'Dagga loon boere meer as mielies, suikerriet'
Daar word geraam Suid-Afrika het 'n US$1,2 miljard-mark vir dagga en verwante produkte.
Riana de Lange
Die Suid-Afrikaanse regering wil teen Oktober konsepplanne reg hê vir hoe die hennep- en dagga-sektore in die land ontwikkel kan word, veral vanweë die werkskeppingspotensiaal wat grootskaalse verbouing daarvan sal inhou, sê Busani Ngcaweni, hoof van beleid en navorsing in die presidensie.
Dit is een van die ekonomiese sektore waar konsep-meesterplanne ontwikkel word omdat daar genoeg bewyse is van hoeveel werk dit in veral landelike gebiede kan skep, het Ngcaweni verlede week op 'n konferensie in Sandton gesê.
Internasionale kenners sê Afrika se daggabedryf kan teen 2023 jaarliks meer as $7,1 miljard werd wees as wetgewing daarvoor in die vasteland se grootste markte van krag word.
Prohibition Partners, wat wêreldwyd gemeenskaps- en kommersiële geleenthede in die daggabedryf wil ontsluit op grond van betroubare data en navorsing, sê Suid-Afrika en Nigerië is potensieel die vasteland se twee grootste waardemarkte wat teen 2023 onderskeidelik $667 miljoen en $75 miljoen werd kan wees as dit wyd vir medisinale en ontspanningsgebruik toelaatbaar sal wees.
Dié inligting is vervat in die African Cannabis Report, die eerste gedetailleerde verslag oor die voordele vir die vasteland uit die wettiging van dagga. Luidens die verslag, wat in Maart gepubliseer is, is vyf van die wêreld se top-30 daggaverbruikslande (in die ouderdomsgroep 15-64 jaar), in Afrika: Nigerië, Zambië, Egipte, Madagaskar en Sierra Leone.
Die verslag sê die Wêreldgesondheidsorganisasie skat Suid-Afrika is die derde grootste produsent ter wêreld met 'n geraamde 900 000 daggaboere, bo en behalwe 'n geraamde 350 000 tradisionele genesers wat ook dagga kweek. Suid-Afrika word ook beskou as 'n land met 'n geskikte klimaat vir die kweek van dagga, veral die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal.
Volgens Landbou.com is die Landbounavorsingsraad (LNR) gereed om sy hennepkultivars kommersieel te verbou sodra wetgewing gereed is. Proeflopies het die beste in die Oos-Kaap en die Wes-Kaap gevaar.
Die riglyne vir die kommersialisering van hennep in Suid-Afrika moet deur die regering goedgekeur word én openbare raadpleging moet ook nog plaasvind, berig Landbou.com.
Prohibition Partners verwys na 'n verslag van die Verenigde Nasies wat Suid-Afrika se jaarlikse daggaproduksie op 2 500 ton raam en wat nog kan groei. Die Suid-Afrikaanse regulatoriese owerheid vir gesondheidsprodukte het onlangs die eerste lisensie vir die kweek van medisinale dagga goedgekeur.
Daar is bewys dagga as gewas is lonender as mielies en suikerriet, sê Prohibition Partners. Volgens prof. Mzukisi Qobo, 'n medeprofessor aan Wits se sakeskool, en Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die landbousakekamer Agbiz, het baie Afrika-regerings dagga-regulasies verslap om landelike ekonomiese groei te bevorder en werk te skep. In Lesotho het die groeivooruitsigte ná wettiging al tot buitelandse beleggings gelei.
Prohibition Partners sê data van New Frontier raam Suid-Afrika het 'n $1,2 miljard-mark vir dagga en verwante produkte. Buiten vir laeinkomsteverbruikers, is daar potensiaal aan die bokant van die mark vir eetbare produkte (soos daggapizza), drankies wat dagga in het, essensiële olies, mediese dagga en tekstiel.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie