Dadels kom van San se pleidooie

Die Omaheke San-gemeenskap se openbare vergadering is glo onbepaald uitgestel.
Augetto Graig
Augetto Graig – Hoofman Joseph Jossob van die Hai-||kom San se koninklike |No-||Ao Khoin-stam in die Omahekestreek en sy stamlede was verlede Vrydag teleurgesteld toe ’n vergadering met streek- en regeringleiers – waartydens hulle verskeie klagtes sou opper – nie plaasgevind het nie.

Hy sê meer as 50 van sy volgelinge was ontevrede dat die adjunkminister vir randgemeenskappe in die kantoor van die president, mnr. Royal |Ui|o|oo, nooit opgedaag het nie.

“Die mense is ontevrede,” sê hy.

Dit volg ná ’n klagskrif in Februarie vanjaar na die kantoor van president Hage Geingob gestuur is, wat verwys is na die kantoor van die visepresident, mnr. Nangolo Mbumba.

Op sy beurt het hy dit onder die aandag van die adjunkminister en die minister in die presidensie verantwoordelik vir geslagsgelykheid, armoede-uitwissing en maatskaplike welsyn gebring.

Op 13 September is hoofman Joseph |Gomoseb, wat die klagskrif onderteken het, gekontak om reëlings te tref vir ten minste 50 gemeenskapslede om ’n vergadering op 23 September by te woon.

Volgens Jossob sou die streekgoewerneur, mnr. Pijoo Nganate, en betrokke plaaslike owerheids- en streekbeamptes met die groep vergader, maar |Ui|o|oo het eerder met hoofman Frederik Langman en ander individue byeengekom, sê hy.

Die adjunkminister se kantoor ontken egter enige besoek het plaasgevind. Volgens sy persoonlike assistent, me. Asante Katiti, het hulle telefonies vir hoofman /Gomoseb ingelig oor probleme met skedules, en dat die openbare vergadering uitgestel moes word. Geen datum is bekend vir die komende vergadering nie.

Die klagtes sluit in herhaalde misbruik van regeringsprojekte bestem vir San bevordering, onteiening van grond wat aan San-gemeenskappe toegeken is, huiwering om San-gegradueerdes aan te stel en geen onderwysers om die San-taal aan kinders in die streek te leer nie.

Jossob sê ook voedselhulp vir San-gemeenskappe is baie minder as wat begunstigdes van die Voedselbank geniet, en dit word ook nie elke maand uitgedeel nie. Een sak 10 kg mieliemeel, ’n 750 ml bottel kookolie en ’n blik vis is al wat San-gesinne kry om te oorleef, dit wil sê as hulle gelukkig is om dit te kry, sê hy. “Hulle gee soos hulle voel,” sê hy.

“Duitsland gee die San se geld aan die regering, maar hierdie San sien dit nie. Herero’s beheer die San-projekte. Geen San beheer Herero’s of enige ander nasie nie. Die regering laat net ander nasies toe om grond te besit.
“Hoekom is die San ooit Namibiërs?” wou hy weet.

Die koerant het vrae aan die uitvoerende direkteur van geslagsgelykheid, armoede-uitwissing en maatskaplike welsyn gestuur, wat val onder die direktoraat van maatskaplike welsyn en randgemeenskappe.

Die vrae is beantwoord met ’n versoek vir ’n afskrif van die klagskrif, “om ons in staat te stel om die inhoud en tipe van sulke klagtes te verstaan sodat ons gepaste antwoorde kan gee,” het die hoofwoordvoerder, mnr. Lukas Haufiku, geskryf.

Hy het vrae oor hoeveel San-mense in Namibië woon, en of hulle almal identiteitsdokument het, na die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit verwys.
[email protected]

FOTO
Hoofman Joseph Jossob van die Hai-||kom San in Omaheke wys die amptelike uitnodiging saam met van sy stamlede wat Vrydag tevergeefs gewag het om met regeringsleiers te ontmoet. Foto verskaf

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!