‘Daggapresident’ in boeie

’n Versoekskrif aan die parlement om wetgewing te wysig, het in ’n inhegtenisneming en bewerings van aanranding geëindig.
Augetto Graig
Augetto Graig – ‘n Dag ná hy ’n optog gelei het waartydens ’n versoekskrif aan die parlement oorhandig is om onder meer die vervolging van daggagebruikers te bepleit, is mnr. Brian Jaftha, president van Ganja Users of Namibia (GUN), agter tralies.

Volgens mnr. Borro Ndungula, GUN-woordvoerder, het sowat 40 plaaslike weermagsoldate met AK 47-gewere en in koeëlvaste baadjies, sewe Namibiese polisie-beamptes en vyf stadspolisie-beamptes Woensdag omstreeks 11:00 op GUN se kantoor, waar Jaftha woon, toegeslaan.

“Hulle het teen die deur gekap en toegang geëis. Ons was bang vir die gewere en het oopgemaak. Toe ek vir ’n deursoekingslasbrief vra, is ek vloer toe gestamp. Hulle het die president geslaan, neergegooi en geskop tot hy opgegee en stilgebly het,” beweer die woordvoerder.

“Maak my dood as julle my wil doodmaak,” het Jaftha volgens Ndungula gesê.

Sowat 200 g dagga is glo op die balkon van die leë woonstel bo Jaftha se tuiste gevind, waarná hy in hegtenis geneem en na die Wanaheda-polisiekantoor geneem is.

Nampol se hoofwoordvoerder, hoofinsp. Kauna Shikwambi, het bevestig die tweede fase van Operasie Hornkranz, in samewerking met die Namibiese weermag (NDF), Nampol en stadspolisie het vandeesmaand afgeskop.

Volgens Shikwambi is die dagga in verband waarmee Jaftha aangekeer is, sowat N$2 040 werd.

Sy raai die GUN-president aan om ’n saak by die polisie aanhangig te maak indien hy aangerand is.

Dinsdag het ’n groep verteenwoordigers van GUN en die Rastafari United Front (RUF) saam ’n versoekskrif aan die parlement oorhandig.

Me. Lydia Kandetu, die Nasionale Vergadering (NV) se sekretaris, het die petisie, getiteld “Herroep uitgediende apartheidswet”, ontvang.

“Volgens die geskiedenis is daggawetgewing en die apartheid-ideologie onskeibaar,” lui die versoekskrif.

Die groep dring aan op die verandering van bestaande wetgewing en versoek dat Namibiërs die vryheid gegun sal word om dagga te gebruik, te besit en te kweek, en om daarin handel te dryf.

Dít “op verantwoordelike wyse soos in prekoloniale en pre-apartheid Namibië voor die implementering van die onregverdige apartheidswet 48 jaar gelede”.

“Daarby vra ons die parlement moet ’n einde maak aan die moedswillige vervolging van en tronkstraf vir daggagebruikers, asook dat diegene wat tans weens dagga in die tronk is, vrygelaat word. Laat vaar al die cannabis-sake wat tans voor die hof dien, verwyder misdaadrekords, beveel die polisie om inhegtenisnemings te stop en om die privaatheid, veiligheid en vryheid van geloof van alle Namibiërs te respekteer,” lui die versoekskrif verder.

Volgens die deelnemers aan die optog word hulle deur sowat 200 000 lede landswyd ondersteun.

“Kannabis is verskeie Namibiese gemeenskappe se nasionale erfenis, en was voor kolonialisering in gebruik.

“Wetgewing met betrekking tot kannabis het oor ontwikkelde en ontwikkelende lande wêreldwyd reusebydraes tot plaaslike ekonomieë, landbou, medisyne en belasting gelewer.

“Dekades se navorsing het geen oortuigende mediese, wetenskaplike of misdadige bewyse gelewer dat kannabis skadelik vir gebruikers is nie, of dat dit misdaad, antisosiale gedrag of afhanklikheid veroorsaak nie,” lui die versoekskrif.

Die groep versoek dat die parlement ’n kommissie op die been bring om die gebruik van dagga te beheer en reguleer sodat dit verantwoordelik, vooruitstrewend en goed ingelig kan wees.

Volgens die kantoor van die sekretaris van die NV sal die versoekskrif nou aan die speaker van die NV, prof. Peter Katjavivi, oorhandig word.

Katjavivi sal volgens die normale verloop van sake ontvangs van die versoekskrif in die parlement erken waarná die kwessie na ’n toepaslike staande komitee vir besluitneming verwys sal word.

Dié komitee sal hul bevindings in ’n verslag aan die parlement voorlê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!