Dansers kry nuwe uitdaging

Die nuwe Namibiese Danssportliga sal landswyd met ’n beoogde tien kompetisies gehou word
Tielman van Lill
Tielman van Lill

Edmund van Neel van die Phoenix-dansateljee gaan môre van 18:30 by die Dagbreek-skoolsaal in Klein Windhoek sy nuwe opwindende liga vir 2022 bekend stel.

Die nuwe Namibiese Danssportliga is vir dansskole- en dansklubs bedoel om 'n nuwe uitdaging aan dansers te rig. Dié liga sal landswyd met ’n beoogde tien kompetisies gehou word, waarna die nasionale kampioenskap sal plaasvind.

Dansers sal slegs in twee afdelings met elkeen vyf dissiplines kan deelneem. By baldanse (ballroom) sal hulle met die slow waltz, slow foxtrot, tango, quick step en Vienna waltz meeding. Die Latyns-Amerikaanse afdeling bied die samba, cha cha, rumba, pasodoble en jive vir ’n lewendige vertoning.

Van Neel, ook van Danssport Namibië (DSN), sê die tyd het aangebreek om dans na Namibiërs te neem.

“Dans is vir almal en enige ouderdom. Dit is ’n ongelooflike ondervinding. Dit hou jou fiks en help om van daardie oortollige gewig ontslae te raak. Boonop leer dit jou en jou dansmaat dissipline en help met jou postuur.

“Ons gaan by die skole begin en na instansies soos Unam en Nust gaan om student en personeel te betrek. Bestaande dansskole en dansklubs moet by DSN geregistreer wees om Namibiese kleure te kan ontvang en die land internasionaal te kan verteenwoordig.

“DSN is by die Nasionale Namibiese Olimpiese Komitee, die Namibiese Sportkommissie, asook die Wêrelddanssportfederasie (WDSF) geregistreer. Daarom kon dansers in die verlede nasionale kleure vir deelname buite die landsgrense ontvang.

“Die Internasionale Olimpiese Komitee (IOC) het vanjaar vir die eerste keer breakdance as ’n sportsoort erken en sal by die 2024 Olimpiese Spele in Frankryk aangebied word.

“Die WDSF en ons baklei nou al jare lank met die IOC om danse soos ballroom en Latin as ’n sportsoort vir die Olimpiese Spele goedgekeur te kry. As breakdance dit kon maak, kan ons met die ander twee ook sukses bereik. Ons werk nou saam met Botswana en Suid-Afrika wat bereid is om ons te help om dié wonderlike sport te bevorder.

“Môreaand gaan instrukteurs en dansers diplomas en sertifikate ontvang en ons gaan ’n opwindende vertoning vir gaste met ’n ete hou. Dit is ons jaareindfunksie en volgende jaar pak ons die bul behoorlik by die horings,” het Van Neel gesê.

Kaartjies vir die geleentheid kos N$250, insluitend ’n ete en verwelkomingsdrankie, en dit begin om 18:30.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!