Daar was ’n tyd
Tielmann van Lill - Daar was ’n tyd toe ons as laerskoolkinders nie kon wag om smiddae ná studie die vlaktes in te vaar nie. Die grootste straf was om vir ’n uur tussen middagete en drie-uur stil op jou bed te lê en dan nog vir ’n uur huiswerk te doen terwyl die wete aan jou knaag dat daar iewers ’n avontuur is wat wag.
Die dorpie waar ek grootgeword het, het nie krag gehad nie. Genadiglik het die NG Kerk en koshuis oor ’n “generator” beskik om ’n proesel krag op die regte tyd te verskaf. Dus kon ons darem op gereelde basis na ’n lekker skopskiet- en perdry-fliek in die eetsaal kyk. Pouse was ’n glas koedrank 5c en die ander lekkernye ewe billik.
Die volgende dag was alle seuns in die hoofkarakter getransformeer waar hy oor Maltahöhe se vlaktes nes ’n wafferse John Wayne of 007 iedere boef kon uitwis. Moontlik was elke outjie se droommeisie nes dié van Bond aan sy sy as die stof en koeëls eers gaan lê het.
Die ander groot vermaak was om in die spruitjie met reëntyd babers met windbukse te “oes”. Dit was ’n tydsame proses en jy moes jou storie ken daar waar jy langs die watergat gesit het. Jou mik en druk van die sneller moes een wees, want anders was baber se kind al lankal weer die dieptes in.
Ek onthou die dag toe een van die manne sy maat tussen die oë met sy windbuks geklits het. Genadiglik het die koeëltjie nie veel trefkrag gehad nie en is maklik op Mariental verwyder. Om die drama af te rond, was die nare wond nogal met een steek geheg. Ons almal is natuurlik die leviete voorgelees en ons was ietwat versigter met ons skietgoed.
Ons swemplek was ’n spesifieke seeikoeigat in die Huduprivier wat aan die suidekant van die dorp verby gevloei het. Een namiddag het ons weer daarheen afgesit om kaalbas die koel bruin water in te duik. Daardie dag het ek amper my alie gesien, want iemand moes ’n halwe petroldrom in die kuil gegooi het. Gelukkig het die drom my nie in die gesig of keel getref nie, maar in die maag en ek was vir ’n wyle winduit terwyl ek soos ’n pap snoek op die oewer hertsel het.
Elkeen van ons het ’n kettie gehad wat beter as sy pêl s’n was. Die Uile van Cor Dirks asook Trompie en die Boksombende se boeke was uiters gewild by ons en het natuurlik bygedra tot die avonture wat bedink en aangepak was.
Aan die oostekant van die dorp het ’n hoë rand gelê en ook ’n verdwaalde duintjie wat ons soos ’n magneet getrek het. As jy ’n naweek in die koshuis moes bly, het ons gaan ondersoek instel en glo my die moontlikhede was onbeperk. Ek onthou hoe ek en een van my maats eendag ’n grot ontdek het en met flitse teruggekeer het. Dit was gou duidelik dat alle kese van die omgewing snags daar oornag. Toe ons daardie eerste massiewe skedel ontdek, het alle bravade asook ons die hasepad gekies.
Daar was dae wat ons werklik stout was en ons bruin maats gestuur het om ’n pakkie tien skywe te gaan koop. Ons self sou dit nie durf waag nie, want almal in die dorp het ons ouers op die naam geken en wie wou nou in jou pa se humeur vasloop? Eendag het iemand met die idee gekom dat ’n droë boomwortel ook ’n lekker rookding uitmaak. Nadat ons dit oordink en op die proef gestel het, is sommer gou ’n terugkeer tot donkie-kawalla gemaak, ’n ou staatmaker wat sy weg tot menige seun se rietpyp gemaak het.
’n Man se laerskoolloopbaan hou ook net so lank en daar was ’n tyd toe ek die stof van Maltahöhe moes agterlaat. Toe het alles in Windhoek verander en vir die eerste keer het ek geleer van afskryf, skoolbank (dankie Quintin) en ook dat daar rooikopseuns met middelpaadjies is en dat daar groot ooms met harde baarde is wat ook skoolklere dra.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie