Daar kom u2019n tyd om stil te word
Daar kom u2019n tyd om stil te word

Daar kom ’n tyd om stil te word

Estelle de Bruyn
Plek-plek in ’n mens se leeftyd kom daar ’n tyd waar ’n mens net moet stil raak.
Wanneer die gedruis van die lewe net vir ’n wyle uitgedoof moet word en die pas gemarkeer moet word.
In ons dolle gejaag na die volgende bevordering, die volgende nuwe kar, die volgende vakansie, die volgende eksamen of kwalifikasie, of wat dit ook al mag wees, moet ’n mens net soms halt roep.
Nie dat daar iets verkeerd is met ambisie en prestasie nie. Inteendeel, dit is wat ons mededingend en interessant en geïnspireerd maak.
Maar iewers op ’n onbeduidende Donderdag iewers in die middel van een of ander maand, is dit goed om stil te raak.
In hierdie stilte, kom vars perspektief en wanneer jy mooi luister, sal jy hoor hoe die heelal met jou praat oor dit wat saak maak in die lewe.
Daardie klein bietjie verposing bring ’n klarigheid oor wat eintlik belangrik is.
Jou gesin, jou vriende, jou naaste, en hier bedoel ek “naaste” soos in die Bybelse sin van die woord.
Te dikwels, in die gejaag na onbenullighede, verloor ’n mens die holistiese prentjie van waaroor alles eintlik gaan en die groter geheelbeeld vervaag in die soeke na die minuskule.
En terwyl jy die tyd neem om regtig diegene om jou raak te sien, hulle belange in ag te neem, hulle duidelik en in fokus te kry en jou verhouding met hulle in oënskou neem, neem ook die tyd om na jouself te kyk.
Jou eie siel en die sorg wat jy aan jouself gee en die tyd wat jy aan jou eie verkwikking en verryking bestee, is eweneens belangrik.
Neem die tyd om jouself te troetel en sonder selfsug, maar met self­sorg, na jouself om te sien.
Wat is die klein goedjies wat jou gelukkig maak?
Die half vergete lekkerkry van ’n warm borrelbad by kerslig met ’n glas wyn op die rand van die bad.
Om versonke in allerlei lang paaie van jou gedagtes te sit en brei. Om weer die Groot Verseboek nader te sleep en Boerneef en Ingrid Jonker, of wie ook al se pennevrugte te lees. Om ’n stomende bak bobotie voor te berei of soet kaneel en suiker pannekoeke te bak. Om in ’n potjie ’n plantjie basiliekruid te plant en dit te koester tot jy eendag jou eie pesto kan maak. Of sommer net op die bank te gaan lê en na van Carmina Burana tot Meatloaf, Pavarotti tot John Lennon, Queen tot I Vespri Siciliani van Verdi te luister en meegevoer te raak in die melodieë.
Hoe dit ook al sy, vir ’n ieder en ’n elk sal hierdie lysie lekker dinge om te doen verskil. Maar in daardie stilword-tyd vind ’n mens weer jou voete, word jou menslike kompas weer gekalibreer en kom jy weer by jouself en jy-wees uit.
Dis soort van ’n kort vakansie van die ongenaakbare werklikheid wat ons elke dag net moet hanteer.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!