Dapper daad, toe omring vlamme mans

’n 75-jarige boer en twee jonger mans is in ’n veldbrand by Outjo beseer.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - ’n Bejaarde boer van Outjo sterk saam met een van sy werknemers en ’n sekuriteitswag in ’n private hospitaal op Otjiwarongo aan nadat hulle verlede Maandag ernstige brandwonde tydens die bestryding van ’n veldbrand opgedoen het.

Hulle is die 75-jarige mnr. Horst Hobohm van die plaas Abachaus (Nr. 2025), en mnre. Nangolo Naaneoweni en Elias Johannes.

Die brand het op die omstrede hervestigingsplaas, Queen Sofia, ontstaan en na aangrensende plase versprei.

Johannes is in diens van Nyime Anti Poaching Unit, ’n private teenstropingseenheid, wat die Hobohms en hul buurman, mnr. Gert Coetzee, se vee en wild teen stropers beskerm.

Die mans is deur vlamme omring toe Hobohm gaan ondersoek instel het na Johannes se veiligheid.

Die Hobohms het die afgelope agt jaar etlike miljoen Namibiese dollar verloor deurdat 523 beeste en ’n groot getal wild na bewering deur inwoners van Queen Sofia gestroop is. Pleidooie vir ingryping deur die polisie het dadels van gekom en daarom maak hulle van Nyime se dienste gebruik, het me. Irene Hobohm (69) gister vertel.

Die veldbrand het volgens haar ontstaan toe ’n kiln wat op Queen Sofia gebruik word om houtskool te brand, smeulend onder ’n boom gelaat is en die boom aan die brand geraak het.

Sy sê haar man en vier plaaswerkers het verlede Maandagmiddag met ’n trekker en sleepwa, waarop die brandblusser is, na hulle grensdraad gery om voorbrande te maak toe dit blyk die veldbrand op Queen Sofia is buite beheer.

Hobohm het gister uit sy hospitaalbed in die Mediclinic waar hy saam met Naaneoweni en Johannes aansterk, aan Ester Kamati van Republikein se kantoor op dié dorp die gebeure geskets.

Hy vertel hulle het in ’n stadium terwyl hulle besig was om voorbrande te maak, voertuigspore gewaar en hy was bekommerd oor die veiligheid van die mense. Dit het hulle gelei na waar die sekuriteitswagte van Nyime se kampplek was. Hobohm sê hulle het soontoe gery en vir Johannes gewaar, maar dit het gelyk of hy verdwaas is en nie besef wat om hom aangaan nie. “Ek het besef dit is my plig om daardie man se lewe te red. Dit is hoe ek grootgeword het,” sê Hobohm.

Die volgende oomblik was die vlamme egter om hulle. “Al wat ek kon doen, was om deur die vuur te hardloop. Toe ek deur die vuur is, het ek gesien Nangolo (Naaenoweni) klim in ’n boom, maar ek kon nie vir Elias (Johannes) sien nie,” sê Hobohm.

Johannes het gister vertel hy het na die kampplek gegaan, want hy wou sy selfoon gaan haal en toe het die vlamme hom vasgekeer.

Die ander plaaswerkers het water oor hulle gegooi, hulle op die sleepwa gelaai en huis toe geneem.

Volgens Irene het sy het by tye teen 180 km per uur van die plaas af Otjiwarongo toe gejaag. “Hulle het heelpad in die motor van die pyn gekreun.

“Ons het ’n mediese fonds, maar die ander twee mans nie. Daarom het ek daardie aand N$22 000 aan die hospitaal betaal sodat hulle saam met my man opgeneem en behandel kon word,” sê sy.

Die mans sal na verwagting vandag ontslaan word. Naaneoweni en Johannes sal op Otjiwarongo agterbly om steeds as buitepasiënte behandeling te ontvang.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!