Dagga – Afrika se nuwe groen goud?

Die vasteland het die hoogste produksievlakke van dagga in die wêreld, met 25% van die globale produksie wat reeds 'n dekade gelede in Afrika aangeteken is.
Henriette Lamprecht
Sou dit gewettig word, kan die dagga­bedryf in Afrika 'n mark van US$7,1 miljard in 2023 vir die vasteland beteken, ingesluit die bykans US$1 miljard vir Marokko alleen, die wêreld se grootste produsent van daggahars.

In Namibië is voor die spertyd laas Sondag 70 geskrewe voorleggings rakende die regulering van dagga en ­daggaverwante produkte ontvang.

Volgens die registrateur van medisyne by die Namibiese Medisynebeheerraad, mnr. Johannes Gaeseb, sal dié voorleggings gebruik word vir die formulering van 'n plaaslike beleid vir die regulering van dagga en daggaverwante produkte in die land.

Die volgende stap volgens Gaeseb is om nou die geskrewe voorleggings en ondersteunende dokumente te bestudeer.

“Die voorleggings sal gebruik word om met voorstelle te kom vir oorweging deur die regering vir 'n beleid met betrekking tot die regulering van dagga,” sê Gaeseb.

Gedurende 2018 het Afrika daggaverbruik ter waarde van US$37 miljoen aangeteken. Die vasteland het tans agt wettige daggaprodusente, met sekere lande in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) wat toestemming vir die verbouing van dagga vir medisinale en navorsingsdoeleindes gegee het. Bykomend hiertoe het sommige lande ook die gebruik van dagga gedekriminaliseer.

Volgens die VN vind die hoogste vlakke van daggaproduksie ter wêreld in Afrika plaas. Reeds meer as 'n dekade gelede is 10 500 metrieke ton dagga (sowat 25% van globale produksie) op die vasteland geproduseer. Die beslagleggings op dagga deur owerhede in Afrika is tweede ná die Noord-Amerikaanse owerhede. Suid-Afrika alleen staan pa vir 42% van beslagleggings op die vasteland, die derde hoogste ter wêreld. Die meeste van die dagga wat in Afrika produseer word, word ook plaaslik verbruik met 'n beraamde 38,2 miljoen Afrikane wat die dwelm ­jaarliks gebruik, ver hoër as die 3,8% van daggagebruikers onder die wêreld­bevolking van 15 tot 64 jaar.

Buiten vir buurland Suid-Afrika wat in 2018 met die uitreik van lisensies vir die kommersiële verbouing van ­medisinale dagga begin het en waar die persoonlike verbouing van dagga wettig is, verbou Lesotho nou vir die internasionale mediese mark. Ook Zimbabwe het in 2018 die verbouing van ­medisinale dagga ­gewettig, hoewel geen lisensies nog uitgereik is nie.

Die eerste lisensies vir kommersiële verbouing is in Desember verlede jaar in Uganda goedgekeur, terwyl Zambië in dieselfde maand die verbouing en uitvoer van dagga vir die medisinale mark goedgekeur het. Malawi, Ghana en Rwanda is intussen ook gevoeg by dié Afrika­lande wat besluit het om by die mark aan te sluit. Van die oeste kan produksie van sowat US$10 miljoen per hektaar behaal, met die blomme wat sowat US$300 000 uit een hektaar kan behaal.

In Suid-Afrika wissel pryse, maar op 'n goeie dag kan 'n daggaboer N$70 000 tot N$80 000 per kilogram behaal.

Op 'n gewone dag is die prys gemiddeld sowat N$40 000 per kg, terwyl dit op die slegste dae tot N$20 000 kan daal.

In die buurland is die plaaslike mark vir medisinale dagga sowat N$50 miljoen per maand werd.

Volgens 'n opname deur die Verenigde Nasies (VN) word meer as 38 000 ton dagga jaarliks in Afrika geproduseer en word die markwaarde van wettige dagga op US$146 miljard per jaar teen 2025 beraam. Medisinale dagga maak sowat 80% hiervan uit, sê die konsultante Grand View Research.

Die wêreldwye aanvraag na dagga sal volgens 'n internasionale navorsingsmaatskappy in die volgende vyf jaar met meer as 370% groei namate meer mense dit begin rook of in produkte omskep.

Euromonitor voorspel die wettige mark vir dagga sal teen 2025 danksy nuwe ­regulasies wat deurgevoer word, 40% van die wêreldwye mark ­verteenwoordig. Die navorsingsmaatskappy sê dagga vir medisinale doeleindes sal teen 2025 net 9% van verkope uitmaak, vergeleke met die huidige 23%.

Euromonitor voorspel die wettige daggamark gaan vanaf die huidige US$30 miljard tot US$95 miljard in 2025 aangroei. Die verslag The evolving state of the global cannabis market sê al hoe meer lande wysig hul wetlike strukture om die verbod en belasting op en beheer van kannabinoïdeprodukte te lig. Volgens hul navorsers sal die verkope van dagga vir ontspanning die groei in die globale wettige mark oor die volgende vyf jaar met 376% aandryf en sodoende medisinale gebruik sowel as CBD (kannabidiol) verbysteek.

In A brief agricultural history of cannabis in Africa, from prehistory to canna-­colony skryf Chris S. Duvall dagga is 'n prominente fokuspunt van die hervorming van dwelmbeleid met talle lande, ook in Afrika, wat op die wa spring om dit te dekriminaliseer en in sekere gevalle van produksie, verkope, besit en gebruik te wettig.

Volgens die VN se kantoor vir dwelms en misdaad, produseer boere in Afrika genoeg om in die aanvraag op die vasteland te voorsien en ook in klein hoeveelhede na Europa uit te voer.



DIE BEGINDAE

Duvall skryf daggaboerdery in Afrika het begin nadat die oes uit sy tuisland in suidelike Asië hier beland het. Dagga het ten minste 1 000 jaar gelede na die vasteland, na Madagaskar en die Mediterreense kus gekom. Argeologiese bewyse is skaars en die dokumentêre verslag oor die hele vasteland dateer hoofsaaklik uit die 1800's.

Samelewings het dagga op verskeie maniere gebruik, hoewel dit oorwegend gerook is. In Noord-Afrika het boere in die vroeë 1900's dagga vir hennep geplant en suid van die Sahara is daggavesel net in Madagaskar geoes waar inwoners ­hennepstof gemaak het.

Volgens Duvall het inwoners van Mosambiek in die 1790's medisyne van die blare gemaak, hoewel dit hoofsaaklik gekweek is om te rook. Die daggaspoor loop wyd oor die kontinent se kontoere, met daggatuine wat gedokumenteer is in 18de-eeuse Suid-Afrika en Mosambiek en in die 19de eeu in Egipte, Angola, Gaboen, Sierra Leone, Kenia, Tunisië en die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK).

Die mees basiese verwerkingstegniek was om die blomme te droog voordat dit gerook is. Dagga is 'n relatief nuwe aankomeling in sommige gebiede op die vasteland en in veral Wes-Afrika, sê Duvall.

Die cannabisplant het drie hoofspesies: sativa (hennep en dagga), indica (dagga) en ruderalis. Alle plante het kannabinoïede wat reageer met die endokannabinoïde-stelsel van die menslike liggaam. Meer as 100 verskillende ­kannabinoïede bestaan waarvan kannabidiol (CBD) en tetrahidrokannabinol (THC), 'n psigo-aktiewe bestanddeel, die bekendste is.

CBD word as 'n medisinale bestanddeel in 'n reeks produkte gebruik – van kosse tot skoonheidsmiddels. CBD is 'n chemikalie wat die brein beïnvloed sodat dit beter kan funksioneer sonder om “hoog” te raak, terwyl die THC die pynstillende eienskappe het.

Volgens die Africa Cannabis ­Advisory Group is die potensiaal van hennep enorm, met die vesel wat vir 22 000 ver­skillende nywerheidsdoelwitte gebruik kan word. Dit is volhoubaar en kan van plastiek, tekstiele tot materiale vervang. Ook het dit 'n positiewe uitwerking op die omgewing, met een hektaar hennep wat vier keer meer koolstofdioksied uit die atmosfeer absorbeer as normale blare.



MEDISINALE VOORDELE

Die daggaplant het 'n geskiedenis van ­medisinale gebruik wat in vele kulture duisende jare terugdateer.

Medisinale dagga kan op verskeie maniere ingeneem word, insluitend kapsules, suigtablette, mengsels, velplakkers, mond- of velsproei, eetgoed, die rook van gedroogde daggablomme en verdampers. Sintetiese kannabinoïede is in sommige lande vir voorskrifgebruik beskikbaar, terwyl daar ook lande is wat die medisinale gebruik van die hele plant toelaat.

Die voordele van dagga vir medisinale gebruik, is legio volgens The Health Effects of Cannabis and Cannabinoids: The Current State of Evidence and Recommendations for Research. Kannabinoïede, die aktiewe chemikalieë in mediese dagga, is soortgelyk aan chemikalieë wat die liggaam vervaardig en wat betrokke is in aptyt, geheue, beweging en pyn.

Navorsing toon kannabinoïede mag angs, inflammasie en pyn verminder; die naarheid en braking veroorsaak deur chemoterapie beheer; kankerselle vernietig en die groei van gewasse verlangsaam; stywe spiere in mense met veelvuldige sklerose ontspan en ook aptyt stimuleer en gewigstoename verbeter in mense met kanker en vigs.

Volwassenes met chroniese pyn wat met kannabinoïede behandel is, het 'n beduidende afname in pynsimptome getoon. Ander toestande waarvoor medisinale dagga ook gebruik word, sluit in post-traumatiese stress, kanker, ­epilepsie, MIV/vigs, degeneratiewe neurologiese toestande, Parkinsonsiekte, ­demensie, angs, verslawing, depressie en slaap­afwykings.



NEWE-EFFEKTE

Die gebruik van dagga as medikasie is egter weens produksie en beperkings deur regerings nog nie intensief getoets nie. Dit het daartoe gelei dat beperkte kliniese navorsing beskikbaar is om die veiligheid en doeltreffendheid te definieer van die gebruik van dagga om siektes te behandel.

Korttermyngebruik verhoog die risiko van geringe en ernstige nadelige gevolge. Algemene newe-effekte sluit in ­duiseligheid, moegheid, braking en ­hallusinasies.

Langtermyneffekte is nie duidelik nie, maar kommer sluit in geheue- en kognitiewe probleme, die risiko van verslawing, skisofrenie in jong mense en die risiko dat kinders dit per ongeluk kan inneem.

Onttrekkingsimptome word weinig met die beheerde medisinale gebruik van ­kannabinoïede gesien. Tog kan die vermoë om voertuie te bestuur of masjinerie te hanteer, moontlik belemmer word totdat 'n toleransie ontwikkel is.

– Bronne: allafrica.com; projectcbc.org, msn.com, webmd, unock.org, healtheuropa.eu,

born2invest.com, un.org.

Kommentaar

Republikein 2025-01-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 18° | 33° Rundu: 19° | 34° Eenhana: 22° | 35° Oshakati: 24° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 19° | 33° Omaruru: 21° | 35° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 35° Henties Bay: 17° | 21° Swakopmund: 17° | 19° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 21° | 31° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 18° | 34° Aranos: 24° | 35° Lüderitz: 14° | 27° Ariamsvlei: 18° | 33° Oranjemund: 14° | 24° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 22° | 38° Lubumbashi: 16° | 24° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 18° | 33° Antananarivo: 17° | 28° Lilongwe: 17° | 24° Maputo: 23° | 36° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 18° | 24° Durban: 20° | 29° Johannesburg: 22° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 17° | 23° Harare: 15° | 26° #N/A #N/A