D-dag vir alle adrenalienverslaafdes
D-dag vir alle adrenalienverslaafdes

D-dag vir alle adrenalienverslaafdes

Al die klasse behoort hoogs mededingende kompetisie op te lewer.
Tielman van Lill
Tielman van Lill



Spanning en opwinding is aan die oplaai vir die 50ste Total Tara-tydren oor 21 sneldele en die ure word afgetel voordat 30 senuagtige spanne vanmiddag om vyfuur in Swakopmund wegspring en Saterdag in Windhoek eindig.

Ongekende belangstelling is bereik met die bekendstelling van die 2018 Total Tara-tydren wat deur Windhoek Motorklub en Vriende in samewerking met Walvisbaai Motorklub aangebied word. Die uitmergelende tydren word opnuut oor drie dae afgelê en bied die uitdaging aan jaers en navigators om 210.6 km se supersneldele effektief en veilig af te lê.

Afgesien hiervan moet jaers en hul diensspanne tussen sneldele groot afstande ry en dit maak die totale afstand in vanjaar se Total Tara nog langer. Op dag een word 73.65 km gery, terwyl dag 2 en 3 onderskei­delik 373.53 km en 73.9 km beslaan wat 'n groottotaal van 521 km gee.

Een van die “ou manne” van Tsumeb wat die Tara twee keer gewen het (1999 en 2006), het besluit om sy gewig agter die gees en kameradie van die Tara in te gooi. Die legendariese 58-jarige Richard Himmel wat sy eerste oorwinning saam met Adolf Botes in 'n Toyota Conquest gevier het, het sewe jaar later in 'n Corolla weer so saam met Botes gemaak.

Himmel se deelname vanjaar is nie weer in 'n “sedan” nie. Hy en die einste Botes staan vandag gereed om die jonger garde in 'n V8 4x4 Toyota Dakar-bakkie 'n ding of twee in die Veldren-afdeling te wys waar die spanne vir hul eie Tara-titel meeding.

Windhoek Motorklub vier vanjaar sy 60ste bestaansjaar en te midde van die Tara se 50 goue jare het Namibiese jaers veral vanaf 1982 tot 1991 'n goue dekade beleef. Dié byeenkoms is vir tien jaar agtereenvolgens deur Namibiërs ingepalm en is eers weer in 1992 deur Johan Evertse van Suid-Afrika in 'n VW Golf Syncro ingepalm.

Mnr. Naftal Kakwambi, besturende direkteur van Total Namibië, is ewe opgewonde oor dié borg se betrokkenheid by die Total Tara.

“Total se besluit om by die 50ste Tara betrokke te raak, is gebaseer op die lang en suksesvolle verhouding wat ons oor die jare met dié elite byeenkoms gehad het.

“Total is die nommer een brandstofverskaffer in Afrika en beskou motorsport as die ideale platform om sy taai produkte te vertoon. Total het die Tara-tydren vir 35 van die 50 jare geborg en dis geen wonder mense verwys nog altyd na die Total Tara nie.

“In die afgelope 49 jaar het Suid-Afrikaners 23 keer gewen, terwyl die Namibiërs nog met 26 oorwinnings voorloop.

“Ons sien uit na topklas mededinging in 'n uitstaande byeenkoms, wat van die meeste inskrywings in baie jare het. 'n Spesiale welkom aan die veterane. Julle moet dit geniet en onthou, veiligheid kom eerste,“ het die grootbaas van Total gesê.

Watter klas die mees mededingendste gaan wees, is debatteerbaar. Een kandidaat is die S3-klas waar al die deelnemers se monsters in die S2000-afdeling met 4x4-aandrywing spog. Die topspoed is gewoonlik nie meer as 180 km/h nie, maar die motors is blitsvinnig deur draaie en versnel geweldig vinnig.

Die manne wat in die S4-klas jaag se 4x4-Subarus is almal tweeliter turboaangedrewe sneltreine wat gemaklik topsnelhede van 240 km/h kan haal. Ongelukkig vir hulle is die langer en effens swaarder Subaru's nie so rats deur die draaie nie en sukkel om by die S3-jaers deur die kort knikke en draaie te hou.

Enige van die vier spanne in die S3-klas kan die tydren wen, maar met Japie van Niekerk (driemalige kampioen) uit Suid-Afrika hier om 'n punt te bewys en Wilro Dippenaar wat ook vir sy derde Tara-titel mik, sal die ander jaers in die S3- en S4-klasse hul staal moet toon.

Alan Martin van Walvisbaai (S3 VW Polo) en Jaco Redelinghuys (S3 Toyota Yaris) het die regte temperament en voertuie om die Tara én hul klas te kan wen, maar Richard Slamet se blitsige Subaru Impreza STi het verlede jaar gedreig om die S4-manne op hol te jaag en sy aanslag op die kroon kan nie buite rekening gelaat word nie.

In die veldren se A-klas sal Jaco van Dyk uit plaaslike bodem beslis nie vir Hennie de Klerk uit die RSA terugstaan nie. Hoewel Stefan Labuschagne se 3.9 liter V8 Land Rover teen die groter Dakar-bakkies van De Klerk en Van Dyk moet meeding, kan hy beslis met sy bestendigheid sy stempel afdruk.



DIE SPANNE

Aangedui met bestuurders eerste en navigators tweede, asook voertuignommers.

S1-klas (1600 cc-enjins, voorwiel- en agterwielaangedrewe): 79 Pieter Greeff en Nola Louwrens (Mohatu Seal Consulting Engineers Toyota Corolla). 6 Peer Rhöm/Cecil Koorts (Gunite Pools Toyota Auris). 1SA Guy Bottrill/Simon Vacy-Lyle (Toyota Etios). 29 Jay-Dee Kessler/JP Robinson (Toyota Conquest).

S2 (1600-2000 cc, voorwiel/agterwielaangedrewe): 23 Jan Everson/Fan Botes (Seal Consulting Engineers VW Polo). 12 Hanré Myburgh/Kurt Hartung (VW Polo). 13 Willem Oosthuizen/Johan Oosthuizen (Ford Saphire). 24 Etienne van den Heever/Willy van Wyk (Toyota RunX). 2 Jannie Coetzee/George Coetzee (Compass Walvis Bay VW Polo). 20 Tinus Malan/Paul van Niekerk (Toyota MR2). 44 Francois Louw/De Wet du Plessis (VW Polo). 68 Issai Ndinga/Hilarius Amatunda (Toyota Corolla). 18 Gert Coetzee/Hugo Arangies (VW Golf).

S3 (2000-3000cc, 4x4-aandrywing): 107 Japie van Niekerk/Gerhard Snyman (NAD Ford Fiesta S2000). 3 Allan Martin/Maretha Olivier (J&P Hydraulics VW Polo S2000). 502 Wilro Dippenaar/Riaan van der Westhuizen (Shell V-Power Toyota Auris S2000). 1 Jaco Redelinghuys/Dries Booysen (Gobabis Toyota Yaris S2000).

S4 (Meer as 3000cc, 4x4-aandrywing): 98 Richard Slamet/Wiets Coetzee (I-S Freight Services Subaru Impreza 2L Turbo). 15 Riaan Olivier/Mandi Hugo (Subaru Impreza 2L Turbo). 129 Oswaldo Mendes/Kes Naidoo (Subaru Impreza 2L Turbo). 22 Rolf Pretorius/Kai Pretorius (Subaru Impreza 2L Turbo).

VELDREN (OR)

OR A (5000cc en groter, 4x4-aandrywing): T18 Hennie de Klerk/Hendrik Botes (Dakar VW Amarok). 45 Jaco van Dyk/Micel Rust (Dakar Nissan Navara). 35 Stefan Labuschagne/Lappies Labuschagne (Gobabis Auto Truck & Tractor Land Rover).

OR D (kleiner as 4000cc, 4x2- of 4x4-aandrywing): 43 Bertie Smit/Riaan Hennop (BSCS Mazda Magnum 4x2). 418 Johhny Clift/Derick Clift (Toyota Hilux 4x2). 78 Jacques Kryger/Roche Louw (Toyota Hilux). 150 Karl-Heinz Pretorius/Katja Pretorius (Mitsubishi Pajaro). 33 Wido Bartch/Marius Rudolf (Ford Courier). 5 Richard Himmel/Adolf Botes (Atlas Copco Dakar Toyota Hilux).

Kommentaar

Republikein 2024-11-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 39° Rundu: 24° | 36° Eenhana: 22° | 34° Oshakati: 24° | 32° Ruacana: 22° | 32° Tsumeb: 22° | 31° Otjiwarongo: 20° | 29° Omaruru: 22° | 35° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 22° | 31° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 24° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 23° | 36° Aranos: 23° | 37° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 22° | 37° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 23° | 31° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 17° | 31° Maseru: 14° | 29° Antananarivo: 15° | 32° Lilongwe: 21° | 31° Maputo: 22° | 34° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 18° | 25° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 26° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 22° | 34° Harare: 20° | 33° #REF! #REF!