Dankie tog, nog nie rommel – maar Desember om die draai

Jo-Mare Duddy Booysen
Nellie Brand-Jonker - Dis net ’n blaaskans en uitstel van die onvermydelike. Só het ekonome gereageer op die nuus dat die internasionale kredietgradeerder Standard & Poor’s (S&P) nie Suid-Afrika se krediet­gradering tot rommel verander het nie.
Dit was wyd verwag dat S&P nie nou die land tot rommelstatus verlaag nie.
Die rand het binne minute ná die gradering versterk en was teen 17:50 Suid-Afrikaanse tyd Vrydag R15,13 per Amerikaanse dollar werd nadat dit die dag by R15,62 gedraai het.
Ontleders het gesê die reaksie in die markte gaan klein en moontlik positief wees omdat die verwagting dat Suid-Afrika afgegradeer word tot rommelstatus reeds in die rand en die skuldmark ingereken is. Die meerderheid ekonome glo nou dat die afgradering wel in Desember gaan plaasvind en dit net uitstel is.
Dié wat meer positief is, sê baie werk lê egter voor.
S&P het klem gelê op trae ekonomiese groei en waarsku dat hy die land later vanjaar of in 2017 sal afgradeer as beleidsmaatreëls nie ingestel word om groei aan te wakker nie.

Eerste risiko in 15 jaar
Suid-Afrika het vir die eerste keer in 2000 beleggingstatus van S&P gekry en sy gradering was sedertdien konstant bo die afsnyvlak na rommelstatus. Dit is dus die eerste keer wat die gradering in gevaar was die afgelope 15 jaar.
’n Kredietgradering is ’n graderingsagentskap se siening oor die kredietwaardigheid van ’n regering en die waar­skynlikheid dat ’n land sy skuldverpligtinge sal nakom.
Suid-Afrika se regering reik soos ander lande in die skuldmarkte skuldbriewe uit aan beleggers om sy begrotingstekorte te finansier. Dit is die tekort tussen hoeveel geld hy insamel met belasting en wat hy bestee aan infrastruktuur en dienslewering.
Van die wêreld se groot beleggers, soos reuse-pensioenfondse van oorsee, mag nie in staat­skuld belê wat ’n rommelstatus het nie.
Die kommer oor rommelstatus hou verband met die koste vir die staat om geld te leen. Terselfdertyd word alle banke en ander instellings in ’n land ook afgegradeer en dit maak dit ook duurder vir hulle om geld te leen.
“Die risiko vir die man op straat is as banke hul kredietverleningsvoorwaardes verder vasdraai en krediet opdroog, dat kleinhandelverkope drasties daal en ons in ’n resessie kan ingaan,” verduidelik Malcolm Charles, ’n portefeuljebestuurder van Investec Batebestuur.
As Suid-Afrika afgegradeer word, sluit hy aan by lande soos Rusland, Turkye en Brasilië wat reeds rommelstatus het.

Wyd verwag
Daar is wel wyd verwag dat die kredietgradering op Suid-Afrika se plaaslike of randskuld verlaag sou word, maar dit het nie gebeur nie.
Sowat 90% van die staatskuld is in rand uitgereik en ’n groot deel daarvan word deur buitelanders besit. Dié gradering bepaal dus hoeveel buitelandse belegging in die mark gekry word. Dié gradering is nog twee vlakke bo beleggingsvlak.
JB Smith, uitvoerende hoof van Rebalance Fund Managers, sê Suid-Afrika is deel van die wêreldindeks van staatseffekte en om in dié indeks te bly, moet die rand-skuldgradering op beleggingsgraad wees. “Dit is ons plaaslike kredietgradering wat buitelandse belegging in ons effekte beïnvloed.”
Hy glo die land is vir eers veilig in dié indeks omdat twee graderingsagent­skappe dié gradering tot gemors moet verlaag. Die indeks bepaal baiekeer hoeveel geld beleggingsfondse in ’n sekere land mag belê.
Sim Tshabalala, uitvoerende hoof van Standard Bank-groep, het S&P se besluit verwelkom, sê dit is net ’n tydelike uitstel.
“Ons is deeglik bewus daarvan dat hierdie ’n tydelike uitstel is en dat ons almal alles moontlik moet doen om ’n moontlike afgradering in die afsienbare toekoms te vermy.
“Die afgelope maande is daar massiewe vordering gemaak met die samewerking tussen die regering, die sakesektor en ander belangrike belangegroepe om die ekonomie te red en ’n stabiele, groeivriendelike omgewing te bevorder.
“Ons glo ons sal binnekort die positiewe impak hiervan in terme van groei en belegging sien.”
Mike Brown, uitvoerende hoof van Nedbank, maan dat die werk wat tans aan die gang is om strukturele hervorming van die ekonomie te bewerkstellig nou “sonder onderbreking of afleiding” voortgesit word.
“Die ontnugterende feit is, al hou S&P die gradering vir nou dieselfde, is die risiko aansienlik dat ten minste een graderingsagentskap die land gaan afgradeer tot onder beleggingsgraad teen die einde van 2016,” het Brown en Ralph Mupita, uitvoerende hoof van Old Mutual Opkomende Markte, gesê.
Hulle sê positiewe dinge het onlangs plaasgevind wat die geleentheid skep vir ’n verbetering in die ekonomiese vooruitsig. Een rede vir hul optimisme is die “werklike dialoog en samewerking” tussen die sakesektor, regering, arbeid en die burgerlike samelewing.
“Die krag, onafhanklikheid en integriteit wat deur belangrike instellings soos tesourie, die Reserwebank en die howe vertoon is, is ook gerusstellend.”
Brown meen die volgehoue invloei van geld in Suid-Afrika se effektemark vanjaar en die sukses van die internasio­nale staatseffek wat die tesourie onlangs uitgereik het, is dalk reeds tekens dat buitelandse beleggers nie so negatief is teenoor die land in die konteks van opkomende markte soos wat almal dink nie.
“Maar terselfdertyd toon die uitvloei van geld uit Suid-Afrika se aandeelmark weer werklike kommer oor die winspotensiaal vir maatskappye in die binneland . . .”
Elna Moolman, ekonoom van Macquarie, sê Suid-Afrika moet die blaaskans gebruik om die nodige veranderinge te maak om die land se langtermyngroei te verhoog.
Peter Attard Montalto, ontleder van die navorsingsmaatskappy Nomura, glo ’n afgradering is rakelings vermy en dit gaan nou waarskynlik in Desember kom. Hy beskou dit as onvermydelik. “Suid-Afrika se resessie-storie hou verband met die voortgesette onderprestasie van ’n ekonomie wat teruggehou word deur onsekerheid, ’n tekort aan samehorige beleid, belangrike hervorming en gereelde beleidsfoute. Dit is hoekom ons Suid-Afrika op ’n onvermydelike pad tot rommelstatus sien. Ons glo S&P sien Suid-Afrika reeds as gemors in hul agterkoppe.”
John Cairns, ’n valutastrateeg van RMB, verwag ’n emosionele reaksie op die besluit en dat die rand gaan versterk. Die rand het reeds in ’n groot mate ’n afgradering ingeprys.
- Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer