Danny Boy het oog op nuwe titel

Boks
Tielman van Lill
Tielman van Lill

Albinius Felesianu (Danny Boy Albino) van Swakopmund gaan Saterdagaand in Windhoek die handskoene teen Emmanuel Amos van Tansanië vir die IBO Afrika-superliggewigtitel aantrek.

Felesianu (20 gevegte, 7 uitklophoue, 2 verloor, 1 gelykop) het op 28 Februarie 2015 in Outapi die vakante Wêreldboksfederasie (WBF) se interkontinentale liggewigtitel gebuit. Ses maande later (26 Augustus) het Danny Boy weer so gemaak toe hy op Ondangwa die vakante kontinentale Afrika-liggewigtitel van die Internasionale Boksfederasie (IBF) sy eie maak.

Vir die hardwerkende Felesianu, wat sonder vertoon en aandagsoekery sy ding doen, was dit nog nie die einde nie. Verlede jaar op 28 Julie daag hy Jonas Segu van Suid-Afrika by The Dome op Swakopmund uit vir die vakante kontinentale Afrika-liggewigtitel van die IBF, wat hy eenparig met punte beklink.

Sedert sy geveg teen Segu het Felesianu behoorlik in die kryt geboer. Op 29 Desember 2017 tref hy Laston Kayira van Malawië suksesvol met ‘n uitklophou en Lukhanyo Kaptein word drie maande later in Kaapstad sy volgende punte-slagoffer. In sy laaste geveg (25 Mei) is Danny Boy opnuut suksesvol met ‘n eenparige puntebeslissing teen Willis Baloyi in die Portugese-saal in Johannesburg.

Die titels

Saterdagaand is dit weer sulke tyd, en die keer sal die 19-jarige Amos van Mbezi in Tansanië sy keer in Windhoek moet ken wanneer hy en Danny Boy vir die vakante Internasionale Boksorganisasie (IBO) Afrika-superliggewigtitel deur die toue klim.

Alhoewel Amos (Sniper Man) se 19 jaar sommer nog jonk klink, is hy met 16 gevegte op sy getuigskrif nie meer ‘n snuiter in die kryt nie. Sy rekord van 12 oorwininnings (5 uitklophoue), 3 verloorgevegte en 1 gelykopuitslag sê heelwat meer van sy vermoëns as wat sy onskuldige seunsgesiggie jou vertel.

Sniper Man, wat op 12 Desember 2014 sy debuut as geldbokser gemaak het, sal beslis nie na Windhoek kom en nie ‘n geveg by die Sekondêre Skool A. Shipena se saal opsit nie.

Kaapstad

Die varsste nuus uit die Felesianu-kamp is sy voorgenome geveg op 28 September teen David Rajuili, die 29-jarige Suid-Afrikaner van Boksburg, wat met 20 gevegte en 11 uitklophoue spog.

Hy was al agt keer aan die verloorkant en het een keer gelykop geboks. In sy laaste geveg (30 Maart) het Rajuili die vakante Afrika-liggewigtitel van die Wêreldboksfederasie (WBF) teen Jonas Segu in Kaapstad met punte gewen.

Fellesianu sê hy en Rajuili gaan sake om die Afrika-boksunie (ABU) se suidelike superliggewiggordel uitspook, maar sy teenstander se grootmond staan Danny Boy beslis nie aan nie.

“Rajuili sê hy gaan my in die sesde ronde uitslaan; die man droom mos! Kaapstad moet hulle vir ‘n oorlog op 28 September voorberei. Dit gaan ‘n aardskuddende botsing wees en hy wat Rajuili is, gaan dan weet wat pyn is,” het Danny Boy verontwaardig gesê.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer