Dash lok Bok-legende
Dash lok Bok-legende

Dash lok Bok-legende

Bergfietsry
Tielman van Lill
Tielman van Lill



Joel Stransky, voormalige Springboklosskakel wat die 1995 Rugbywêreldbeker vir Suid-Afrika met 'n skepdoel in die laaste sekondes van die eindstryd teen die All Blacks op Ellispark beklink het, sal in Desember die Nedbank Desert Dash vir die eerste keer aanpak.

Dit sal Stransky se eerste besoek in 'n lang tyd aan Namibië wees, maar hopelik nie die laaste nie.

Die 53-jarige Stransky, met 22 toetse in die Groen-en-Goud en 240 toetspunte agter sy naam (1993 tot 1996), is 'n gesoute bergfietsentoesias en sal die Dash oor 373 kilometer as 'n soloryer saam met 186 mans aandurf.

Stransky het in 2017 'n lewensgevaarlike val in die legendariese Cape Epic-bergfietstoer oorleef. In die volgende jaar se Epic het hy saam met Andrew McLean algeheel 61ste uit 678 spanne en derde van 75 spanne in die grootmeesterklas (50 en ouer) geëindig.

Stransky, wat sy eerste Cape Epic-toer in 2010 gery het, sê hy het nooit daarvan gedroom om eendag 'n podiumposisie by die Epic te behaal nie. Maar aangesien hy van nature 'n kompeterende persoonlikheid het, het hy sedertdien ook aan 'n hele aantal vollengte Ironman-triathlons deelgeneem.

Stransky sê op health24.com: “Dit was 'n ongelooflike gevoel om ná die 2018 Epic op die podium te staan! Nadat ek van my beserings herstel het, het ek nie in die verlede geleef nie, maar my op die hede en toekoms toegespits om vir die 2018 Epic voor te berei. Die rede hoekom ek suksesvol was, is omdat ek 100 persent gefokus was en nie in die verlede geleef het nie.”

Volgende jaar se Cape Epic sal reeds Stransky se tiende deelname wees en Arrie Rautenbach, Absa se uitvoerende hoof vir korporatiewe sake en verkope, is sy bestemde spanmaat wat ook saam met hom vir die 2020 Dash se solo-afstand ingeskryf het.

Die Bokheld wou aanvanklik die Khomas Hochland en die Namibwoestyn as lid van 'n tweemanspan tem, maar het besluit om die uitdaging as 'n soloryer te te pak. “Ons het gehoor die roete deur die berge en Namib is ongelooflik mooi en toe het ons besluit om elke meter self tot in Swakopmund te ry!”

Hy het twaalf jaar gelede begin bergfiets ry nadat hy uitgedaag is om die Cape Epic vir liefdadigheid te ry. “Vandat ek met uithoukompetisies begin het, het dié gogga my behoorlik gebyt. Behalwe die nege Epics wat ek suksesvol voltooi het, het ek drie Ironman-triathlons agter die rug.

“Verlede jaar het ek die Epic, 'n Ironman, die Twee Oseane ultra-marathon (56 km) asook die Comrades-ultramarathon (90 km) vir liefdadigheid voltooi. Behalwe dié vier kompetisies het ek ook al vir liefdadigheid van Robbeneiland na Bloubergstrand geswem!

“Ek het al baie van die moordende Desert Dash en die mooi natuurskoon gehoor. Natuurlik gaan dit 'n lang en moeilike uitdaging wees, maar ek is vertel om in die nag deur die Namib te ry, is 'n ongelooflike belewenis. Dit kan dalk onheilspellend, maar tog mooi wees!

“Daar is geen manier dat ek die Dash wil wen nie. Dus het my oefenprogram nie veel verander nie. Daar sal wel 'n paar langer ritte van ses ure wees en 'n paar naweke sal ek 'n dubbele dosis hiervan ry. Ek gaan die Dash teen 'n bestendige pas ry en elke oomblik geniet!

“Ek sien uit daarna om meer van Namibië te sien en veral die kus is hoog op my lysie!” het Stransky aan Republikein vertel.

– Bykomende bron: health24.com

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!