Dakar dalk deur Angola en Namibië in 2020
Die praatjies van vroeër raak al hoe sterker.
Tielman van Lill - Weens die feit dat die Dakar-tydren vanjaar vir die eerste keer in net een land aangebied is, het die Amaury-sportorganisasie (A.S.O.) wat die tydren besit en organiseer, reeds in 2018 besluit om sy spogbyeenkoms in 2020 elders te neem.
Vanjaar se aanbieding met tien trajekte oor 'n totale afstand van ongeveer 5 600 km waarvan 3 096 km spesiale rensneldele is vir die 41ste keer gehou. Jaers het op Donderdag 7 Januarie by Lima in Peru weggespring en weer op 17 Januarie daar geëindig met Toby Price (Red Bull KTM Factory Racing) wat die motorfietsafdeling ingepalm het.
Nasser Al-Attiyah (Katar) en sy Franse navigator Matthieu Baumel (Toyota Gazoo Racing Suid-Afrika) het die bakkie-afdeling opgeraap.
Die Argentyn Nicolás Cavigliasso (Drag'on Rally) en die Russiese driemanskap Eduard Nikolaev, Evgenii Lakovlev en Vladimir Rybakov (Kamaz Master) het onderskeidelik die vierwielmotorfiets- en trok-afdeling oorheers.
Die plaaslike span bestaande uit Francisco López Contardo en Álvaro León (South Racing Can-Am) het die Chileense vlag in die seksie vir veeldoelige voertuie laat wapper.
Die 2018 Dakar is gesamentlik in Argentinië, Bolivië en Lima aangebied, maar nadat lande soos Ecuador en Bolivië die A.S.O. se aanbod van die hand gewys het om vanjaar weer die gesogte tydren aan te bied, het die Franse besluit om hul besigheid in 2020 elders te neem.
Met die Angolese Motorsportfederasie (FADM, Federação Angolana de Desportos Motorizados) wat onlangs beweer het hy is in gesprek met die beleidmakers van die A.S.O., het dié organiseerders beslis vir Angola, Botswana, Namibië, Suid-Afrika asook Lesotho in hul visier.
Die wegspring kan moontlik in Kaapstad plaasvind, waarna die spanne vir Lesotho deur die Karoo sal mik en dan na Botswana deur die Kalahari kronkel om tot in die sentrale deel van Angola sy draai te maak.
Die pad terug na Kaapstad sal deur Namibie kronkel om in die Wes-Kaap sy laaste staan te kry.
'DRIE LANDE IDEAAL'
Indien die Dakar wel in 2020 in Suidelike Afrika aangebied word, sal dit vir menige plaaslike jaers die geleentheid bied om hul slag in die spoggeleentheid te wys teen 'n fraksie van die koste wat só 'n uittog normaalweg sou kos.
Etienne Lavigne, direkteur van die Dakarkompetisie, het vandeesmaand bevestig dat A.S.O. sy voelers na sekere Afrika-lande uitgesteek het om die 2020-weergawe in Suidelike Afrika aan te bied. Verder wou dié Fransman egter nie veel uitbrei nie.
“Ek kan nie oor iets sê waarvan ek niks weet nie. Vir my is die ideale byeenkoms een wat deur drie lande gehuisves word. Dit sal lekker wees indien verskillende terreine uitdagings aan die jaers bied.
“Ons moet aanstoot om reëlings vir 2020 agtermekaar te kry. 'n Besluit sal binne die volgende drie of vier maande geneem moet word. Ons kan nie omstandighede in Suid-Amerika verander nie, maar ons kan wel van koers verander om die tydren te beredder. Dit is wel 'n kopseer vir ons, want ons sal bitter vinnig 'n plan moet maak,” het Lavigne gesê.
Volgens die Namibiese Motorsportfederasie (NMSF) is die aansoek van die A.S.O. reeds by die relevante ministerie ingedien om die 2020 Dakar aan te bied. Die NMSF is 'n lid van die Fédération Internationale de l'Automobile (FiA) en die Fédération Internationale de Motocyclisme (FIM), wat 'n vereiste is.
Met die seën van die Namibiese regering sal slegs 'n tekort aan geld die aanbieding van die Dakar kan pootjie om dit saam met twee ander lande aan te bied. Angola is beslis deel van die A.S.O. se planne, maar 'n paar dinge in die noordelike buurland sal moet verander.
Mnr. Derek Jacobs van die NMSF sê Namibië is gereed om sy kennis met die Angolese te deel.
“Ons vlieg binnekort Luanda toe om met die Angolese te beraadslag om hulle te help. Die Angolese regering het reeds sy finansiële steun aan die Angolese Motorsportfederasie toegesê,” het Jacobs aan Republikein gesê.
Gilbert Sabine, die stigter van die Dakar, het in 1993 die byeenkoms se regte (Sabine Organisation) aan A.S.O. verkoop. Die A.S.O. is deel van die Franse EPA-media-groep wat sportbyeenkomste soos die Tour de France-, Vuelta a España- en Parys na Nice-fietsrybyeenkomste aanbied.
www.gapo.pt, www.motorsport.com, www.dakar.com

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie