Dankie, maar nee dankie
Dankie, maar nee dankie

Dankie, maar nee dankie

Minette Brink
Ná 19 jaar van 'n baie gelukkig geskeide lewe, besef ek op 'n dag: Ek wil nie alleen doodgaan nie.

Daar moet tog maar 'n dierbare langs my bed sit om 'n benerige lewervlekhand vas te hou totdat ek finaal groet.

Weens die aard van my abnormale werksure en -dae is sosialiseer-opsies heelwat beperk. Ook omdat ek verbysterend vol fiemies is, sê buurman Patrick.

Om my stil te kry, gee hy vir my die webadres van 'n affêre wat my glo sal help om 'n . . . eh . . . penmaat te ontmoet. (Ek weier om dit 'n kafoefelwerf te noem.)

Daarop kan ek dit baie duidelik maak dat ek nét vriende wil wees vir minstens 'n paar jaar en wie weet, dalk kom ek mettertyd oor my vrees vir die liefde. En my gyte, sê Patrick.

Ná 'n week se erge gewroeg oor my skuilnaam, die kies van die kuisste gekamde-hare-met-vaalgesig-foto en hoe om myself in 'n neutedop te beskryf, druk ek die stoor-en-stuur-knop en vlug yskas toe.

Pieng, sê my foon. “Lekkalekkading has sent you a wink.” “Kawwassakki has sent you a message.” “Jaagter007 has invited you to view his private photos.”

Ek kyk onrustig vir die rekenaar. Al weer vir myself 'n lat gepluk. Con artists en perverts . . . Haal asem, sê Patrick. Niemand het jou persoonlike inligting nie en jy het die “blok”-opsie.

Lekkalekkading lyk soos 'n Spaanse boordbrommer onder 'n mikro­skoop, so groot is die 70's-sonbril. Hy rond dit af met 'n help-my-sterk-lyk-wêssie en 'n pietiebroek so hoog opgetrek, ek kry seer vir sy part(e). Sestien worshonde wriemel om sy sloffies waaroor geel toonnaels krul. Geel soos die vrekkende gras en die torings hondebolle om hom.

Hy soek nie 'n penmaat nie; eerder 'n sjef-cum-slaaf om te kom help in die boendoes: “ek vat nie nonsins van vroumense nie en ek willi meer so aleen bly nie want dis in die nag te stil hier. ek soek 'n regte vrou wat sal ondersteen met my swaarkry en n lekka boerekos maak en was en streik. ons sal die trekker lekka ouwerol en lekka braai en braaibrootjies maak en ons sal die lewe saam geniet en huil en lekka lag en saam die gewere blink vryf.” Ek wink nie terug nie.

Kawwassakki het net die basiese, verpligte inligting op sy profiel, soos ouderdom en land van herkoms, maar 'n skrikwekkende nabyfoto: Glurende bloedbelope oë, met 'n nóg rooier gesig en 'n padkaart blou are op sy hardehout-neus. Sy boodskap is op die man af. “Hoe lyk jy mét make-up?” En dis sy hele storie. Blok vir Kawwassakki.

Maar toe word my asem en brein weggeslaan. En nie oor aangename redes nie: Jaagter007. Op die eerste foto pronk ou Jaagter in 'n knoop-en-doop T-hemp en te klein lemmetjiegroen Speedo. Hy het 'n glas gevul met wie weet wat in elke hand en 'n sigaar halfmas in die mond. Sy hele profiel is 'n GESKREE MET ALLES IN HOOFLETTERS GETIK. “Ek is 'n dokter en die CEO van twee companies in Zim. Kom dat pappa die lewe vir jou soet maak met sy eie medisyne.” Erg naar, maar nuuskierig, kliek ek op die tweede foto. Ek moes nie. In 'n jacuzzi sit 'n man so harig dit lyk of hy 'n gorilla borsvoed. Blok, blok, blok.

Bleek en diep ontnugter blaai ek deur ander testosteroon-treurmares.

As hulle nie blatant belus is of met hul besittings en spiere spog nie, bombardeer hulle 'n mens met honderde selfies uit alle hoeke geneem. Of hulle is beswaard en diep dikbek, asof hulle nie eintlik op die webwerf wil wees nie.

Soos SnM van Despatch se “In 'n neutedop”: Whatever. Stokperdjies: Whatever. Voorkeure en vereistes ten opsigte van maat: Maak tog net wat jy wil.

1, 2, 3 . . . blok myself. Ek is oukei vir nóg 19 jaar.

Kommentaar

Republikein 2024-11-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 36° Rundu: 24° | 34° Eenhana: 21° | 36° Oshakati: 22° | 36° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 24° | 37° Otjiwarongo: 19° | 35° Omaruru: 18° | 36° Windhoek: 18° | 32° Gobabis: 17° | 32° Henties Bay: 14° | 20° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 16° | 31° Mariental: 16° | 31° Keetmanshoop: 14° | 30° Aranos: 16° | 31° Lüderitz: 13° | 29° Ariamsvlei: 14° | 30° Oranjemund: 12° | 26° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 17° | 32° Lubumbashi: 17° | 25° Mbabane: 12° | 19° Maseru: 9° | 20° Antananarivo: 18° | 30° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 20° | 25° Windhoek: 18° | 32° Cape Town: 16° | 23° Durban: 15° | 24° Johannesburg: 14° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 21° Harare: 18° | 26° #REF! #REF!