Dapper SA manne red VN-lewens
Dapper SA manne red VN-lewens

Dapper SA manne red VN-lewens

'n Lugmagvlieënier is benoem vir dapperheid nadat hy en sy bemanning minstens tien soldate gered het.
Erika Gibson - ’n Suid-Afrikaanse lugmaghelikoptervlieënier is benoem vir ’n gesogte prys vir dapperheid by die Verenigde Nasies (VN) nadat hy en sy bemanning met rook en fakkels rebellemagte verwilder het wat ’n groep VN-soldate in ’n lokval vasgepen het.

Dié afskrik-taktiek het die rebelle só die skrik op die lyf gejaag dat die VN-soldate, onder wie ’n klompie Suid-Afrikaners, kon hergroepeer en hulle uit die voete maak.

Lt.kol. Stefan King (40), die offisier tweede in bevel van 19 Eskader op Hoedspruit, is benoem vir die Kapt. Mbaye Diagne-medalje vir dapperheid. Diagne was ’n Rwandese soldaat wat in die menseslagting in dié land in 1994 tientalle mense se lewens gered het terwyl Hutu’s op Tutsi’s jag gemaak het.

King is benoem deur die VN-kantoor in Goma in die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK), waar die heldedaad uitgevoer is, maar hy het dit nie gekry nie.

Dié medalje is nog net twee keer toegeken – elke keer postuum.

King het aan Rapport vertel hoe die voorval, waartydens hy waarskynlik die lewens van minstens tien VN-soldate van Guatemala gered het, in die donker nag gebeur het terwyl hy en sy bemanning nagsigmaskers gedra het.

“Dit is eienaardig dat juis óns optrede vir dapperheid uitgesonder is, want daar is daagliks soortgelyke – en baie erger – gevalle waar die VN-magte in die DRK in die spervuur beland.

“Ons het op 14 November verlede jaar ’n gewone logistieke steunvlug van Goma na Beni, noord van die hoofstad Kigali, gevlieg om voorrade vir die soldate te vat. Ons het met laaste lig geland.

“Een van die ander helikopterbemanningslede het kom sê ons moet dringend ’n groep soldate gaan help wat in ’n hinderlaag vasgepen was en besig was om lewensverliese te ly.”

Die Mi-24- en Rooivalk-aanvalshelikopters sou gewoonlik met so iets help, maar kan anders as King se Oryx nie snags vlieg nie.

“Ons het ons nagsigtoerusting opgesit en op pad na die hinderlaag het ek, my medevlieënier (lt. Ernest Hlungwane, en die vlugingenieur, adj.off. Fanie Jiyane, ons opsies oorweeg.

“Al wat ons gehad het, was fakkels omdat die Oryx nie wapens dra nie. Nader aan die toneel kon ons sien dat daar ’n hewige vuurgeveg was. Daar was reeds lewensverliese aan albei kante.”

Die vermoede is dat die rebelle lede was van die Allied Democratic Forces (ADF), ’n groep wat die gebied in Noord-Kivu (DRK) gereeld uit Uganda aanval.

“Die opdrag van brig.genl. Njabulo Dube, Suid-Afrikaanse bevelvoerder van die VN se ingrypingsmag, was om ten alle koste die soldate na veiligheid te bring.

“Tien van Guatemala se VN-soldate het kort voor die hinderlaag van die res van die groep afgesonder geraak toe hulle in ’n rivier gaan water haal het. Hulle was teenaan die rebellemagte vasgepen en het eenvoudig in die rivier skuiling gesoek en stil gelê.

“Ons het die aanvalspatroon soos dié van ’n aanvalshelikopter begin vlieg. Sodra ons naby die rebelle gekom het, het ons fakkels geskiet om die rebelle te intimideer. Dít het daartoe gelei dat hulle selfs op ons geskiet het en – minstens twee RPG’s (vuurpyl-aangedrewe granaatlanseerder-projektiele) is by ons verby. Agterna het ons gevind dat ’n AK-47-koeël deur een van die Oryx se hooflemme gevuur is. Ons het seker so 20 skynaanvalle op die rebelle geloods en in dié tyd kon ons aan die geweervuur op die grond sien dat die fakkels die gewensde uitwerking gehad het.

“Die Guatemala-soldate kon met dié afleiding weer by hul makkers aansluit en die groep het beheer oor die aanval herwin. Ons het ophou vlieg toe die Oryx se brandstof opraak.”

Terug in Beni het veral die Guatemala-soldate gesê King se bemanning het waarskynlik hul lewens gered.

King is beskeie oor sy benoeming en het aangedring daarop dat hy saam met die res van die bemanning benoem word.

“Dit is nie iets wat ons al ooit gedoen het nie en ek sal dit ook nie weer wil doen nie, maar met sowat 15 toere in die DRK as helikoptervlieënier, en die lugmag se deeglike opleiding, was dit net nog ’n dag in die DRK!”

King vlieg al 20 jaar in die lugmag en kan benewens die Oryx ook die ligte Agusta 109-helikopter vlieg.

Hy gaan eersdaags terug DRK toe. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!