DBV wen teen dorpsraad

Marc Springer - In die eerste saak van sy soort het die Dierebeskermingsvereniging (DBV) van Oshana in ’n dringende hofaansoek die vrylating van diere in aanhoudingskrale van die Ondangwa-dorpsraad geëis.

Die diere was vir weke sonder voldoende kos aangehou.

Ingevolge die bevel wat regter Herman January Vrydag uitgereik het, word die stadsraad verbied om diere in die krale by Olundo toe te sluit totdat spesifieke regulasies opgestel en hul welsyn verseker is. Die hoërhof in Oshakati het ook beveel die DBV moet as klaer die regulasies kontroleer en goedkeur voordat dit geïmplementeer kan word. Sodra die aanhoudingskrale weer gebruik kan word, moet die DBV gereeld oor die getalle en toestand van die aangehoude diere in kennis gestel word. Foto’s van die diere moet by die verslae aangeheg word.

Die tussentydse bevel is gebaseer op die klagte van die DBV, asook die beëdigde verklaring en verduideliking van die DBV-voorsitter, me. Charmaine Maritz, en die instansie se prokureur, me. Wilmarie Horn. In die verklaring word gesê die DBV is op 17 Desember 2017 ingelig van beweerde dieremishandeling by die aanhoudingskrale van die dorpsraad. Beeste, varke, bokke, skape en donkies is aangehou nadat hulle onbewaak in Ondangwa rondgeloop het en die dorpsraad beslag op hulle gelê het.

Omdat die verantwoordelike veeartseny-owerheid nie die klag opgevolg het nie, het Maritz self op 5 Januarie na die aanhoudingskrale gegaan. Sy het afgekom op tien varke, sewe bokke, sewe donkies en talle beeste wat uiters ondervoed was en waarvan sommige beseer was.

In die krale het dooie en vrekkende diere gelê. Die hokke was besoedel met glasstukkies, plastiek en ander vullis. Die bietjie gras in die hokke was deurnat en vrot, en daar was bykans geen water vir die diere nie.

Maritz het op die DBV se kostes onmiddellik gras en lusern vir die diere gekoop en met die hulp van ’n veearts twee van die diere voorlopig laat versorg.

Sy het met twee veiligheidswagte by die aanhoudingskrale oor die onhigiëniese toestande van die hokke gepraat. Die mans het gesê die diere word net een keer per week gevoer en dat hulle van honger vrek as die eienaars hulle nie kom haal nie.

Volgens Horn het die besturende direkteur van die dorpsraad vir haar gesê die diere is nie 'n prioriteit nie en is niemand vir hul versorging verantwoordelik nie. Horn het daarop gewys dat die klaers daarom 'n afsonderlike klag van dieremishandeling teen die dorpsraad ingedien het.

Toe die dorpsraad die hofbevel geïgnoreer het, het Horn ’n verdere klag van verontagsaming van die gereg teen die dorpsraad voorberei. Derhalwe het die dorpsraad volgens Horn ooreengekom om die diere wie se eienaars nie bekend is nie, vry te laat. As die geïdentifiseerde eienaars nie die oorblywende diere teen gisteraand afgehaal het nie, sou hulle ook vrygelaat word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!