Dapper spel word teen Pumas vereis

Rugby
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Die ooglopende gebrek aan ondervinding sal opnuut 'n groot kwesbaarheid wees in die geledere van die Windhoek Draught Welwitschias in hul tweede laaste wedstryd van die SuperSport-uitdaagreeks.

Die wegwedstryd teen die ISG Pumas in die imponerende Mbombela-stadion op Nelspruit (afskoptyd 15:00) is so naby as wat enige Namibiese rugbyspan ooit aan 'n Mission Impossible kan kom.

Die Pumas is onoorwonne in die kompetisie se noordelike groep en het vanjaar reeds die Valke (26-19), Luiperds (40-30), Goue Leeus op Ellispark (51-33) en Griekwas (37-28) opgevreet.

Geen span vanjaar kon nog die Pumas van 'n drieëbonuspunt weerhou nie en afrigter Jimmy Stonehouse se bulle is op koers om hul tweede titel in twee jaar te buit, nadat hulle laas jaar in die finaal vir Griekwas met 32-20 geklop het.

Die Namibiese span, wenloos ná vyf wedstryde, se nuwe kombinasie moes verlede naweek die eerste keer sy voete vind sonder enige van die nasionale spelersgroep wat vandag op hul toer na Uruguay vertrek.

Laas naweek het elf spelers wat van hul klubs opgeroep is, die eerste keer die Welwitschias op provinsiale vlak verteenwoordig, toe die Luiperds hulle in Windhoek met 81-8 oordonder het (rustyd 50-3).

In die Namibiese wedstrydgroep vir môre is elf spelers behou wat laas naweek hul debuut gemaak het.

Vir ses spelers sal die Mbombela-stadion hul eerste bekendstelling aan provinsiale rugby wees. FNB Unam se vlugvoetige heelagter en puntemasjien Lorenzo Louis kry uiteindelik 'n welverdiende kans om homself op 'n hoër vlak te toets. Paulus Hangula het al die Namibiese sewestrui gedra, terwyl die voorspelers Driaan Vorster (Wanderers) en die twee Walvisbaaise Kudus, Joshua Jacobs en Wilfred Saunderson, 'n betreklik onbekende faktor is.

Die sesde nuweling op die reserwebank, Chad Plato, het darem op verlede jaar se November-toer in twee toetse teen Spanje en Portugal uitgedraf. Hy is ook een van nege spelers wat Namibiese o.20-toere as deel van hul ondervinding hoër as klubrugby kan lys.

Hanreco van Zyl se bevordering van die bank af na losskakel bring mee dat die agterspelers Henrique Olivier, Milaan van Wyk en Jamie Joseph elkeen een posisie buitentoe skuif, terwyl die twee hakers Gerhard Thirion en Roderique Victor geroteer word.

Gevolglik is die kaptein en skrum­skakel JC Winkler, slotte Ruan Ludick en Rheinhardt Carelse die enigste drie spelers van laas naweek wat dieselfde truie as teen die Luiperds sal dra.

Ludick (18 toetse), Victor (4), Plato (2) en Russell van Wyk (9) is ook die enigste spanlede wat al op senior internasionale vlak ingespan is.

'n Oorwinning vir die Welwitschias is geheel en al buite die kwessie. Die beste waarop die Namibiërs kan hoop, is om op elke aspek van die vertoning teen die Luiperds te verbeter en om aan hul samespel te slyp, sodat hulle hoop kan kry om aanstaande naweek in Windhoek hul visier op die Valke te kan instel.

Enige dapper individuele vertonings sal ook 'n besliste regmerkie in hierdie Wêreldbekerjaar verdien. Die eerste groot uitdaging sal egter wees om die Pumas-agttal se wurggreep op die verrigtinge af te skud.

Windhoek Draught Welwitschias:

15 Lorenzo Louis (FNB Unam)

14 Jamie Joseph (FNB Wanderers)

13 Milaan van Wyk (FNB Unam)

12 Henrique Olivier (Rehoboth-rugbyklub)

11 Paulus Hangula (Rehoboth-rugbyklub)

10 Hanreco van Zyl (Trustco United)

9 JC Winkler (kaptein, FNB Western Suburbs)

8 Driaan Vorster (FNB Wanderers)

7 Kami Mieze (FNB Unam)

6 Joshua Jacobs (Kudus)

5 Ruan Ludick (FNB Wanderers)

4 Rheinhardt Carelse (FNB Unam)

3 Simon Kanime (FNB Unam)

2 Gerhard Thirion (Trustco United)

1 Wilfred Saunderson (Kudus)

Reserwes: 16 Roderique Victor (FNB Western Suburbs), 17 Graham April (FNB Unam), 18 Enzio Kotzee (FNB Unam), 19 Gilad Plaatjies (FNB Unam), 20 Jay-C Olivier (FNB Unam), 21 Chad Plato (FNB Unam), 22 Russell van Wyk (FNB Western Suburbs).

Die bestuurspan is Johan Diergaardt (afrigter), Llewellyn Winkler (hulpafrigter), Desiree Coetzee (spanbestuurder), Wilfred Bezuidenhoudt (spandokter) en Randall Louw (fisioterapeut).

Kommentaar

Republikein 2024-11-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 36° Rundu: 24° | 34° Eenhana: 21° | 36° Oshakati: 22° | 36° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 24° | 37° Otjiwarongo: 19° | 35° Omaruru: 18° | 36° Windhoek: 18° | 32° Gobabis: 17° | 32° Henties Bay: 14° | 20° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 16° | 31° Mariental: 16° | 31° Keetmanshoop: 14° | 30° Aranos: 16° | 31° Lüderitz: 13° | 29° Ariamsvlei: 14° | 30° Oranjemund: 12° | 26° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 17° | 32° Lubumbashi: 17° | 25° Mbabane: 12° | 19° Maseru: 9° | 20° Antananarivo: 18° | 30° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 20° | 25° Windhoek: 18° | 32° Cape Town: 16° | 23° Durban: 15° | 24° Johannesburg: 14° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 21° Harare: 18° | 26° #REF! #REF!