Dallas-skieter, 2 slagoffers veg saam in Afganistan

Jo-Mare Duddy Booysen
Erika Gibson

Twee van die polisielede wat verlede week in ’n bloedige slagting in die VSA dood is en die skieter het vroeër in Afganistan aan dieselfde kant geveg.
Verlede week was hul wapens op mekaar gerig in Dallas, Texas, slegs blokke van waar pres. John F. Kennedy in 1963 in ’n sluipmoordaanval dood is. Al drie dié oudmakkers het hulle geroepe gevoel om hul medemens te dien: Twee as polisielede en Micah Xavier Johnson om die “onderdrukking” van sy swart landgenote te wreek.
Johnson, wat Donderdagaand (Amerikaanse tyd) vyf polisielede doodgeskiet en nog sewe gewond het, het byna ’n jaar lank as reserwemag­soldaat in Afganistan diens gedoen voordat hy huis toe gestuur is weens seksuele teistering.
Die polisieman Brent Thompson was voorheen ’n marinier.
Sy kollega Patrick Zamarripa het as vlootsoldaat drie operasionele dienstye in Afganistan verrig.
Die skietery was die gevolg van ’n toksiese mengsel van faktore, sê Brooks Spector, ’n Amerikaner en politieke ontleder in Suid-Afrika.
“Dit is so dat die polisie in sommige gemeenskappe te vinnig met die vinger op die sneller is. Dít was immers die rede vir die vreedsame optog waar die polisielede geskiet is.”
Twee swart mans is vroeër die week in afsonderlike voorvalle in Louisiana en in Minnesota deur die polisie doodgeskiet. Nie een van die twee was ’n misdadiger nie en in albei gevalle het die polisie oorreageer. Een van die voorvalle is op selfoon opgeneem en dit het soos ’n veldbrand op sosiale media versprei – nes die heftige reaksie teen die polisie, sê Spector.
Ironies genoeg is Dallas een van die modelstede waar die polisie opgelei word om minder militant op te tree.
David O. Brown is in 2010 as polisiehoof daar aangestel. Onder sy leiding het die getal onnodige polisieskietvoorvalle van 23 in 2012 afgeneem tot 11 verlede jaar.
Juis omdat die polisie ’n wakende oog op vandeesweek se optog gehou het, maar steeds ’n lae profiel sonder enige koeëlvaste baadjies of gepantserde voertuie gehandhaaf het, kon Johnson hulle maklik afmaai.
Volgens Spector is die aggressiewe aanslag van die polisie in sommige Amerikaanse deelstate die gevolg van die militarisering van die mag.
Baie polisielede het militêre ­opleiding en het in Irak en Afganistan diens gedoen.
“Voeg daarby die aantal vuurwapens in die publiek se hande en jy sit met twee groeperings wat almal met die vinger op die sneller sit.
“In die verlede was die polisiemanne­ daaraan gewoond om die oorhand te hê – selfs al tree hulle hardhandig op. Dit is verskoon as deel van hul taak om reg en geregtigheid te laat geskied.
“Nou is daar videokameras in motors en selfone en almal sien presies wat gebeur. Teen dieselfde spoed waar­teen dié beeldmateriaal versprei, styg die kollektiewe gemoedere ook.”
Spector sê hy is daarvan oortuig dat dié voorval sowel as die algemene toename in skietvoorvalle landwyd een van die groot twispunte in die presidentstryd tussen die Demokrate en die Republikeine gaan wees.
Die Demokrate wil meer vuur­wapenbeheer hê en ook strenger keuring van wapeneienaars voordat hulle wapens aanskaf. Omar Mateen, wat onlangs 50 mense in die Pulse-nagklub in Orlando afgemaai het, het ’n geldige wapenlisensie gehad vir die wapen wat hy gebruik het.
 - Netwerk24/The Washington Post/BBC

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!