'Daai gevoel van tuis wees'

Haar hart het nog altyd gehunker na die kunste - van toe sy by elke familie-affêre op 'n boksie moes staan en “Mother of Mine” moes sing, sê die Namibiese boorling, aktrise en sopraan Zenobia Kloppers.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht



Sy het “singend uit my ma se baarmoeder gekom” en het kleintyd al almal aangetree om konsert te hou.

Zenobia Kloppers dra vele hoede en het al haar buiging as aktrise op die verhoog, televisie en in rolprente gemaak, is sopraan, skrywer van toneelstukke en gidse, entrepreneur en uitgewer, en 'n stemkunstenaar vir onder meer radio. In September is sy op die silwerdoek met haar vertolking van die geliefde Fiela Komoetie in Fiela se Kind.

Republikein het gaan uitvind waar lê haar liefdes en haar laagtes.



1. Vertel meer oor jou grootwordjare in Namibië.



Ek het grootgeword in Windhoek. Skoolgegaan by die Primêre Skool Gammams en toe by die Holy Cross Convent en St. Paul's College. Ek was eintlik 'n bietjie van 'n introvert en het baie van my tyd aan lees spandeer. Ek was stil en ­teruggetrokke aan die een kant en geweldig uitspattig aan die ander kant. Ek het 'n groot familie wat almal baie liefde en ondersteuning gebied het en steeds bied.



2. Die saadjie vir perform, hetsy met sang of drama, was dit iets wat van kleins af daar was? Wat het dié saadjie laat ontkiem tot 'n behoefte om in die rigting te gaan studeer?



Ek was maar altyd 'n klein aktrise en sanger.

Ek sê altyd vir mense ek het singend uit my ma se baarmoeder gekom! Ek en my broers het ons altyd so ingeleef as ons 'cowboys en crooks' speel en ek was altyd die een wat almal ingespan het om konsert te hou.

Beide my ouers, Andy en Alfreda, is baie musikaal en vreeslik lief vir sing. Ek was maar van kleins af die sanger in die familie en moes omtrent by elke familie-affêre op 'n boksie staan en 'Mother of mine' sing - of dit nou Moedersdag was of nie! As kinders het ons altyd ou Pat Boone-liedjies saam met my ma in die kar gesing. My ouers was lief daarvoor dat ons 'He touched me' as familie saamsing, met my pa of ma wat ons begelei op klavier. Die saadjie was maar altyd daar. Ek het eers in 'n ander rigting studeer sodat ek iets kan hê om op 'terug te val', maar my hart het maar altyd ­gehunker na die kunste.



3. Kan jy jou eerste buiging op 'n verhoog onthou? Was daar senuwees en was die gevoel 'ek hoort hier' toe reeds daar?



Ek onthou die Japannese meisie wat ek gespeel het in standerd 3, maar die uitstaanrol was Jesus in suster Arnolda se verhoogstuk oor Jesus se kruisiging. Ja, die gemak was altyd daar - daai gevoel van tuis wees ten spyte van die voorafgaande senuwees.



4. Jou studies het gefokus van opera tot drama tot publieke ­administrasie. Waarom die besluit op ­publieke ­administrasie?



Die publieke administrasie was eintlik so half per ongeluk.

Ek was besig met 'n Bachelors of Social Science (BSocSci)-graad aan die Universiteit van Kaapstad sodat ek ná my graad 'n LLB kon doen om prokureur te word. Maar ek het gevoel asof ek gaan verdrink as ek regte moes gaan swot. Toe ek my kursus moes aanpas in 'n ander rigting was publieke administrasie een van my hoofvakke, aangesien ek politiek, tale en mens­like hulpbronne geswot het tydens my eerste graad. Ek het dit nogal geniet om te leer hoe die staatsdiens aanmekaar gehou word, maar dit was nooit my passie nie.



5. Jy het reeds op verskeie mediums gewerk en wat wissel van radio tot verhoog. Is daar 'n gunsteling en waarom?



Op die oomblik is film my gunsteling.

Ek het reeds baie werk gedoen op die verhoog en radio en veel minder in die filmbedryf. Film is dus 'n wonderlike 'nuwe' medium vir my. Die reëls is anders in terme van waar jy jou energie en fokus moet plaas.



6. Hoe klim jy in 'n karakter en maak dit joune?



Ek analiseer die teks deeglik en kyk na ­verhoudings, karaktereienskappe ensovoorts.

As daar 'n roman of meer inligting oor die karakter of hul ruimte is, dan lees ek dit ook. Dis belangrik om die karakter se 'reis' te verstaan en 'n plot-lyn te trek van hoogtepunte. Ek doen ook graag ondersoek oor die ruimte waarin die storie afspeel en probeer altyd om eenderse ruimtes te besoek. Elke karakter vereis 'n effense ander benadering. Ek is nogal lief daarvoor om die karakter se emosionele wêreld te ondersoek deur vooraf dele van die teks op verskillende wyses uit te speel om sodoende die karakter beter te leer ken. Vir ander karakters is hulle dadelik net 'daar', so mens hoef nie te ver te gaan om dit te vind nie. Dis natuurlik belangrik om jou woorde baie goed te ken, want dan is dit makliker om te speel, veral as die regisseur jou vra om van rigting te verander.



7. Is daar 'n gunstelingrol wat jy graag nog sal wil vertolk en waarom?



Op die oomblik is daar nie iets spesifiek nie.

Fiela was altyd een van my gunstelingrolle. Die feit dat ek die rol op verhoog en in die film kon vertolk, is 'n droom wat bewaarheid is. Ek loop nog effe op die wolke daaroor. Ek is tans eintlik oop vir enig­iets en wil bitter graag weer bietjie sing, opnames doen en konsert hou.



8. Vertel meer oor jou Afrikaanse ­opvoedkundige uitgewersrol, SeiKlo Publishers.



Ek en 'n vriendin het die besigheid 'n paar jaar terug begin.

Ons het jare terug deur die Wes-Kaap met skoleproduksies getoer waar ons die voorgeskrewe werke vir skole opgevoer het. As deel daarvan het ons notas vir die onderwyser opgestel en 'n praatjie gedoen oor die werk. Die notas het gegroei tot boeke en volledige ontledings van die voorgeskrewe letterkunde. Een van my neefs het ons ondersteun om 'n maat­skappy te stig en die boeke te publiseer. Dis harde werk om te skryf, maar geweldig bevredigend.



9. In Fiela se Kind maak jy jou buiging op die grootdoek as Fiela Komoetie. Watter eienskappe is dit van Fiela wat jou na aan die hart lê en waarmee jy kan vereenselwig?



Fiela se krag en deursettingsvermoë, sy is nogal hardkoppig.

Die grootste ding wat haar dryf, is die feit dat sy 'n belofte gemaak het aan Benjamin dat sy hom nie 'sal laat vat nie'. Sy is nie iemand wat haar beloftes breek nie. Dit, sowel as haar liefde vir hom, is wat haar dryf om nie op te gee nie. Ek het ­geweldig respek vir die feit dat sy aanhou veg vir haar familie.



10. Is dit vir jou maklik om van 'n ­karakter 'ontslae' te raak nadat die opvoering/uitvoering voltooi is of gaan sit hulle dikwels in jou klere?



Sommige karakters is makliker om van ontslae te raak as ander.

Ek het vir drie jaar Dina gespeel in David Kramer en Taliep Petersen se musiekblyspel Ghoema. Die gevolg daarvan is dat ek 'n Kaapse aksent ontwikkel het wat baie lank geneem het om my te los. Fiela het ook vir 'n rukkie gebly, ek was vir 'n wyle nogal 'bossy'. Ja, dit vat soms 'n rukkie om van die karakter se karaktertrekke ontslae te raak, want mens bou mos die karakter deur ietsie van jouself te gebruik en dit te weef in iets anders.



11. Jy hou verskeie balle in die lig van akteur tot uitgewer. Hoe hou jy jouself en dit om jou in balans?



Dis soms nogal moeilik, maar die belangrikste is om nie te veel aan te pak nie.

Ek moet soms produksies van die hand wys as 'n boek moet klaar. Gelukkig het ek 'n wonderlike vennoot wat die fort hou as ek op stel moet wees.



12. Wie is Zenobia as sy by die huis is tussen dit wat hare is – verskil sy baie van Zenobia buite die huis en in die openbaar?

Ek is eintlik maar dieselfde oral waar ek gaan.

Dalk stiller by die huis aangesien ek nogals 'n introvert is. Ek hou baie van lees en sal dikwels ure stilsit en lees wanneer daar tyd is daarvoor.



13. Skuil daar in jou 'n drama of dalk 'n boek, 'n storie wat jy graag sou wou vertel? Hoekom sal jy dit juis wou vertel?



Ek sou baie graag die storie van my voorouers wou vertel.

My pa se ma, Richardine Kloppers (nee Poulton), het 'n veelrassige skool onder 'n boom tydens die Apartheidsjare begin. Ek dink dit moes baie moed gekos het om destyds as bruin vrou verder te gaan studeer en toe boonop 'n ­veelrassige skool te begin. Toe ontmoet sy boonop 'n kordaat, vuur-en-vlam onderwyser uit die Kaap, Andrew Kloppers, wat bestem was om ook nét sulke diep spore in ons land te trap.

En dan natuurlik die interessante geskiedenis van my ma se familie, die Sonns, waarvan Percy Sonn en Franklin Sonn seker die meeste uitstaan. Maar my ma se ma se storie het die meeste bekoring – die blou-oog 'Roos van Saron'. Daar is so baie stories om nog te vertel. Voor sosiale media was daar nie 'n manier om maklik ons stories en verbintenisse te vertel nie. Wie het rekord gehou?



14. Wat is die beste raad wat jy as ­performer al ontvang het?



Moenie bang wees om kanse te vat met jou vertolking nie.

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer