Dapper 12-jarige fnuik rowers se plan
Dapper 12-jarige fnuik rowers se plan

Dapper 12-jarige fnuik rowers se plan

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Die flinkdink-optrede van ’n dapper 12-jarige seun van Mariental het Woensdagaand omstreeks 20:00 die roofplanne van vyf gewapende mans gefnuik wat hom en sy oupa op ’n kleinhoewe by die Hardapskema oorval het.

Mnr. Dawie de Klerk het gister aan Republikein vertel sy broer, Riaan, het vroegaand saam met sy kleinseun, JR Strydom, by sy hoewe aangekom. Sy vrou, Conny, was saam met hul dogter, Caro (JR se ma), in Windhoek en daar was niemand anders tuis nie.

“Riaan was vir die dag na sy plase by Kalkrand en het op pad terug vir JR gaan oplaai om die aand by hom oor te slaap. Toe hulle op die grasperk by die huis stilhou, het die mans op hulle afgestorm. Drie was gewapen – een met ’n geweer en die ander twee met handwapens.”

De Klerk sê Riaan het in ’n stoeiery met die een met die geweer betrokke geraak en ’n skoot het afgegaan. Die mans het hom toe gegryp en sy voete en sy hande met kleefband vasgebind. Hulle het JR se selfoon gevat, maar voordat hulle Riaan se selfoon ook kon vat, het hy dit na JR gegooi en vir hom gesê: “Bel jou oom (Riaan se seun, Cobus). Hy is die laaste persoon wat ek gebel het. JR het absoluut kopgehou en net die redial-knoppie gedruk. Hy het nie gepraat nie, maar hard vir die aanvallers geskree: 'Los my oupa uit, moenie my oupa doodmaak nie! Julle is vyf en my oupa is net een’,” vertel De Klerk.

Hy sê hy is trots op die jong JR wat vinnig gedink en so dapper opgetree het. “Hy is absoluut die held van die verhaal. Hy het op sy voete gedink en ‘n 911-call na sy oom toe gemaak.”

Intussen het Cobus, wat baie duidelik kon hoor wat besig is om by sy pa se huis te gebeur, in sy voertuig gespring en soontoe gejaag. Hy woon nie ver van sy ouers af nie.

Met Riaan vasgebind, het die aanvallers JR beveel om vir hulle te wys waar die kluis is. Ook daar het hy kopgehou en vir tyd gespeel deur voor te gee dat hy verward is oor watter sleutel die kluis se sleutel is.

Intussen het Cobus aangejaag gekom. Volgens De Klerk het die rowers geskrik toe hulle die naderende voertuig hoor en weggehardloop.

Die huis is op die oewer van die Visrivier en hulle het die rivier in gevlug.

Toe De Klerk van die voorval hoor, het hy dadelik die landbougemeenskap gemobiliseer om te help met die soektog na die mans. Die polisie was ook baie vinnig op die toneel.

Komm. Eric Clay, die koördineerder van misdaadondersoeke in die Hardapstreek, het gister groot lof gehad vir die goeie samewerking tussen die boeregemeenskap en die polisie.

Die mans se spore is gevolg tot waar dit in die informele nedersetting weggeraak het. Teen druktyd gister is niemand al in hegtenis geneem nie.

Hierdie was die derde plaasaanval in sowat drie weke. Die eerste een was die nag van 20 Januarie toe mnr. Armin Riedel (68) en sy vrou, Brunhild (66), na bewering op hul plaas Grünfeld buite Gobabis oorval en vermoor is, waarna die plaashuis aan die brand gesteek is.

Hul skoondogter, me. Madelein Riedel, het vroeër die week aan Henriëtte Lamprecht van Republikein gesê niemand is al in verband met dié vermeende misdade aangekeer nie.

Die tweede een was die skokmoord laas Vrydagnag op die Botma-egpaar, Giel (79) en Sarie (80), van die plaas Lindeshof buite Koës.

Danksy die ewe vinnige optrede en grootskaalse mobilisering van die landbougemeenskap, is die drie vermeende moordenaars binne 24 uur aangekeer.

Kommentaar

Republikein 2024-11-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 39° Rundu: 24° | 36° Eenhana: 22° | 34° Oshakati: 24° | 32° Ruacana: 22° | 32° Tsumeb: 22° | 31° Otjiwarongo: 20° | 29° Omaruru: 22° | 35° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 22° | 31° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 24° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 23° | 36° Aranos: 23° | 37° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 22° | 37° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 23° | 31° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 17° | 31° Maseru: 14° | 29° Antananarivo: 15° | 32° Lilongwe: 21° | 31° Maputo: 22° | 34° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 18° | 25° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 26° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 22° | 34° Harare: 20° | 33° #REF! #REF!