• Tuisblad
  • Sport
  • Dag toe Suidwes Luyt se brein amper laat ontplof het

Dag toe Suidwes Luyt se brein amper laat ontplof het

Rugby
Michael Green – Die dag toe Transvaal se rugbyspan al bloeiend in Windhoek tot ’n oorwinning in sy Curriebeker-halfeindstryd teen Suidwes-Afrika aangesukkel het, het dr. Louis Luyt se brein amper van frustrasie ontplof.
Dit was in 1987. Die Biltongboere, soos Suidwes (nou Namibië) se rugbyspan daardie tyd bekend gestaan het, het soos bere, wat deur bye kwaadgemaak is, hul pad na die halfeindronde oopgeveg.
En ongelukkig vir Transvaal (nou die Goue Leeus) moes hulle die Biltongboere in die Suidwes-stadion aandurf.
“Daardie jare het ons fanatiese ondersteuning geniet. Die Suidwes-stadion het nou wel net plek vir 15 000 toeskouers gehad, maar hulle was bankvas agter ons,” het Gerhard Mans, wat Suidwes daardie dag aangevoer het, verlede week aan Rapport vertel.
“Die mense was naby aan die veld. Dit was soos koshuisrugby. Jy kon omtrent elke woord wat hulle sê, hoor.”
Mans sê daar het op ’n keer ’n bus vol ondersteuners al die pad van Rundu gery om ’n wedstryd by te woon.
“Dis meer as 1 000 km. En toe hulle by die stadion kom, was daar nie vir hulle plek nie. Toe parkeer hulle maar in die straat, klim op die bus se dak en kyk so na die wedstryd.”
Transvaal het daardie jaar sterre soos Carel en Michael du Plessis, Wahl Bartmann, André Skinner en Chris Rogers in sy span gehad.
En Jannie Breedt. Dié lang agtsteman was Transvaal se kaptein.
“Ons het self ’n talentvolle span gehad. Ons het vir niemand geskrik nie,” sê Mans, wat sy span van die vleuel-posisie af aangevoer het.
Mans onthou laggend dat vooraf bespiegel is dat die Biltongboere die veld met ’n swaar roller nog harder gaan maak.
“Dit was nie nodig nie. Ons het genoeg harde manne gehad. Ons het hulle aangevat en was dalk bietjie ongelukkig om met 12-9 te verloor,” sê Mans.
“Dit was ’n baie fisieke wedstryd. Ek onthou hoe Jannie Breedt gereeld op die skeidsregter – ek dink dit was Jimmy Smith-Belton – se skouer gehuil het omdat ons hulle glo geslaan of laat getackle het.”
John Robbie, wat daardie dag Transvaal se skrumskakel was, skryf in sy boek The Game of My Life dat die Biltongboere inderdaad ’n bietjie woes tekere gegaan het.
“Dit was ’n fisieke, vuil wedstryd. Ek is by verskeie geleenthede laat platgetrek en een keer, ná die skeidsregter op sy fluitjie geblaas het, het ek selfs die bal gridiron-styl na die ou wat my aangeval het gegooi. Tot my ontsteltenis het die bal die 15 m soos ’n pyl getrek en die ou agter die kop getref. Ek het gedink hy gaan my doodmaak, maar die ou, Sarel du Toit, het net gelag,” skryf Robbie.
Du Toit was een van die tuisspan se helde. Hy en manne soos Nartjies Nortjé en Sarel Losper het nie ’n tree vir die Transvalers teruggestaan nie.
Daar is vandag steeds kenners wat glo Suidwes sou die wedstryd gewen het as hulle die bal net ’n bietjie meer by sy gevaarlike agterlyn uitgekry het.
Skitterende aanvallers soos Mans, wyle Doug Jeffery, Danie van der Merwe en Leon Stoop het glo heeltemal te min hardloopkans gekry.
Volgens Robbie het Transvaal se kleedkamer ná die wedstryd soos “’n ambulans ná ’n bomontploffing” gelyk.
“Ons het almal gebloei en daar was meer yspakke as in die Noordpool,” skryf Robbie.
Luyt, toe Transvaal se president, het daar ingestap met ’n strak gesig. Hy het die spelers aangegluur asof die sondes van hul voorvaders op hul voorkop geskryf was.
“Pateties!” het Luyt gebulder. “Pateties!”
Onthou, as Transvaal verloor het, sou dié unie nie die volgende Saterdag die eindstryd kon aanbied nie. Dit sou ’n verlies aan derduisende rande beteken het.
Robbie se Ierse bloed het oor geborrel. Hy het sy trui uitgetrek en op die vloer gesmyt. Toe het hy na Suidwes se kleedkamer gestap en daar ’n bier gaan drink.
Die Transvalers was stukkend, maar hulle was darem deur na die Curriebeker-eindstryd. Hulle het ’n paar dae gehad om van hulle pyne te herstel voor hulle op Ellispark teen Noord-Transvaal te staan sou kom.
’n Mens sou dink die Transvalers sou dinge ná daardie klipharde halfeindstryd ’n bietjie kalm vat, maar nee!
“Dit was die domste week van oefen wat ek ooit beleef het. Vroeg in die week het ons ’n oefenwedstryd gespeel en ons is in die dae daarna nog verder deur die meule gedruk. Ons moes hardloop tot ons tong uithang. Dit was moordend,” skryf Robbie.
Geen wonder nie dat die Transvalers in die eindstryd op hul tuisveld nie op hul beste was nie. Dan weer, al was hulle op hul beste, sou dit dalk ook nie goed genoeg gewees het nie.
Want dit was mos die jaar toe Naas Botha die Transvalers manalleen stukkend geskop en die Blou Bulle met 24-18 gewen het.
– Netwerk24

FOTO’s
Suidwes-Afrika se span wat in 1987 die B-afdeling van die Curriebeker gewen het en na die A-afdeling opgeskuif het. Agter: Jaap Claassen (tesourier), Doug Jeffery, Shaun McCulley, Jacques Theron, Nartjies Nortjé, Piet Nel, Arra van der Merwe, Sarel du Toit, Wally Clarke, Manie Grobler, Chris du Toit, Henk Cloete (sekretaris), Ray Peterson (masseur). Middel: Hannes van der Merwe (visepresident), Wally Bredenhann, Gert Fourie (keurder), Sarel Losper (onderkaptein), Gert Muller (president), Gerhard Mans (kaptein), Henning Snyman (afrigter en visepresident), Danie van der Merwe, Johan Arangies (keurder), André Stoop. Voor: Basie Buitendag, Wim Lotter, Leon Stoop, Casper Derks. Foto SA Rugby Jaarboek


Wyle dr. Louis Luyt, voormalige rugbybaas, was soms maar ’n moeilike man. Foto Gallo Images

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!