DBV bekommerd oor perde
DBV bekommerd oor perde

DBV bekommerd oor perde

Die handel in perde vir slagdoeleindes het skielik toegeneem en kommer heers oor hoe die diere hanteer en bekom word.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Windhoek onderhandel tans met plaaslike diereskuilings om standaarde in te stel voordat hulle perde aankoop om hul karnivore te voer.

Dit is om te verseker die diere word wettig en op ‘n menslike wyse verkry, vervoer en hanteer.

Die DBV se uitvoerende hoof, me. Monique Redecker, het gister aan Republikein gesê hulle het genoeg rede om bekommerd te wees dat sommige perde wat aan die skuilings verskaf word, gesteel is. Sy sê gesteelde diere wat vir verslagting bedoel is, word dikwels nie op ‘n menslike wyse hanteer nie.

Dit volg nadat die polisie onlangs 23 perde en donkies gekonfiskeer het toe gepoog is om hulle oornag weg te neem van ‘n kleinhoewe buite Keetmanshoop.

Die kleinhoewe word tans deur die polisie vir perdediefstal en dieremishandeling ondersoek.

Redecker skryf die skielike toename in die handel van perde toe aan die feit dat hulle as kos vir karnivore by skuilings gebruik word en daar glo ook ‘n groeiende mark is van mense wat die vleis eet.

Sy sê die perde word vir tussen N$1 500 en N$2 000 verkoop.

“Die DBV verneem dat perde so een maal per maand in Katutura afgelaai word en die vleis dan onder mense verkoop word – dit verkoop goed, want dit is goedkoper as vleis in winkels,” het sy gesê.

SKUILINGS

Volgens Redecker werk hulle reeds sedert Mei vanjaar saam met vier skuilings - waarvan sommige internasionaal bekend is - om standaardprosedures in te stel.

Sy wil hê hulle moet eers vasstel of die perde wettig aangeskaf is, met menslikheid gevang, aangehou, versorg en vervoer is, voordat hulle dit as kos vir karnivore koop.

Sy het gesê sy kry nie noodwendig die gewenste samewerking van die skuilings nie en dat een daarvan nog nie op haar versoeke gereageer het nie. Dit het haar slegs na sy regsverteenwoordiger verwys, maar het sedertdien nog nie weer met die DBV gekommunikeer nie.

Die DBV wil nie nou al die name bekend maak van die skuilings saam met wie dit werk nie, maar sê ‘n mediaverklaring sal later uitgereik word.

“Ons doel is om die skuilings se hand te neem om seker te maak sekere prosedures is ingestel as dit by die perde kom wat hulle vir karnivore voer.

“Ek dink dit kan net in die skuilings se guns tel as hulle kan sê hulle het ons steun. Hulle het ook ‘n verantwoordelikheid om seker te maak hiervan, aangesien hulle ‘n mark vir die perde skep,” het sy gesê.

Intussen het die Perdeliefhebbersvereniging ook gesê hy doen ondersoek waarom jong, gesonde perde aan karnivore op skuilings gevoer word sonder dat enige een probeer vasstel wat die oorsprong van die perde is.

Die vereniging het foto’s geplaas van die perde wat op ‘n beeslorrie sonder water of ‘n dak vervoer word.

VERVOER DIERE SÓ

Intussen het die DBV ook ‘n regskennisgewing uitgereik oor die korrekte manier om diere te vervoer.

Dit volg nadat nog ‘n klag van dieremishandeling verlede week aanhangig is teen iemand wat drie perde van ‘n plaas buite Rehoboth na Outapi wou vervoer, wat tot die besering van die perde gelei het.

Diere mag nie aan hul kop, vel, ore, stert, horings, bene of vlerke gesleep, opgetel of gedra word nie. Skokinstrumente moet matig gebruik word, maar mag nie in die dier se gesig of op geslagsdele gebruik word nie. Dit mag glad nie vir perde, muile, donkies, varke, skape, bokke en ongespeende kalwers gebruik word nie.

Blinde, lam, ernstig beseerde of misvormde diere mag nie vervoer word nie – hulle moet onmiddellik sorg van ‘n veearts ontvang of op ‘n menslike wyse van kant gemaak word.

Waentjies of voertuie waarmee diere vervoer word, moet van so 'n aard wees dat die diere nie gly nie en ‘n stewige, gelyke oppervlak bied. Dit moet ook goeie dreinering bied sodat die diere nie val en hulself beseer nie.

Dit moet genoegsame ventilasie bied en die kante of symure moet keer dat die diere nie uitval of vasgevang kan raak nie. Enige los goedere of voorwerpe wat uitstaan en die diere kan seermaak, moet verwyder word.

Varke moet teen weerstoestande soos reën en die son beskerm word.

Diere mag nie vasgemaak word op ‘n manier wat pyn kan veroorsaak of daartoe kan lei dat die dier homself beseer nie. ‘n Waentjie of voertuig mag nie oorlaai word nie en verskillende diersoorte, diere van verskillende groottes of van verskillende geslagte, moet apart vervoer word.

Horinglose diere mag ook nie saam met diere vervoer word wat nog hul horings het nie.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer