 18 wedstryde met groterige tellings verloor.
Die 52-jarige Jones se vertoningslys en die eerste indrukke uit gesprekke dui daarop dat hy die regte stem kan wees om die leiding in 'n stormagtige tydperk vir Namibiese rugby te gee.
In sy speeldae was hy 'n flank vir Wallis in vyf toetse – insluitend een in Windhoek teen Gerhard Mans se span in 1993. Wallis het met 38-23 gewen nadat die toerspan rustyd nog met drie punte agter was.
Phil Davies en Wayne Proctor, wat daardie dag onderskeidelik slot en linkervleuel vir die rooi truie was, is ook die afgelope twee seisoene onderskeidelik die hoofafrigter en kondisioneringsafrigter van die Namibiese toetsspan.
“Daardie wedstryd was glad nie maklik nie. Ek onthou dat ek die hele tyd uitgeput gevoel het en wou opgooi en vir 80 minute 'n kurkdroë keel gehad het. Ons span het net-net deurgeskraap. Ons het die braai agterna en ons tyd in Namibië terdeë geniet,” was gister Jones se herinnering.
Vandat hy in afrigting betrokke geraak het, het die Wallieser 'n heel respektabele rekord opgebou waar hy ook al betrokke was.
Op papier lyk sy verowering van die Keltiese Liga (deesdae die Pro12) aan die stuur van Ospreys in 2012 na die grootste prestasie van sy loopbaan. Die Pro12 sluit die beste klubs van Ierland, Wallis, Skotland en Italië in en word in die topdrie sterkste ligas in Europa gereken, benewens die Engelse premierliga en die Franse Top-14.
Uit sy eie oogpunt beskou hy hierdie blinkste prestasie egter nie as die enigste of selfs hoogste klimaks van sy tyd as afrigter nie.
“Daar is vele maniere om sukses te meet. Dit hang baie van die omvang van die uitdaging af.
“Die vormingsjare van Ospreys was op sigself 'n sukses in 'n tyd waarin Walliese rugby ook deur huispolitiek en stryery en onenigheid geteister is ...” – 'n stelling wat uiteraard ook op die huidige Namibiese opset van toepassing is.
“Dit was baie bevredigend om betrokke te wees by 'n era waarin ons jong talent ontdek en na vore gebring het wat later die legendariese status van Shane Williams, Adam Jones en Ryan Jones bereik het. Om jong spelers se talent raak te sien en hulle 'n kans te gee om te presteer, is die rede hoekom ek afrig.”
Jones word ook geprys vir sy latere, minder skouspelagtige rol om London Welsh te help om tot die Engelse premierliga bevorder te word, wat volgens hom ook 'n groot uitdaging was.
Nog 'n “fantastiese herinnering” was toe hy 'n Britse skool in Abu Dhabi vir twee jaar afgerig het, wat ook goeie hoogtepunte opgelewer het, soos om die skolekompetisie by die Dubai Sewes te wen.
CURRIEBEKER
Jones het nie illusies dat sy voorganger 'n moeilike taak in die Curriebeker gehad het nie.
Namibië is immers nie een van die spanne aan die bopunt van die piramiede nie en om boonop vir bykans die helfte van die seisoen (die vensterperiode vir toetsrugby in Junie en Julie) sonder die “beste helfte” van jou spelersgroep te wees, is 'n formidabele uitdaging.
Jones, in samewerking met die res van die nasionale afrigterspanne, het 'n paar idees om sake vir 2017 se aanslag anders te organiseer.
Hy beklemtoon dat deelname aan 'n kompetisie van die gehalte van die Curriebeker van groot waarde vir die ontwikkeling van Namibiese rugby is in die oorgang van junior rugby tot op toetsvlak.
“'n Mens moet iewers begin. Laasjaar was nie baie goed nie, maar dit behoort vanjaar beter te gaan en volgende jaar nóg beter. Ons sal aanhou groei – solank ons eensgesind bly en as 'n groep in dieselfde rigting beweeg.
“As ons aanhou om 'n bietjie meer professioneel te word en 'n bietjie meer begrip in ons spel op te bou, sal ons jaar vir jaar beter word. Uiteraard is die einddoel 'n sterk nasionale span as die vertoonvenster van die land. Ons almal onthou hoe sterk die landstrots was toe Namibië by die 2015 Wêreldbeker hul lywe hou vir hou op die spel geplaas het teen Nieu-Seeland se All Blacks.”
DEURLOPENDHEID
Die plaaslike ondervinding van afrigters soos Roger Thompson sal vir Jones van kritieke waarde wees.
“Roger verrig uitstekende werk aan die stuur van die Namibiese Rugby-akademie en help ook vir Phil Davies as die nasionale verdedigingsafrigter. Hy maak opgang in die wêreld van afrigting en ek maak baie op hom staat totdat ek my voete hier gevind het.”
Jaco Engels, die uitgetrede stut van Namibië en die Blou Bulle, en Tinus du Plessis is ook toevoegings tot die breinstrust van die voorspelerspel. Du Plessis is met 53 toetse vir Namibië die gesamentlike nasionale rekordhouer, gelyk met Eugene Jantjies.
By die Rugby-akademie is PD Stoman en die oudvleuel Sergio de la Harpe ook sentrale figure om die spelers se lywe vir die nuwe seisoen in iets beter te omskep.
Die Curriebeker sal na verwagting op die eerste naweek in April begin en tot dan sal heelwat van die harde werk gedoen word om te verseker dat die Welwitschias as 'n fikser, sterker, beter georganiseerde eenheid as verlede jaar kan uitdraf.
“Die spelers se huidige vlak is 'n mengsel van spelers wat reeds op 'n goeie vlak van fiksheid en ervaring is en ander wat nog aandag verg om op die verlangde standaard te kom,” sê Jones.
“Ons moet spelers leer hoe om te wen. Dit gebeur nie per ongeluk nie; ons moet doelbewus daaraan werk. Ons soek die beste spelers met wie ons vorentoe kan beweeg en wat ambisie het om vir die nasionale span te speel.”
Jones is vir een jaar aangestel, met die opsie om daarna weer te onderhandel.
Oor die langer termyn is sy strewe om by te dra tot die beplanning om die struktuur van Namibiese rugby vir die toekoms te versterk deur sy jarelange ondervinding aan plaaslike afrigters oor te dra.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie