DA wil met Zille skik
'n Interne peiling wys die Twitter-storm kan die DA in Suid-Afrika 50% van sy swart steun kos.
Politieke Redaksie - Die helfte van die DA se swart kiesers heroorweeg hul steun aan die party weens die kolonialismetwiets van Helen Zille, Wes-Kaapse premier.
Meer as die helfte van swart kiesers wat dalk in 2019 vir die DA sou gestem het, is boonop deur die Twitter-storm afgeskrik.
Dít blyk uit peilings deur die DA wat aan Rapport uitgelap is.
Zille is Woensdag uit alle DA-strukture geskors hangende die uitslag van 'n interne tugproses, maar dit is gisteraand aan Rapport bevestig dat die party “hard probeer” om 'n skikking met haar te bereik.
So 'n skikking is die afgelope week byna bereik en sou behels dat Zille aanbly as premier, maar haar poste in DA-strukture prysgee.
In dieselfde DA-peilings is bevind dat Zille steeds groot steun onder wit kiesers het, maar die gewildheid van Mmusi Maimane, DA-leier, het haar selfs onder dié kiesers in Maart verbygesteek.
“Pogings is Vrydag hervat om 'n skikking te bereik. Maimane het haar vroeër gevra om te bedank as premier, maar is nou gretig om te skik in die belang van die party en die land,” het Rapport verneem.
Die twis oor hoe die DA Zille behoort te hanteer, het reeds daartoe gelei dat wyke in Pretoria, waar die DA groot vordering gemaak het in verlede jaar se munisipale verkiesing, die afgelope week besluit het om telefoniese werwingswerk en straatwerwing met die oog op die algemene verkiesing in 2019 te staak.
'n Senior DA-leier in Gauteng het aan Rapport gesê die party se projeksies toon hy kan Gauteng in 2019 by die ANC afneem, maar net as die Zille-kwessie “reg hanteer word”.
Die DA sal sowat 1 miljoen nuwe stemme in Gauteng moet bykry om in 2019 hier te wen, waarvan sowat 700 000 uit die swart gemeenskap sal moet kom.
Terselfdertyd sal die party byna geen steun in sy tradisionele basis mag verloor nie.
In Pretoria sal DA-steun moet verdubbel.
Adv. Kate Prinsloo, 'n veteraan in die DA en raadslid van wyk 56, wat insluit Muckleneuk, Brooklyn en Colbyn in Pretoria-Oos, sê haar tak het die afgelope week 'n besluit aanvaar om op te hou met telefoonwerwing en straatwerwing weens die negatiewe uitwerking wat Zille se tugverhoor het.
“Dit is 'n moeilike tyd om interaksie met kiesers te hê en daarom het ons besluit om 'n lae profiel te handhaaf.
“Die Zille-aangeleentheid is sensitief. Ons het nie op die meriete van die Zille-saak ingegaan nie, maar het ooreengekom dat dit nie nou die regte tyd vir werwingswerk is nie.
“Ander takke in Pretoria het soortgelyke besluite geneem. Ons het gehoop die tugverhoor sal afgehandel wees teen die tyd wat die volgende takvergadering oor 'n maand gehou word, maar dit lyk nou nie asof dit só gaan uitwerk nie,” sê Prinsloo.
Die regspanne van die twee kampe het Vrydag ooreengekom dat Zille se tugverhoor op die vroegste op 30 Junie kan begin, mits alle blootleggings teen daardie tyd afgehandel is.
Bridget Masango, DA-parlementslid en kiesafdelingsleier in Kungwini naby Bronkhorstspruit, stem saam dat DA-lede ongeduldig raak oor die Zille-sage.
“In my kiesafdeling wens ons werwers die saak kan afgehandel word sodat hulle kan begin werk aan die verkiesingsveldtog. Hulle kan nie eintlik vir die 2019-veldtog begin voorberei terwyl die saak voortsleep nie,” sê Masango.
Zille het haar skorsing die afgelope week aan “wraaksugtigheid” toegeskryf omdat sy weerstand gebied het teen pogings om haar voortydig te laat skuld beken daaraan dat sy die party in oneer gebring het, luidens haar skriftelik vertoë. Haar vurigheid het gister weer die oorhand gekry.
“Ek het een van hulle nodig,” het sy getwiet by 'n foto van 'n betoger wat 'n kaktus vol dorings rondswaai.
In die peilings is bevind die party kan herstel van die skade wat die Zille-twis aanrig, mits hy dit reg hanteer – iets wat min mense selfs binne die party glo kan gebeur.
“Daar moes harder probeer word om die saak met Zille te probeer skik voordat dit uitgeloop het op 'n tugproses en op die besluit om haar te skors. Daar is goeie rede om te glo die skade is nou reeds erger as toe die peilings gedoen is,” het 'n senior DA-LP aan Rapport gesê.
James Selfe, voorsitter van die DA se federale raad, het aan Hanlie Retief gesê 'n tugverhoor sou nie nodig gewees het as Zille nie aangehou het om haar stellings in die media te probeer regverdig nie.
“Die ergste was haar artikel in die Daily Maverick waarin sy nie net die twiet geregverdig het nie, maar boonop die party aangeval het,” het Selfe gesê.
“Ons het die steun van swart Suid-Afrikaners nodig om ons doelwitte in 2019 (beheer van minstens nog een provinsie soos Gauteng en 'n sterk alliansievennoot in 'n nuwe nasionale regering) te behaal,” het Rapport se bron gesê.
Maimane het eise die afgelope week van Julius Malema, EFF-leier, dat die DA van Zille ontslae moet raak as hy wil staatmaak op die EFF se steun in die Tshwane-stadsraad en in Johannesburg, as “skynheilig” afgemaak, berig Jacob Rooi.
“Niks het gebeur toe Malema self gesê het wit mense moet 'nog nie' doodgemaak word nie,” het Maimane gesê. Hy het daarop gewys dat die twis met Zille ook gaan oor die benadering tot ras en die rigting wat die party daaroor moet inslaan met die oog op die verkiesing in 2019.
'n Senior DA-leier op nasionale vlak het gisteraand gesê 'n skikking met Zille is noodsaaklik.
“Ek hoop van harte die een of ander skikking kan bereik word. Ek dink dis absoluut noodsaaklik. Ons staan hier in 'n verloor-verloor-situasie. Dis nie net sleg vir die DA wat steun kan verloor nie, maar ook vir die hele land. Die ANC is besig om ons net dieper en dieper in 'n gat te grawe.”
- Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie