Dankie, koning Cam!
Cameron van der Burgh het die week sy uittrede uit swem aangekondig. Marizanne Kok, wat 10 jaar lank oor hom verslag gedoen het, herroep haar gunsteling-herinneringe aan een van Suid-Afrika se goue swemseuns.
Daar is die afgelope vier dae kolomme kopie gelewer oor al die kleinode wat Cameron van der Burgh in sy swemloopbaan versamel het.
Olimpiese goud. Olimpiese silwer. Twee wêreldtitels in die 50 m-swembad en drie in die kortbad. Vier Statebond-krone. 12 wêreldrekords. Drie Wêreldbekerreeks-titels. Meer as drie handevol nasionale titels.
Maar dis nie net die medaljes wat Van der Burgh oor die afgelope 11 jaar ingesamel het wat die afgelope week dosyne hartlike huldeblyke op sy Facebook-blad en Twitter-rekening laat instroom het nie.
Dit was eerder die waardigheid waarmee Van der Burgh elke oomblik – die sonskyn en die onweer – van sy loopbaan hanteer het, wat hom in alle uithoeke van die swemwêreld ’n geliefde figuur gemaak het.
Neem byvoorbeeld sy reaksie toe hy in 2014 vir die eerste keer in sy loopbaan gekonfronteer is deur ’n teenstander met wie hy nie raad gehad het nie.
Twee jaar ná sy Olimpiese triomf in Londen, was Van der Burgh op die kruin van die golf – net om in Julie 2014 by die Statebondspele in Glasgow van sy troontjie gestamp te word deur ’n 20-jarige Brit met melkbaard op sy ken en vuur in sy hart.
Toe Adam Peaty by daardie Spele die titel in die 100-borsslag (waarin Van der Burgh voor dit vir twee jaar onoorwonne was) opraap, was die Suid-Afrikaner teen die grond. Hy is immers met ’n yslike 0.34 sekondes geklop.
Van der Burgh het ’n paar aande later wel die kroon in die 50-borsslag gedra, maar huis toe gekom met die lyftaal van iemand wat skrif aan ’n muur gesien het wat hom bang gemaak het.
In Peaty was daar skielik ’n nuwe teenstander, met die perfekte liggaamsbou vir borsslag-swem en die perfekte tegniek. Hy het boonop geweet hoe om dit te ontgin: In 2015 het hy die wêreldrekord verpletter waarmee Van der Burgh in 2012 Olimpiese goud gewen het, en die eerste 100-borsslag-swemmer in die geskiedenis geword wat onder 58 sekondes kon draai. En toe breek hy die Suid-Afrikaner se 50-borsslag-wêreldrekord, verslaan hom by daardie jaar se wêreldkampioenskappe, die Olimpiese Spele van 2016 en die 2017-wêreldbyeenkoms.
Van der Burgh is gereduseer tot ’n blote byspeler in borsslag-swem.
’n Man van swakker stoffasie sou dalk moed opgegee en aanbeweeg het na die volgende fase van sy lewe.
Van der Burgh het wel in 2015 ’n sakeonderneming op die been gebring – maar ophou droom daarvan om Peaty te klop? Dít was nooit ’n opsie nie.
“As jy eers vrede maak met die tweede trappie van die podium, is jy nie meer om die regte redes in die swembad nie,” het hy in April gesê. “Ek het altyd gesê ek sál Adam weer klop.”
Die dag voordat hy dit gesê het, het hy vier jaar van tweede viool speel vir Peaty na die verste hoekies van sy geheuebank geblaas in die Statebondspele-eindronde van die 50-borsslag. Net ses weke voor sy 30ste verjaarsdag het hy die wêreld herinner dat ’n ware kampioen nooit moed opgee nie, al is die berg voor hom hóé hoog.
Peaty het immers daardie dag in die swembad gespring met al sewe die vinnigste 50-tye ooit agter sy naam.
Skielik het Van der Burgh weer met ywer gepraat oor die volgende Olimpiese Spele, in 2020 in Tokio. Skielik het die ongelowige Thomasse wat hom as te lank in die tand begin beskou het, vinnig minder geword.
Elke laaste een van hulle het verdwyn toe Van der Burgh Woensdag by die kortbad-Wêreldkampioenskappe in China bewys sy Statebond-sukses was geen vloekskoot nie, en met sy vinnigste tyd in nege jaar die kortbad-wêreldkroon in die 100-borsslag gebuit het.
Pasop, Tokio, wou ’n mens amper sê.
Maar toe, net ’n paar uur later, die groot verrassing: Dis verby, het Van der Burgh gesê.
Ná dié byeenkoms sal wêreldswem hom nooit weer op die wegspringblokke sien grappies maak nie.
Van der Burgh laat die gordyn sak met niks oor om aan homself of die wêreld te bewys nie. Die Statebond-glorie en Woensdag se sukses beteken die wêreld sal hom onthou as ’n man wie se beste tot heel aan die einde goed genoeg was.
Meer gepas kan dié goue loopbaan nie eindig nie. Cameron die swemmer én Cameron die mens verdien dit.
Wen of verloor was daar altyd ’n glimlag op sy gesig, ’n vriendelike woord vir die mans in die bane langs hom, ’n geselsie met ’n jong ondersteuner.
Wen of verloor was daar altyd die strewe na meer en beter. Wen of verloor was Van der Burgh ’n ambassadeur waarop Suid-Afrika trots kan wees.
* Van der Burgh het vandag ’n gulde geleentheid om die heel laaste internasionale resies van sy loopbaan ook een te maak wat hy altyd sal onthou.
Die 30-jarige sal in China in die kortbad spring vir die eindronde van die 50-borsslag – as die groot gunsteling vir nog ’n goud.
Hy was gister in die halfeindronde die vinnigste kwalifiseerder met ’n tyd van 25.76 s.
Van der Burgh is steeds die kortbad-wêreldrekordhouer in die 50-borsslag (met ’n 25.25 wat hy in November 2009 opgestel het) en die 100-borsslag (55.61 in 2009). – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie