Dankie vir
Vandag soek ek iets, genadiglik nie moeilikheid nie, maar na mense wat my 17 jaar gelede ná 'n ligte ongelukkie in Suid-Afrika gehelp het.
Ek wil graag dié rubriek gebruik om die Van der Merwes van Namibië te bedank en te sê dat ek hul weldaad nie vergeet het nie.
Of dit wel die Van der Merwe-gesin van Namibië is, is ek nie seker van nie, maar laat ek vertel, en ek glo die regte mense sal wel by my uitkom.
Met my omswerwinge in die Kaap beland ek en my gesinnetjie in 2001 op 'n kleinhoewe wat langs die Bottelary-pad geleë is. Dié besige pad loop agter Brackenfell verby en verskaf 'n korter roete vir haastige padgebruikers, asook vir duisende fietsrygeesdriftiges.
So met die uitpakkery in ons nuwe woning ontdek ek my resiesfiets wat toe al vir die afgelope 10 jaar vanuit die motorhuis by my spook . . . Ek weet voor my siel dat ek die gatsaag in 1991 laas 'n trap gegee het, maar stof tog die gevaarte vir 'n ritjie daar newens die kelders af en geniet die trippie só dat dit 'n gereelde oefensessie word.
Die gereelde oefensessie het sommer gou in 'n daaglikse en later in 'n slaafse ritueel ontaard, en naweke, as daar 'n kompetisie was, het Van Lill gesorg dat hy sy beskeie merk maak.
So maak die Kaapse winter van 2002 saggies sy verskyning in April, maar niks stuit my om daagliks my 40 tot 50 km te ry nie. En ek moet bieg, sónder 'n valhelm om my dop te beskerm, was ek 'n ongeluk wat gesoek het om te gebeur.
Op 30 April 2002 is ek weer aan't oefen op die Stellenbosch-pad in die rigting van die Eikestad. Die suidoostewind stoot sy normale stormsterkte en ek lê laag in die Concorde se stuurstang.
Wat ek wel onthou, is dat ek iets getref het wat langs die pad in die noodbaan moes gestaan het. Toe is my ligte af – totale donkerte. Toe ek bykom, het ek op my knieë gestaan en iets het soos seegras in my mond en op my lippe gevoel. Toe die newels uiteindelik die wyk neem en ek soortvan kan neem dat daar mense om my is, het ek besef dinge het daardie dag nie te lekker vir my uitgewerk nie.
Ek het later by die polisie gehoor die Van der Merwes van Namibië het my eerste te hulp gesnel. Ek is tot vandag toe dankbaar vir hul wonderlike gebaar en sal dit nooit vergeet nie. As die Van der Merwes, of wie dit ookal was, vandag my rubriek lees, wil ek julle vra om met my kontak te maak sodat ek julle persoonlik kan bedank.
Vir fietsryers wil ek sê dit is nie die moeite werd om sonder 'n valhelm rond te rits nie.
Ek en 'n hele paar ander ryers het destyds gedink ons is vreeslik koel. Maar om met 'n gebreekte neus, kakebeen, erge harsingskudding en ander beserings te sit, was nie koel nie.
My kakebeen was tot onder my tong oopgeskeur en die senuwees en tand wat ek in die proses verloor het, het tot vandag toe nie teruggegroei nie. Soos ek die kar met my kop getref het, is my kopvel tot bokant my oë van my voorkop gestroop. Ek onthou die stukkie kopvel en hare so groot soos 'n ou R1-stuk wat op die teer gelê het – en die bloed. Baie daarvan.
Genadiglik was alles heel, maar die pyn was nie die moeite werd nie. My kakebeen is met 'n plaatjie geheg en aan die begin het dit gevoel of 'n ander ou se gebit daar ingebou is.
My bek is vandag nog skeef. My bolip en tandvleis het aanmekaar vasgegroei waar dit deurgeslaan het en genadiglik kon hulle my kopvel rek en strek en die ou spulletjie weer netjies vas- en toewerk.
Die senutergendste was die lê en waggery om te hoor of my nek werklik gebreek was of nie.
Ná bykans 16 uur se lê op 'n klipharde plank in Tygerberg en dosyne X-strale kon hulle my uiteindelik die groenlig gee om op te staan. Ek was lank laas so verlig. Ja ek het ná die teenspoed weer letterlik duisende kilometers gery en aan honderde byeenkomste deelgeneem. Maar mét 'n valhelm.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie