Damme styg steeds

Die Omaruru Deltadam het vir die eerste keer sedert 2011 water, en die drie sentrale damme is gemiddeld 13,4% voller.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Die damme wat sentraal-Namibië van water voorsien, het 'n betekenisvolle invloei van water gehad, en terselfdertyd het die Efundja-vloed nou sentrale Cuvelai-gebiede bereik.

Tog lyk reënvooruitsigte vir die komende week ietwat minder belowend, met die uitsondering van die Sentrale Noorde en Noordweste waar goeie reënneerslae nog kan voorkom. Die rede hiervoor is dat die tropiese sikloon Enawo, wat tans Noordoos van Madagaskar geleë is, na verwagting vog van die vasteland kan onttrek.

Die Namibiese weerkantoor voorspel egter nog daaglikse verspreide donderstorms vir Rundu, Ondangwa en Windhoek, terwyl Keetmanshoop mooi en warm weer kan verwag.

Die damme wat Sentraal-Namibië van water voorsien het die afgelope week het 'n betekenisvolle hoeveelheid water ingekry (altesaam 20,931 Mm³) en van 'n gemiddeld van 33,3% na 46,7% laat styg. Terselfdertyd het water die Omaruru Deltadam weer vir die eerste keer sedert 2011 binnegeloop en staan dit nou op 4,2%.

Die Swakoppoortdam het die grootste styging van 12,2% na 31,7%, getoon en bevat tans 20,133 Mm³ water. Altesaam 12,397 Mm³ water het die dam die afgelope week ingeloop.

Daarnaas het die Von Bachdam die tweede meeste water bygekry en met net minder as 12% gestyg. Dié dam staan tans op 54,5% en bevat 26,486 Mm³ water. Die Omatakodam het ook nog 2,845 Mm³ water bygekry en van 53,3% na 59,9% gestyg.

Die Goreangab- en Friedenaudamme bevat onderskeidelik 101,3% en 36,9% water. Die Oanobdam staan tans op 91%, vergeleke met verlede week se 75,3%, terwyl die Nautedam ook op 101% tot barstens toe vol is. Dié twee damme het onderskeidelik 5,434 Mm³ en 5,845 Mm³ water bygekry.

Volgens NamWater sal die Nautedam se sluise slegs oopgetrek word indien verdere reën val en 'n invloei veroorsaak.

Die Hardapdam se sluise is verlede week vir die derde keer in twee weke oopgetrek. Tans staan die dam op 72,1% en bevat dit 212,292 Mm³ water. Die Dreihuk- en Bondelsdam bevat nou onderskeidelik 29,3% en 18% water. Verlede jaar dieselfde tyd was dié twee damme bykans leeg.

Nasionaal bevat damme vandeesweek altesaam 5% meer water as verlede week en 23,5% meer water as dieselfde tyd verlede jaar.



EFUNDJA KOM AF

Danksy goeie reëns die afgelope weke het die voorpunt die Efundja, die vloed wat riviere en oshanas in die Omusati-, Oshana-, Ohangwena- en Oshikoto-streek voed, die sentrale­ Cuvelai-gebiede bereik.

Volgens die Hidrologiese Dienste van Namibië se vloedverslag is die water nou 1,25 m diep by die Ompundja hidrologiese stasie, 0,51 m by Shaneheke, 0,67 m by Shanalumono en 0,90 m by Endola.

Dié water kom oorspronklik van Angola af en versprei suidwaarts via die Cuvelairivier na die sanderige dele in die suide van Angola. Daarna vloei dit ook na die Noorde van Namibië deur 'n uitgestrekte delta van stroompies en oshanas.

Die Zambezirivier se vlakke by Katima Mulilo het op 3 Maart op 2,66 m gestaan, terwyl die Kavangorivier se vlak met 15 cm gestyg het en by Nkurenkuru 2,56 m diep is. By Rundu loop die rivier 5,15 m diep en by Mukwe 3,23 m. Die Oranjerivier loop 0,68 m diep by Blouputs en 0,73 m diep by Tses. Terselfdertyd het die Swakoprivier gister teen saktyd nog by Nonidas getrek en steeds nie die see bereik nie.



POLISIE WAARSKU TEEN VLOEDE

Intussen het die Namibiese polisie 'n waarskuwing uitgereik dat mense nie sonder meer vloedgebiede en riviere moet oorsteek nie. Dit volg nadat altesaam agt mense die afgelope naweek verdrink het en nog uit vloedwaters gered moes word.

“Ons soek nog tans na die liggame van mense wat deur die water meegesleur is. Moenie die krag van riviere in vloed onderskat en dit sonder meer per motor of per voet probeer oorsteek nie. Ouers moenie dat hul kinders in die waterpanne speel nie,” lui die waarskuwing.

Kommentaar

Republikein 2025-04-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer