Cyril se sege 'versigtig optimisties' verwelkom
Politieke redaksie
Die atmosfeer vroeg Maandagaand in Suid-Afrika toe die uitslag van die ANC se leierskapverkiesings by Nasrec in Johannesburg bekend gemaak is, was byna net so positief soos toe dié land in 1995 die Rugbywêreldbeker gewen het.
“In Pretoria waar 'n groep vriende saam was vir ete is selfone dikwels uit die sakke gehaal om vinnig aanlyn te kyk wat die jongste nuus vanaf Nasrec is,” laat weet Estelle de Bruyn, politieke redakteur van Republikein.
“Tussen die hoofgereg en nagereg kom die nuus: Mnr. Cyril Ramaphosa het geseëvier en is die nuwe president van die ANC. Die glase is geklink en buite in die strate kon 'n mens hoor hoe jubelende motoriste toeters blaas.”
Ramaphosa is een van die Suid-Afrikaanse politieke arena se ou stalperde.
Hy was die ANC se hoofonderhandelaar in die aanloop tot die aanvaarding van die nuwe Suid-Afrikaanse grondwet en die land se eerste demokratiese verkiesing in 1994.
Nadat hy deur pres. Nelson Mandela oor die hoof gesien is vir visepresidentskap en mnr. Thabo Mbeki die verkose adjunk was, het Ramaphosa enige kabinetspos van die hand gewys en hom tot die sakewêreld gewend waar hy een van die stigters van Bidvest was.
Koerante in die buurland was gister versigtig optimisties oor Ramaphosa se verkiesing, veral oor die Suid-Afrikaanse rand se uitstekende vertoning teenoor ander internasionale geldeenhede.
Tog is die naelskraap oorwinning wat hy behaal het en die feit dat drie van die topses lede in die ANC uit die Zuma-kamp kom, 'n aanduiding van die verdeeldheid in die party.
Gert van der Westhuizen, spesialisverslaggewer by Netwerk24 in Suid-Afrika, wat die afgelope naweek die ANC se 54ste konferensie bygewoon het, sê die algemene gevoel onder ontleders in die buurland is dat Maandag se uitslag 'n eenheidstem in die diep verdeelde party was.
“Die afgevaardigdes het gestem in 'n poging om eenheid te behou. Die probleem is egter dat mnr. Ramaphosa 'n gevangene gaan wees van die drie topleiers in die Zuma-kamp, want dit bring mee dat die topses poste binne die ANC reg in die middel verdeel is.”
Hy meen die volgende belangrike uitslag sal die verkiesing van die lede van die nasionale uitvoerende komitee wees.
Dit is die hoogste beleidmakende liggaam van die ANC.
“Dié samestelling gaan net so belangrik wees. In hierdie stadium is die verwagting dat die patroon van 'n eenheidstem voortgesit sal word,” het Van der Westhuizen gister telefonies uit Pretoria verduidelik.
“Baie mense in Suid-Afrika het weer hoop en sê Ramaphosa sal beter wees vir die ekonomie. Die feit dat Zuma weg is, maak mense klaar gelukkiger. Die groot vraag is net: Gaan dit genoeg wees?”
Die nasionale uitvoerende komitee is soortgelyk aan Swapo se sentrale komitee. Hoe meer lede uit die Zuma-kamp hierop verkies word, hoe moeiliker gaan dit vir Ramaphosa wees om sy mandaat uit te voer en die ANC voor die volgende verkiesing in 2019 reg te ruk.
GEINGOB
Die Namibiese staatshoof, dr. Hage Geingob, het binne minute nadat die uitslag bekend geword het, vir Ramaphosa gelukgewens met sy verkiesing tot president van die ANC.
Hy het in dieselfde asem mnr. Jacob Zuma lof toegeswaai vir sy “voorbeeldige leierskap” van dié party die afgelope 10 jaar.
“Hy het deurentyd waagmoed, lojaliteit, geduld en 'n volwasse temperament getoon, en die grondslag gelê vir die voortgesette groei en gewildheid van die ANC,” het Geingob in sy boodskap gesê.
Aan Ramaphosa het hy gesê hy kan enige tyd op sy knoppie druk wat politieke kwessies of sake van gemeenskaplike belang betref.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie