Daardie silwer randjie om die donker wolk
Daardie silwer randjie om die donker wolk

Daardie silwer randjie om die donker wolk

Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn - Elke keer wat dinge donker raak en ‘n mens in die versoeking kom om te dink die sak sout wat jou opgelê is om te eet is te groot of die las is te swaar, wanneer jy neig om jou lewe en omstandighede met ander mense, wat in jou oë met die goue lepel in die mond gebore is, te vergelyk, is daar net een brokkie raad wat ek kan aanbied: Tel jou seëninge.

Ek is al deur diep water in my lewe, soos die meeste van ons, maar dié raad aan myself het telkens die kalf uit die put gekry.

Maak ‘n lysie van dinge waarvoor jy dankbaar is:

Byvoorbeeld: My kinders. Hulle het my lewe meer verryk as wat al die pêrels, smaragte en robyne in die wêreld kon doen. Ja, hulle het my ook al laat ly en elke grys haar op my kop is beslis nie aan die ouderdom alleen te wyte nie, maar aan al my bekommernisse oor hul wel en weë. Vandag kan ek met ‘n lied in hart en groot dankbaarheid sê dat ek opreg as grootmense van hulle hou.

Hulle is gesond en dit gaan goed met hulle en hiervoor kan ek net die Hemelse Vader bedank.

Goeie gesondheid. Ja, die skete is van tyd tot tyd maar daar, en ouderdom is niemand se speelmaat nie. Ná twee knievervangings ‘n paar jaar gelede voel ek vandag perdfris. Ek hoes nie, het nie pyn nie en is dankbaar dat ek g’n kwale het wat my vandag teister nie.

’n Dak oor my kop. Dis in ‘n meenthuiskompleks en nou glad nie ‘n paleis of herehuis nie. Maar dis vier mure waarbinne ek veilig voel, waar ek my aardse besittings uitstal soos dit my geval. My kooi slaap lekker en ek het selfs plek vir gaste en ‘n studeerkamer/biblioteek waar al die boeke wat my oor die jare soveel vreugde gegee het en steeds gee, ‘n staanplekkie het. ’n Ryding, dalk nie so blink en nuut met soveel perdekrag soos die volgende ou s’n nie, maar ‘n vervoermiddel wat my van punt A na punt B kan bring, wat ek kan bekostig en waarop ek kan staatmaak.

Ek het ‘n werk. Nie net ‘n werk om kos op die tafel te sit nie, maar iets wat ek uit die diepte van my hart die afgelope 36 jaar geniet om te doen en steeds doen. Die vreugde van agter die sleutelbord van my rekenaar inskuif en in woorde uiting gee aan wat ek ervaar het, wat ek gehoor het, wat nuusmakers met my en die ander joernaliste gedeel het, bly lekkerder as Häagen-Dazs-roomys.

Ja, daar is baie nuwerwetse fieterjasies wat my nie aanstaan nie en die tyd wat ek aan goeie ouskool joernalistiek en skryf kon bestee het, opslurp, maar ek gaan nie toelaat dat dit die plesier en genoegdoening wat ek uit joernalistiek put, demp nie.

My vriende beteken die wêreld vir my.

Deur dik en dun, letterlik en figuurlik, deur hoogtepunte en laagtepunte was en is hulle soos een man/vrou aan my sy. Dit is stof tot diepe dankbaarheid. Ek het goeie herinneringe aan uitsonderlike mense wat ek die voorreg gehad het om uit hoofde van my beroep te ontmoet en ook ander mense wat my pad gekruis het en gebeurtenisse wat ek beleef en geleef het. Natuurlik is daar die slegte herinneringe ook, maar die goeies en goues dra baie meer gewig as die nare dinge wat ek beleef het.

Ek kan aangaan. Hoe meer ‘n mens dink en daardie silwer randjie om die donker wolk begin soek en willens en wetens daaraan vasklou, hoe langer raak die lysie.

Ek gaan nie eers aan my negatiewe lysie raak nie. Natuurlik is daar negatiewe goed wat my beswaard maak, maar as ek ‘n lysie daarvan moet maak, vat my woord, gaan dit aansienlik korter as my “dankbaar”-lysie wees.

Probeer dit gerus.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!