Danny Boy daag The Hitman uit
Paulus Moses het vir die veertigste keer in sy loopbaan 'n beroepsgeveg gewen.
Andrew Poolman
Nie al sy landgenote was beïndruk met Paulus (The Hitman) Moses se oorwinning met 'n tegniese uitklophou teen 'n Tanzaniese uitdager Saterdagaand nie.
Trouens, sy Namibiese eweknie Albinius Felesianu (ook bekend op sy vegname Danny Boy of Feel The Pain) hou tans ook 'n Afrika-titel in die liggwigklas en sê dis tyd om 'n geveg vir hom teen Hitman vas te knoop.
Moses is Namibië se mees ervare professionele bokser in die geskiedenis en voormalige liggewig wêreldkampioen van die Wêreldboksvereniging (WBA).
Hy was by die Windhoek Buiteklub eenvoudig in 'n ander klas as Saidi Mundi – wat sommer al in die eerste ronde besluit het die beste plan van aksie is om weg te hardloop en 'n veilige afstand te handhaaf.
Dié taktiek het hom darem tot in die vyfde ronde gedra, toe Moses hom twee keer platgeslaan het. Die tweede keer het die skeidsregter gevra of hy wil voortgaan en ná Mundi se antwoord het hy die geveg beëindig.
Die 39-jarige Moses het Saterdag reeds vir sy 43ste geveg as beroepsbokser deur die kryttoue geklim. Met sy rekord van 39 gewen (24 uitklophoue) en drie verloor was hy inderdaad 'n intimiderende figuur vir die uitdager vir sy WBO Afrika-titel.
Selfs teen 'n versigtige Hitman wat in die eerste ronde baie stadig begin het voordat hy sy houe begin gooi het, het Mundi aan die retireer geraak en die Namibiër moes amper na 'n draffie oorslaan om by te bly.
In die eerste drie rondes het Moses dus min kans gekry om betekenisvolle kombinasies bymekaar te sit, terwyl sy opponent sy beste twee opsies (ontwyk of vasgryp) uitgeoefen het.
In die vierde ronde het die Tanzaniër klaarblyklik 'n hou teen die agterkop gekry en het op een knie neergesak, maar voor die einde van die telling het hy opgestaan.
Voor die laaste klok het hy vlugtig kans gesien om een keer met mening vorentoe te storm en 'n wilde sarsie houe te slaan, maar vir die res van die ronde het hy Hitman se arms probeer vasgryp.
Nadat die einde in die vyfde ronde aangebreek het, het Moses sy WBO Afrika-gordel behou en is sy hande vir sy 40ste oorwinning as 'n beroepsbokser omhoog gehou. Dit was Mundi se vierde nederlaag, benewens 19 oorwinnings en een gelykopuitslag.
Die Namibiër is tans die derde aanspraakmaker op die WBO-wêreldranglys van liggewigte. Die WBO se wêreldgordel word sedert Julie 2015 deur Terry Flanagan van Brittanje gehou, maar Hitman is vasberade om homself in posisie vir 'n derde aanslag op 'n wêreldtitelgeveg te plaas.
'FEEL THE PAIN'
Felesianu, wat glo aan die stuur van Legacy Promotions die promotor van sy eie boksloopbaan is, het agterna aan die media gesê hy is geensins beïndruk deur Moses se vertoning nie en dat die voormalige wêreldkampioen niks bewys het nie.
Felesianu het ook uitgewys dat hy die Afrika-gordel van die Internasionale Boksfederasie (IBF) hou, wat een van die vier gerekende beheerliggame in die sport is.
“Die IBF is nie een van die kleintjies nie. Ek hou 'n titel wat iets beteken en wat nie misgekyk kan word nie.”
Oor laasgenoemde stelling is Felesianu doodreg. Van die IBF se huidige wêreldtitelhouers sluit in Anthony Joshua, Andre Ward, Gennady Golovkin en Errol Spence.
“Ek het van Swakopmund af gery om dié geveg te kom kyk, maar nou is ek jammer dat ek dié geld in die water gegooi het. Hitman het teen 'n 'nobody' geveg wat meestal weggehardloop het, maar wat hom nogtans met een hou getref het wat sy oogbank 'n bietjie laat swel het.
“As Hitman teen my te staan kom, sal hy uitvind waaroor 'Feel The Pain' gaan. Ek sal sy loopbaan beëindig. Skryf in julle koerant, die toeskouers sal graag so 'n geveg wil sien. Dit is tyd dat die vegknopers my uitdaging ernstig opneem.”
Felesianu het sy IBF Afrika-titel in Juliemaand by The Dome op sy tuisdorp Swakopmund met 'n eenparige punte-oorwinnning teen Jonas Segu van Tanzanië beklink. Felesianu se rekord staan op 14 gewen (ses uitklophoue), twee verloor en een gelykopuitslag.
BLY ONOORWONNE
In die voorgevegte het twee van die MTC Nestor Sunshine Tobias Boksakademie se blink vooruitsigte op die wenpad gebly.
Sakaria (Desert Storm) Lukas is vir sy WBO Afrika veergewigtitel uitgedaag en het ook sy onoorwonne rekord van 19 gevegte op die spel geplaas.
Hoewel sy uitdager Mudde Ntambi Rabisa van Uganda 'n uitgeslape vegter vol kunsies is (22 gewen, vier verloor, een gelykop), het die Namibiër hom in die derde ronde in die moeilikheid laat beland. Die Ugandees het op die krytvloer beland en het nie probeer om die telling van tien te klop nie.
• Jeremiah (No Respect) Nakathila het sy geveg vir die vakante WBO Afrika-gordel van die junior liggewigte met 'n uitklophou in die derde ronde beklink.
Dit was Nakathila se 14de oorwinning en sy enigste nederlaag was met punte, toe hy Evgeny Chuprakof verlede jaar in 'n titelgeveg in Rusland gaan uitdaag het.
• Die naweek se ander boksuitslae:
Weltergewig: Mika Shonena klop Laston Kaila van Malawi eenparig met punte in ses rondes (60-49, 60-49, 60-51).
Middelgewig: Paulinus Paulus klop Liberty Muwani van Zimbabwe met 'n uitklophou in die eerste ronde.
Kapokgewig: Die uitslag was amptelik gelykop tussen Andreas Amupolo en Japhet Amukwa nadat twee tellinghouers dit so aangedui het (38-elk), terwyl 'n derde gereken het Amupolo was met 39-37 beter.
Junior middelgewig: Charles Shimina klop Max Ipinge eenparig met punte (40-36, 40-36, 39-37).
Vlieggewig: Jacob Jacob klop Salatiel Moses eenparig met punte (40-38, 40-36, 39-37).
Superkapokgewig: Timoteus (Remember) Shuulula klop Ronald Tamani van Zimbabwe met 'n uitklophou in die derde ronde.
Weltergewig: Ebenestus Mendu Kaangundue klop Silas Mbandeya van Zimbabwe met punte in ses rondes.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie