DBV pleit by Chinese ambassadeur

Die brief volg op die ontdekking van ’n onwettige slagtery na aanleiding waarvan ’n Chinese burger van wreedheid teenoor diere aangekla is.
Jacqueline Louw
Jacqueline Louw - Die beweerde voortgesette verontagsaming van Namibiese wette en kultuur deur Chinese burgers het die Dierebeskermingsvereniging (DBV) genoop om die Chinese ambassadeur in Namibië om hulp te nader.

In ’n brief deur die DBV se uitvoerende hoof, me. Monique Redecker, aan die ambassadeur versoek dié vereniging sy ondersteuning om Chinese burgers oor die wet op dierebeskerming, asook oor wette rakende die aankoop, besit en doodmaak van wilde spesies “wat aantreklike kosse onder sekere lede van jul gemeenskap blyk te wees” in te lig.

Dié brief volg op die ontdekking van ’n onwettige slagtery op die besigheidsperseel van Orient Dragon Construction na aanleiding waarvan ’n Chinese burger in Oktober verlede jaar ondersoek is en aangekla is van wreedheid teenoor diere.

In haar brief sê Redecker die voorval het ook ’n wildmisdaad ingesluit, aangesien skilpaaie, ’n beskermde spesie, ook op die perseel aangehou is.

“Daar word aanvaar hierdie diere was ook vir die kookpot bestem,” lui die brief.

Sy noem verder die vlak van wreedheid teenoor die diere het die stadspolisie se ondersoekbeampte geskok en dit was die ergste geval van dieremishandeling wat hy nog gesien het.

Redecker sê ook daar is verskeie verslae oor soortgelyke wreedheid oor die afgelope paar jare ontvang, maar dit het grootliks ongestraf verbygegaan omdat die DBV beperkte toegang tot hulpbronne het.

Volgens haar lyk dit of Chinese burgers ’n mark is vir skilpaaie wat deur hoofsaaklik arm Namibiërs gevang en verkoop word.

Sy sê hierdie Namibiërs sal hulself ook aan die verkeerde kant van die reg bevind.

In haar brief sê sy voorts ’n bewusmakingsprogram onder leiding van die Chinese gemeenskap en die ambassade kan bydra tot die bekamping van dieremishandeling en wildmisdade deur Chinese burgers in die soeke na “eksotiese” kos.

In antwoord op die DBV se pleidooi het ambassadeur Zhang Yiming gereageer deur te sê die Chinese ambassade in Namibië het van die probleem kennis geneem en is besorg daaroor.

“Ek herhaal graag die langdurige en duidelike posisie van die Chinese regering oor die beskerming van bedreigde of beskermde spesies. Die ambassade was nog altyd toegewy aan die opvoeding van Chinese burgers in Namibië om aan Namibiese wette te voldoen en om plaaslike gebruike te respekteer,” het hy in sy antwoord gesê.

Hy het verder die versekering gegee dat sy ambassade met die maatskappye en individue wat by die voorval betrokke was, geskakel het en dat hy terugvoering aan die DBV sal gee “sodra ons ’n volle begrip van die situasie het”.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer