Dare to Care samel N$7 miljoen in
Dare to Care samel N$7 miljoen in

Dare to Care samel N$7 miljoen in

Danksy Namibiese maatskappye en ander ondernemings se skenkings kon dié droogtehulpfonds reeds altesaam 140 000 sakke veevoer subsidieer.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Engen Namibia het Vrydagoggend hul eerste skenking van N$850 000 aan die Dare to Care-droogtehulpfonds oorhandig.

Dit volg nadat die oliemaatskappy aangekondig het hy sal van 1 Junie tot 31 Augustus 5c aan die fonds skenk vir elke liter petrol wat by enige van sy vulstasies landswyd verkoop word.

Die geld sal maandeliks aan die fonds oorhandig word.

Engen se finansiële bestuurder, mnr. Lucien Mouton, sê die afgelope maand het Engen net minder as 70 miljoen l brandstof verkoop.

“Ons mikpunt is om volgende maand ‘n miljoen aan die fonds te kan oorhandig, maar daarvoor het ons die publiek se ondersteuning nodig.”

Die Namibië Landbou-unie (NLU) se uitvoerende hoof, mnr. Roelie Venter, het tydens die geleentheid gesê vóór Engen se oorhandiging het die fonds se balans op N$6,2 miljoen gestaan.

“Dié skenking sal dit oor die N$7 miljoen stoot, wat beteken ons beweeg nader aan ons mikpunt om N$10 miljoen in te samel,” het hy gesê.

Venter het gesê die fonds kon boere tot dusver met 108 000 sakke veevoer teen N$50 per sak subsidieer.

Engen se jongste bydrae sal dié syfer na ‘n totaal van 140 000 lig. Hy het gesê dit is besonders om te sien hoeveel Namibiërs in die huidige ekonomiese en droogtetoestande omgee.

Hoewel dit ‘n gesamentlike projek deur beide die NLU asook die Namibië Ontluikende Kommersiële Boere-unie (Necfu) is, baat alle boere – kommunaal of kommersieel – daarby.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer