Dapper Christopher se tweede stryd
Hulle berus daar is 'n rede hoekom hul seun vir 'n tweede keer teen kanker moet baklei, sê sy dapper ouers.
Henriette Lamprecht
Die hoop is dat hy Saterdag met sy sewende verjaardag uiteindelik vir 'n wyle uit die hospitaal kan gaan, maar vir nou is saal 8 Wes by Windhoek Sentrale Hospitaal sy tuiste waar hy vir die tweede keer teen akute limfoblastiese leukemie moet baklei.
Die sesjarige Christopher Oosthuizen van Windhoek is op 13 Januarie verlede jaar gediagnoseer en was September dieselfde jaar amptelik in remissie. 'n Jaar later is die kanker egter terug en ondergaan hy tans intensiewe chemoterapie in 'n poging om hom “skoon” vir 'n beenmurgoorplanting, die enigste ander opsie, te kry.
Hoewel dit 'n moeilike pad is wat hulle as gesin nou al amper twee jaar stap, gee sy alle eer aan “ons Hemelse Vader wat hom troos en sy hand elke dag vashou,” sê mamma Charmaine van den Heever.
“Hoewel ons nou alles weer van voor af moet doen, vind ons berusting by God, dat Hy vir Christopher gekies het vir 'n rede om hierdie pad te stap, al is dit net om ander mense te inspireer,” sê Charmaine.
VOOR DIE DIAGNOSE
Charmaine en ousus Michaela Oosthuizen (16) neem beurte om saans by Christopher in die hospitaal te bly, terwyl pa Gideon Louw deur die dag langs sy seun se bed sit. Die hoop is dat óf Michaela óf Charmaine 'n geskikte skenker sal wees.
Elke kind in saal 8 Wes is 'n voorbeeld van hoe om te reageer in die moeilikste omstandighede, sê Charmaine.
“Daar is baie kinders wat sonder enige ouers hier lê vir wie 'n verskil gemaak kan word. Ons het al baie sommer op 'n Saterdagmiddag vir hulle tjippies, vrugte en jogurt gevat.
“Hulle waardeer dit so baie, want hulle het niks,” sê Charmaine.
Christopher het in Desember 2018 siek geraak en is aanvanklik met mangelontsteking gediagnoseer, vertel Gideon. Hy het antibiotika gekry en beter geraak, maar toe die kursus klaar is, het sy toestand weer versleg.
Die voortekens van sy uiteindelike diagnose was dat hy baie bleek en sy lyfie vol blou kolle was wat niemand kon verklaar nie.
Bloedtoetse is geneem en Christopher is eers in die Katutura-staatshospitaal opgeneem omdat hy dringend bloed en plaatjies moes kry. Hy is die volgende dag na die Windhoek Sentrale Hospitaal oorgeplaas waar 'n spesialis bevestig het hy het akute limfoblastiese leukemie.
'EMMERS VOL PILLE'
Volgens Gideon het die eerste van vyf fases van Christopher se behandeling dadelik begin. Dit sluit lumbale punksies (die insteek van 'n hol naald in die lendestreek van die ruggraat om medikasie toe te dien) en chemoterapie in.
“Die eerste vier fases is redelik erg. Die derde is bietjie ligter om hom kans te gee om te herstel. Met die lumbale punksies spuit hulle die chemo in sy ruggraat. Dit is verskriklik seer, daarom word dit onder narkose gedoen,” verduidelik Gideon.
In die eerste vier fases van sy behandeling het Christopher gemiddeld nege tot tien dae in die hospitaal deurgebring.
Hy mag nie buite gespeel of kontak met diere gehad het nie en kon ook net sekere kos eet.
“Alles hang van die bloedtellings af. As die bloedtellings hoër was, kon hy buite speel en skool toe gaan.”
'n Week of twee gelede het dokters gesien Christopher se telling is “baie af” en is eers gewag dat dit weer optel.
Sy pildosis, deel van “emmers vol pille”, is ook eers gestop om sy lyf kans te gee om te herstel.
Toetse het gewys die kanker was terug en hy is op intensiewe terapie geplaas.
“Dit het gewys die chemo help nie en 'n beenmurgoorplanting is nou die enigste opsie.”
“Relapse”-protokol word nou gevolg waarvolgens Christopher “met chemo gelooi word” en sou dit doeltreffend werk, sal Charmaine en ousus Michaela getoets word om te bepaal of hulle geskikte skenkers is.
“Die doel is om hom terug in remissie te kry. Die chemo moet dus aangaan om hom so gou as moontlik hier te kry en kankervry te behou. Hoe vinniger, hoe beter. Dit kan nie meer stelselmatig gedoen word nie, daarom dat hulle dit nou 'force'. Die oorplanting wat in Suid-Afrika gedoen word, kan nie plaasvind as daar nog tekens van kanker is nie.”
SONDER MEDIESE FONDS
Oor die algemeen hanteer Christopher sy behandeling “verskriklik goed” sê Gideon.
“In die laaste byna twee jaar was daar een enkele dag wat hy siek was en opgegooi het. Ons het verduidelik daar is goggas wat doodgemaak moet word; hy begryp dit nog nie heeltemal nie.”
Die gesin het nie 'n mediese fonds nie en Gideon het vroeër sy werk bedank om deur die dag by Christopher te wees.
Vir enige bydrae of navrae oor sy behandeling en ook hoe om ander kinders in saal 8 Wes te ondersteun, kan Gideon by 081 755 3490 gekontak word.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie