Daar is nog hoop vir vermiste sokkerspan
Reddingswerkers van China en Australië het aangesluit by die soektog na die jong sokkerspan en hul afrigter wat in die Tham Loeang-grotte in Thailand vermis geraak het, berig CNN. Die duikers glo ook hulle is nader aan ’n plek waar hulle dink die groep moontlik skuil. Die internasionale reddingsoperasie, wat meer as 1 000 mense van die Thaise nooddienste insluit, saam met lede van die Amerikaanse weermag en Britse grotduikers, het hul pogings opgeskerp sedert die 12 seuns en hul sokkerafrigter (25) op 23 Junie in die grot in die noorde van Thailand vermis geraak het. Die New York Times berig die redders het groot pompe gebruik om die watervlakke te verminder vir die duikers om toue en suurstofsilinders langs die roete te sit. Dit was die meeste vordering wat in dae gemaak is in die massiewe poging om die vermiste seuns, tussen 11 en 16 jaar, en hul afrigter, te bereik. Stygende vloedwater in die grot het die soek-en-reddingsoperasie vir dae lank gestaak, berig die New York Times. Volgens die koerant word die kanse skraal dat die seuns lewend gevind gaan word. Foto Netwerk24
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie