Davies se kaarte vir Japan vandag ontbloot

Die verwagte weglating van ­Renaldo Bothma, wat hy gister op sosiale media laat blyk het, kan die opskudding lewer.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Die aankondiging van Namibië se 31 uitsoekspelers vir die 2019 Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan vandag sal die aftel na die begin van die toernooi op 20 September skerp in fokus plaas.

Die nasionale afrigter, Phil Davies, sou gister sy moeilike taak afgehandel het om gesprekke te voer met die enkele ongelukkige spelers wat nie die paal gehaal het nie.

Afhangend van hoe die Wallieser besluit om sy groep se samestelling van voor- en agterspelers te finaliseer, lyk dit meer waarskynlik dat die verdeling 18-13 eerder as 17-14 sal wees.

Namibië is soos altyd geseën met 'n wêreldklas vervoerband van losvoorspelers, maar juis dit sal Davies se taak moeiliker (en inderdaad onaangenaam) maak om 'n paar werklike staatmakers van die afgelope vier jaar uit sy toergroep weg te laat.

Selfs indien Pieter-Jan van Lill van Bayonne in Frankryk, wat soveel van sy rugby as agtsteman gespeel het, soos in die 2015 Wêreldbeker op slot gebruik word, laat dit steeds net plek vir hoogstens ses losvoorspelers

Janco Venter (Jersey Reds), Wian Conradie (Pukke) en Max Katjijeko (FNB Unam), wat ook op slot kan diens doen, was die lostrio wat in Juniemaand die geskiedkundige wentoets teen Uruguay in Montevideo begin het.

Venter (31 toetse), Conradie (17) en Katjijeko (13) kan tans waarskynlik die sekerste van hul plekke voel, maar in die keuse van net nog drie tussen die ouer garde Rohan Kitshoff (44 toetse), Renaldo Bothma (17), Thomasau Forbes (17) en die jonger geslag Adriaan Booysen (5) en Prince !Gaoseb (2) sal 'n fyn balans tussen ondervinding en 'n belegging in jeug gevind moet word.

Venter, Conradie, Kitshoff en Bothma het almal die 2015 Wêreldbeker in Engeland agter die blad, terwyl Kitshoff ook in 2011 die skouspel in Nieu-Seeland bygewoon het.

Bothma se aankondiging van sy internasionale uittrede gisteraand op sosiale media is 'n betekenisvolle aanduiding dat sy naam nie vanoggend uitgelees gaan word nie. Hy is straks tans die land se mees hoëprofiel rugbyspeler, maar ná die voorarm wat hy binne twee jaar drie keer gebreek het, was daar min tyd oor om sy fiksheid bo twyfel te bewys.

Die keuse van drie hakers – Torsten van Jaarsveld (Bayonne), Louis van der Westhuizen (Luiperds) en Obert Nortjé (FNB Unam) – lyk vanselfsprekend, met eersgenoemde twee wat op hul vertonings vier jaar gelede in Engeland sal voortbou.

Davies se ander moeiliker keuse behoort op stut te lê. Hy sal na verwagting net vyf uit die ses kandidate na Japan saamneem, naamlik Aranos Coetzee (Vrystaat-Cheetahs, 21 toetse), Casper Viviers (Suresnes in Frankryk, 37), AJ de Klerk (Wanderers, 28), Nelius Theron (Luiperds, 5), André Rademeyer (Wanderers, 3) en Desiderius Sethie (Unam, 12).

Op slot is Tjiuee Uanivi (30 toetse) die logiese eerste keuse, terwyl PJ van Lill (Bayonne, 50 toetse) en Johan Retief (Luiperds, 7 toetse) ook die pyp sal rook.

Mahepisa Tjeriko het die afgelope naweek op sosiale media die hartseer aankondiging gedoen dat hy vanweë sy verlore stryd teen knie- en skouerbeserings sy geliefde spel rugby vaarwel toeroep. Die 26-jarige Unam-speler (11 toetse) was soos 'n Bakkies Botha 'n man wat met sy fisieke inklimspel by losskrums, as baldraer of verdediger sy merk gemaak het – hoewel juis hierdie soort slot se risiko van beserings of strafkaarte saam ingebou is.

Die lange Ruan Ludick (Wanderers) en sy jonger broer Adriaan Ludick (Boland Kavaliers) is nog twee kandidate op slot, maar vir wie daar sekerlik nie beide plek sal wees nie.



AGTERSPELERS

Eugene Jantjies, reeds die nasionale rekordhouer met 67 toetse, behoort vandag dwarsoor die rugbywêreld die hoofopskrifte te maak wanneer hy die eerste Namibiër word wat vir sy vierde Wêreldbeker gekies word.

Die 33-jarige skrumskakel was in Frankryk 2007, Nieu-Seeland 2011 en Engeland 2015 in aksie.

Damian Stevens (Haaie, 25 toetse) kies homself as die ander skrumskakel, met Helarius Kisting se veelsydigheid (ook heelagter of losskakel) wat vir hom die knoop behoort deur te haak. Spanne soos Engeland en Australië het verras met net twee spesialiste in dié posisie, waarvan elke wedstrydgroep normaalweg twee bevat.

Agterlangs het die koelkop losskakels Cliven Loubser en PW Steenkamp hulle reeds as slaggereed bewys om die mantel oor te neem by Theuns Kotzé, die nasionale punterekordhouer (430 in 40 toetse), wat as 32-jarige straks die mees invloedryke uittrede sedert die vorige toernooi is.

Die buite-agterspelers Johan Deysel (die waarskynlike toerkaptein), Darryl de la Harpe, JC Greyling, Johann Tromp en Chrysander Botha behoort almal op hul pos te wees vir nóg 'n Wêreldbeker saam.

Lesley Klim, 'n briljante aanvaller wat klaarblyklik die dyspierbesering afgeskud het wat hom by sy Walliese klub Ospreys geteister het, sal gewis nie sommerso agtergelaat word nie.

Oderich Mouton se verskuiwing vanaf nasionale o.19-agtsteman na toetsvleuel was volgens alle aanduidings suksesvol genoeg tydens die Wêreldrugby Nasiebeker-reeks in Uruguay in Juniemaand, vir Davies om die geloof in sy spoed, krag, lengte en atletiese vermoëns met 'n WB-insluiting te beloon.

Dit laat waarskynlik plek vir hoogstens nog één buite-agterspeler – waar die keuse tussen Justin Newman, Chad Plato, PJ Walters, Janry du Toit, Gino Wilson en Russell van Wyk lê. Laasgenoemde twee se stryd teen ontydige beserings het vanjaar hul kanse belemmer om met hul beste aanslag vorendag te kom.

Teen gister was Ierland en Rusland (groep A), Namibië en Kanada (groep B), Tonga en die VSA (groep C), Georgië en Wallis (groep D) die uitstaande lande wie se WB-groepe nog aangekondig moes word. Die sperdatum hiervoor is komende Sondag.

Allerweë word Kanada uitgewys as die span vir wie Namibië vir 'n eerste sege in 'n WB-toets wil teiken. Die feit dat dié ontmoeting egter vir beide spanne wedstryd nommer vier is in 'n groep wat ook Italië, die Springbokke en die All Blacks as swaargewigte bevat, spreek van die tipe reserwe­krag wat vereis word om Davies-hulle se missie suksesvol te maak.

• Teen gister was die tyd en plek van vandag se groot aankondiging steeds 'n geheim. Hou egter wel Republikein se Facebook-blad dop vir regstreekse videodekking van die gebeurtenis.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!