Dapper, nodige boek vir ons tyd
Dapper, nodige boek vir ons tyd

Dapper, nodige boek vir ons tyd

Lloyd Zandberg
J.B. Roux - In hierdie dae waar trauma­literatuur (ware verhale oor traumatiese lewensgebeure) so gewild is, maak dit heeltemal sin vir ’n uitgewer om ’n boek uit te gee waarin ’n vrou vertel hoe sy as dogtertjie misbruik en verkrag is; en die pad wat sy moes loop om heelheid te vind – veral met die Me Too-beweging in die agterkop.

Traumaliteratuur met ’n sensitiewe tema soos dié kan op sy ergste ’n selfbejammerende relaas word wat lesers verleë laat voel pleks daarvan om deernis en meelewing te wek.

Blake slaag egter goed daarin om dit juis nié te doen nie.

In dié boekie (’n raps oor die 80 bladsye) vertel die skrywer – ’n maatskaplike werker vir die afgelope 20 jaar – eerstens van haar eie, skrikwekkende ervaring en die ingrypende gevolge wat dit op haar gehad het.

Sy gee haar “verhaal” oortuigend, sober en eerlik mee – sonder om die intensiteit en uitwerking van haar eie ervarings (en dié van baie van haar lesers) gering te skat of dat dit nodig is om lesers met grafiese of oordrewe beskrywings te probeer skok: Dus nie sensasie-gedrewe nie.

Hoewel die skrywer haar woorde getel het, is die vertelling volledig genoeg – en op ’n vernuftige manier dien dit as agtergrond en gevallestudie vir die twééde deel van die boek: ’n gids waarin Blake lesers wat soortgelyke “bondels vuil wasgoed” met hulle saamdra, help om dié wasgoed gewas en gestryk te kry.

Haar raad is sinvol, prakties uitvoerbaar en word gerugsteun deur verwysings na hoe dié oefeninge Blake gehelp het om self voluit en gelukkig te leef.

Dis ’n dapper en onontbeerlike boekie hierdie.

Nugter weet hoeveel van ons, mans en vroue van alle ouderdomme, met onbeskryflike stukke seerkry in ons binnegoed rondloop en nie weet wat om daarmee te maak nie.

Katrienkie: Van hawegirl tot lady behoort saam met die Geelbladsye versprei te word.

J.B. Roux is ’n vryskutresensent van Riebeek-Wes.

Kommentaar

Republikein 2025-04-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer