D-dag vir Air Nam se lisensie
Ronelle Rademeyer - Air Namibia het tot middernag tyd om redes aan te voer waarom die Vervoerkommissie van Namibië nie sy statutêre plig moet uitvoer en die nasionale redery se lugdienslisensie opskort nie.
Air Namibia se lugdienslisensie kan ingevolge die Lugdienswet, wet 51 van 1949, gekanselleer of opgeskort word indien die kommissie voel nasionale sekuriteit is in die gedrang, of lugvaartwette word nie nagekom nie.
“Die Vervoerkommissie van Namibië is bewus van die uitdagings wat deur Air Namibia ervaar word en is in noue verbinding met die redery.
“Ons wag tans vir terugvoering ná kommunikasie in dié verband aan die redery gestuur is,” het die kommissie se voorsitter, me. Eldorette Harmse, einde Oktober aan Republikein verduidelik.
Sy het gister telefonies bevestig Air Namibia se tyd hiervoor loop uit, aangesien 15 November as sperdatum gestel is.
Die lugdienswet bepaal die kommissie mag enige tyd ’n redery se lisensie kanselleer of opskort vir so lank as wat nodig is indien die lisensiehouer só optree dat Namibië se nasionale sekuriteit in die gedrang is.
Dit kan ook gedoen word indien die redery die voorwaardes van dié wet of enige ander lugvaartwet oortree, of nie by die voorwaardes van sy lugdienslisensie hou nie.
Die wet bepaal egter die kommissie moet die lisensiehouer kennis gee van sy voorneme om tot dié drastiese stap oor te gaan, waarná die lisensiehouer redelike tyd moet hê om dit teen te staan en redes te gee waarom dit nie moet geskied nie.
Mnr. John Mutorwa, minister van werke en vervoer, het gister in reaksie hierop gesê die Vervoerkommissie is Dinsdag tydens ’n vergadering van alle belanghebbendes versoek om toegeeflik te wees in die toepassing van die sperdatum wat aan Air Namibia gestel is.
“Ons verstaan die Vervoerkommissie se posisie, maar die finale besluit oor Air Namibia se toekoms is nog nie geneem nie. Daarom het ons hulle gevra om toegeeflik te wees met die sperdatum,” het Mutorwa gesê.
Die minister van finansies, mnr. Calle Schlettwein, het vroeër vanjaar vier toekomsopsies in ’n ontledingsdokument oor die onvolhoubaarheid van Air Namibia aan die kabinetskomitee op tesourie voorgelê.
Daarvolgens het die nasionale redery die opsie om voort te gaan soos nou en die belastingbetaler die volgende drie jaar ’n verdere N$3,5 miljard te kos, of om ’n valskermplan te ontplooi waarin die regering N$2,5 tot N$3,3 miljard in Air Namibia pomp.
Plan nommer drie is ’n nuwe sakeplan en -strategie van N$4,1 miljard, en opsie vier is om Air Namibia te likwideer en ’n nuwe redery te begin wat net winsgewende plaaslike en streekroetes bedien.
As die regering op laasgenoemde opsie besluit, sal die finansiële verliese tot sowat N$2,5 miljard beperk kan word, sê Schlettwein.
Sy dokument toon die regering het in die 20 jaar tussen 1999 en 2019 ’n onvolhoubare N$8,3 miljard in die nasionale rederye gepomp.
Dit was die afgelope maande mnr. Leon Jooste, minister van staatsondernemings (SOE’s), en sy span se taak om in fyner besonderhede na hierdie opsies te kyk en aanbevelings te maak.
Hy het in reaksie op ’n WhatsApp-navraag oor hoe die proses vorder, gesê die kabinetskomitee op tesourie sou dié aanbevelings verlede week bespreek het, maar dit moes weens die gebrek aan ’n kworum uitgestel word.
’n Nuwe datum hiervoor is nog nie bepaal nie, sê hy.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie