Dagga, jou ou duiwel
Die Namibiese regering is onlangs versoek om wetgewing oor daggagebruik in die land te wysig - wat ‘n heftige debat onder voor- en teenstanders hiervan ontlok het.
Augetto Graig – “Dagga is gagga”, maar tye blyk te verander.
Die kwessie oor cannabis, oftewel dagga, is die afgelope weke in die nuus nadat twee plaaslike groepe ten gunste van daggagebruik die regering versoek het om wetgewing in die verband te wysig.
Aan die begin van die jaar het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) vir die eerste keer in sewe dekades 'n “nuwe benadering tot dagga” voorgestel.
Op 24 Januarie skryf dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus, die WHO se direkteur-generaal, aan mnr. António Guterres, die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies (VN), hieroor.
Volgens Ghebreyesus het WHO se deskundige komitee oor dwelmafhanklikheid in November 2018 kritieke ondersoeke gedoen om die mees relevante vlak van internasionale beheer oor cannabis- en cannabisverwante stowwe te bepaal, en of die WHO veranderings aan sy vlak van beheer moet maak.
Die komitee het aanbevelings ten opsigte van die Enkel Konvensie oor Narkotiese Dwelms van 1961 gedoen. Die konvensie klassifiseer beheerde stowwe in vier skedules volgens hul terapeutiese waarde en moontlike risiko van misbruik, en elkeen met verskillende en spesifieke beheermaatreëls.
Daarvolgens moet cannabis van skedule IV van die konvensie geskrap word.
Voorts moet dronabinol (delta-9-tetrahydrocannabinol) by skedule I gevoeg word, maar van skedule II van dié van die Konvensie oor Psigotropiese Middels van 1971 verwyder word. Tetrahydrocannabinol, ook bekend as THC, is een van minstens 113 cannabinoïede wat in dagga geïdentifiseer is. Dit moet ook by skedule 1 gevoeg word, sê die kundiges.
Dagga-aftreksels moet van skedule 1 van die 1961-konvensie verwyder word, en voorbereide mengsels met minder as 0,2% THC moet glad nie geskeduleer word nie. Dit vereis ook geen internasionale beheer nie, sê die kundiges. Voorbereide farmaseutiese middels moet by skedule III gevoeg word.
In ‘n neutedop beveel die kenners aan dié stowwe as moet minder of glad nie gevaarlik nie gelys word.
Al dié wysigings sal nie oornag gebeur nie, indien wel, en verskeie lande wag duidelik nie op die VN se leiding nie.
Uruguay het reeds in 2013 alle vorme van dagga gewettig. Turkye, Puerto Rico, Macedonië, Italië, Israel, Tsjeggië, Kroasië en Chili het die mediese gebruik van dagga gewettig, terwyl Mexiko, Jamaika, Colombia, Duitsland en Argentinië dagga gedekriminaliseer het. Kanada se federale wet op cannabis het op 17 Oktober 2018 in werking getree. Dit is die tweede land naas Uruguay wat die verbouing, besit, verkryging en verbruik van dagga en sy byprodukte formeel gewettig het. Suid-Afrika se grondwetlike hof het ook laas jaar beslis die besit en groei van dagga in of by 'n privaat woning is nie onwettig nie.
In Namibië is dagga steeds onwettig.
Ingevolge die Wet op die Misbruik van Afhanklikheidsvormende Stowwe en Rehabilitasiesentrums, No. 41 van 1971, kan mense vir die besit van dagga boetes of tronkstraf opgelê word. Die plaaslike groepe Ganja Users of Namibia (GUN) en lede van die Rastafari United Front (RUF) het onlangs 'n versoekskrif aan die parlement oorhandig om dié wet te skrap of so te wysig dat dagga nie meer as ‘n onwettige middel geklassifiseer word nie.
Intussen bly die Namibiese polisie druk besig met die vastrek van daggagebruikers en om handel daarin te bekamp.
Doeanebeamptes het binne een week in April dagga met 'n straatwaarde van N$2,56 miljoen by die Trans-Kalahari-grenspos in die Omahekestreek gekonfiskeer. In Februarie is 'n 57-jarige ma en haar seun op Swakopmund vir die besit van dagga in hegtenis geneem, ondanks haar getuienis dat sy dagga-olie vir mediese doeleindes vervaardig.
‘n Plaaslike dagga-opvoedkundige, me. Angela Prusa, sê daar is ‘n gebrek aan kennis oor dagga. “Cannabis word nie net gerook nie. Dit kan as tee gedrink word, in eetgoed bygevoeg word, of as 'n gekonsentreerde olie of balsem gebruik word,” sê sy.
“Dagga is nie onwettig gemaak vanweë wetenskaplik-ondersteunde bewyse nie. Dit was 'n rassistiese motief teen mense van kleur deur 'n koloniserende regering, en is gedryf deur valse inligting en negatiewe propaganda. Die eerste land ter wêreld om dagga onwettig te maak, was Suid- Afrika toe hulle in 1611 gesê het dit maak die Indiese en Swart slawe lui,” sê sy.
Volgens Prusa is dit veiliger om dagga te gebruik as wat alkohol, tabak of suiker is. “Dagga maak jou nie mal nie. Dit veroorsaak geen breinskade of skade aan die voortplantingstelsel nie. Niemand het ooit van 'n oordosis dagga gesterf nie. Nooit, nêrens ter wêreld nie.”
Inteendeel, die plant is goeie medisyne, sê sy. “Dit is bekostigbare behandeling vir meer as 700 kwale, wat deur meer as 40 000 internasionale studies bewys is.”
Dagga werk goed omdat ‘n mens natuurlik cannabinoïde reseptore in jou liggaam het, sê sy. Hierdie reseptore, wat veral in die brein voorkom, is deel van die endocannabinoïde-stelsel, wat betrokke is by 'n verskeidenheid fisiologiese prosesse, insluitend eetlus, pynervaring, gemoed en geheue, sê sy. Daggabestanddele soos THC, cannabinol (CBN) en cannabidiol (CBD) pas almal soos 'n sleutel in 'n slot in hierdie reseptore. Die endocannabinoïde stelsel help met die regulering van homeostase of balans in alle hoofstelsels van die liggaam.
Ander gesondheidsvoordele wat reeds deur navorsing aan dagga toegewys is, sluit in die behandeling van naarheid en opgooi, anoreksia, Tourette se sindroom, inflammatoriese dermsiekte en prikkelbare dermsindroom, gloukoom, epilepsie, asma en slaapprobleme.
Alhoewel dagga al dekades onwettig is, het dit 'n lang geskiedenis wat dateer tot 6 000 v.C. toe die sade as kos in China gebruik is. “Ons het tradisionele kennis hier in Namibië om die plant baie suksesvol as medisyne vir mens en dier te bruik. Dit word al vir duisende jare in Afrika gebruik as medisyne, vir kulturele en geestelike praktyke, asook vir ontspanning,” sê Prusa. “Historiese artefakte is gevind wat oorblyfsels van dagga of tekens van die gebruik daarvan, bevat.”
Sy sê die plant is ook deel van Bybelse geskiedenis en word vyf keer genoem in die oorspronklike Hebreeuse teks van die Ou Testament, volgens navorsing deur me. Sula Benet. Ander geloofsbaseerde gemeenskappe soos die Rastafariërs gebruik dit as 'n sakrament. “Dit is elke persoon se menslike reg om sy sakrament te gebruik sonder om daarvoor te vervolg word,” sê Prusa.
Sy sê die verskillende vorme van dagga, marijuana en hennep, het etlike gebruike. Marijuana verander ‘n mens se toestand van bewussyn, terwyl hennep 'n groter verskeidenheid gebruike, insluitend in medisyne, kos en dierevoer, het. Hennep kan ook gebruik word as brandstof, om papier, vesel en materiale te skep, asook bioafbreekbare plastiek en boumateriaal soos hennepstene, sê sy.
Hierdie plant groei vinnig met relatief min water en kan selfs giftige grond of water help suiwer, sê sy.
Hennep het 'n unieke kenmerk in die sin dat dit kan groei in kernbestraalde gebiede. Terwyl dit groei, kan dit giftige straling neutraliseer deur middel van 'n proses wat fytoremediëring genoem word, sê Prusa.
Namibiese se wetgewing maak geen onderskeid tussen verskillende tipes daggaplante nie.
Nietemin sien Prusa groot potensiaal vir die gebruik van alle tipes dagga in Namibië.
“Namibië en sy oudste inwoners het 'n lang geskiedenis van cannabisgebruik vir medisinale en geestelike redes, asook ontspanning. Cannabis het groot potensiaal om 'n bedryf te skep wat nuwe navorsing, onderriggeleenthede en werksgeleenthede kan skep. Cannabis en hennep kan ook help om die direkte invloed van klimaatsverandering op ons land te verminder. Die internasionale Cannabis- en Hennep-handelsmark is 'n groot geleentheid vir handel wat Namibië tans misloop,” sê sy.
Prusa verwys na navorsing gedoen deur die internasionale nie-regeringsorganisasie FAAAT (For Alternative Approaches to Addiction, Think & do tank) wat aandui die wettiging en gebruik van dagga kan tot die bereik van talle van die VN se 17 volhoubare ontwikkelingsdoelwitte bydra: Die voorsiening van voedsel uit die saad, asook die produkte wat uit die vesel verkry en vervaardig word, ondersteun doelwitte 1, 2, 9 en 11. Die plant suiwer grond, wat bydra tot skoon water en oseane (doelwit 13). Die beduidende biomassa wat die stamme van cannabis produseer word, kan 'n belowende energiebron (doelwit 7) en 'n hernubare bron van herwinbare, plantaardige plastiek (doelwit 15) wees.
Dié doelwitte kan bevorder word deur hervorming van onderdrukkende en marginaliserende beleide rakende die gebruike van dagga, sê sy. Daggabeleide is histories in 'n vernietigende spiraal verwoes, sê sy.
“Hierdie poging om 'n dwelmvrye wêreld te skep, het 'n verskoning geskep vir staatsgeweld, terwyl kriminele groepe versterk is, veral in streke met historiese voorkoms van die daggaplant.
Ondemokratiese, onderdrukkende en outoritêre benaderings tot aanvraagvermindering het korrupsie in die regering aangemoedig. Dit het verhoogde arrestasies en gevangenisstraf veroorsaak, asook sosiale en gesondheidsrisiko's vir daggagebruikers verhoog deur toegang tot gepaste voorkoming en opvoeding oor veilige verbruik te verhoed. Dit het uiteindelik ontelbare menseregteskendings veroorsaak, veral onder vroue, minderheidsgroepe en die armstes,” sê sy.
Prusa is vandag om 15:00 in Windhoek by die Eagles Beer Garden, waar sy 'n praatjie oor dagga lewer. Sy sê veral kritici en teenstanders van dagga is welkom om feite en kennis te kom deel, en die nasionale gesprek oor die kwessie voort te sit.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie