Dankie vir 19 jaar

Dani Booysen
EERW. EDWARD AMADHILA, TEGNIESE ADVISEUR VAN DIE TOV-SENTRUM OP TSUMEB, SKRYF:

Beste vriende en vennote

Vandag, op 16 Januarie 2020, is Tov 19 jaar oud.

Ons wil ons Hemelse Vader bedank dat Hy die organisasie begin en onderhou het deur sy engele in die hemel en op aarde. Ook vir die ongelooflike verhaal van Tov, ons ongelooflike vennote en vriende wat hulself diensbaar gestel het om die kinders in ons gemeenskap te help. Hulle het almal na ons klein gemeenskap gekom om te dien, om te gee en ons werk te ondersteun.

Van die groot organisasies soos die Europese Unie (EU) se ambassadeurs het ons klein gemeenskap ook al besoek en duisende Namibiese dollar belê. Veral sy eksellensie die voormalige ambassadeur van die Federale Republiek van Duitsland, mnr. Onno Hückmann.

Die huidige president van Namibië, dr. Hage Geingob, het Tov besoek toe hy nog eerste minister was, asook die voormalige eerste minister, mnr. Nahas Angula, en die huidige premier, me. Saara Kuugongelwa-Amadhila. Daar is te veel mense om op te noem wat ons gemeenskap oor die jare besoek het om ons buitengewone kinders te ontmoet.

Ek was uitgenooi om die verhaal van Tov te deel in Kanada, Pretoria en Johannesburg en kon ongelukkig nie uitnodigings na Swede, Mexiko en talle ander lande aanvaar nie. Mense wil die storie hoor van ons klein gemeenskappie op Tsumeb.

Ons maak 'n verskil omdat ons op die skouers van reuse staan. Om 'n paar te noem, ons beskermdame me. Kauna Ndilula en haar familie, ons grootste skenker, me. Mary Forsythe en familie, die Namport Investment Fund, Oshikoto Trust, Nasria, Namsov Community Trust, Yelula(me. Martha Pendapala Amupolo en haar span), Roads Authority, die Oshikoto-streeksraad en so baie ander. Ook ons mediavriende by Republikein, The Namibian, New Era, Namibian Sun en Informanté.

My goeie vriend, mnr. Erwin Tjipuka, was 'n groot bron van ondersteuning nog voor mense van Tov geweet het. Mnr. Ludwig Beukes, tans sekretaris-generaal van die Raad van Kerke in Namibië (CCN), het ons gehelp om 'n wêreldklasgrondwet vir Tov te skryf en hy het my gewys hoe om fondse in te samel.

Dankie aan my familie dat julle my toelaat om te doen waarvoor ek lief is - om die beste te gee om kinders uit die ghetto's, kambashu's en sinkhuise te haal en hulle te verander in wat God vir hulle wil hê.

Dankie! Dankie, vriende en vennote, vir jul ondersteuning van die Namibiese kind.

Mag God julle almal en Tov nou en vir altyd seën.

Kommentaar

Republikein 2025-04-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer