De Klerk binnekort hier, Ysland-uitlewering sloer

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer – Wanneer die beskuldigdes in die twee Fishrot-verhore vandag hul tweede verskyning die hoërhof in Windhoek maak, sal dit weer sonder mnr. Marén de Klerk en die Yslanders, mnre. Egill Helgi Arnason, Ingvar Juliusson en Helgason Adelstein wees.

De Klerk, wat na bewering as betaalmeester ingespan is om omkoopgeld vir viskwotas na begunstigdes te kanaliseer, kan egter binnekort in Namibië aankom.

“Mnr. Marén de Klerk sal binnekort uitgelewer word,” het me. Gladice Pickering, uitvoerende direkteur van justisie, gister by navraag gesê.

Sy sê haar ministerie is in gesprek met hul Suid-Afrikaanse eweknieë en sake “lyk goed” vir sy spoedige uitlewering.

Die Suid-Afrikaanse minister van justisie en korrektiewe dienste, mnr. Ronald Lamola, moet net die dokumente afteken, waarna die lasbrief vir sy inhegtenisneming geëndosseer kan word, sê sy.

“Ons weet waar hy hom bevind; ons het ’n fisiese adres,” sê Pickering. Oor waar dié adres is, wou sy nie sê nie.

Dié Windhoekse prokureur en sy gesin besit ’n strandhuis op Langebaan aan die Weskus. In hofstukke waarin hy verlede jaar ’n aansoek teengestaan het om hom as eksekuteur van bepaalde boedels te verwyder, het hy volgehou hy vrees vir sy lewe en dit is waarom hy na Suid-Afrika gegaan het. Hy het laat blyk dat daar reeds pogings in dié verband was.

Wat die uitlewering van die drie Yslandse burgers betref, verloop sake minder vlot. Die kantoor van die aanklaer-generaal wil hê hulle moet vanweë hul betrokkenheid by vismaatskappye in die Samherji-groep wat na bewering deel was van die Fishrot-bedrogspul, hier vervolg word.

“Ons vertaal net nog die formele aansoek in Yslandies, dan stuur ons dit aan dié land se owerhede,” sê sy.

Volgens haar hoef die volledige klagstaat en al die bykomende dokumente nie vertaal te word nie en kan dit in Engels voorgelê word. Die formele aansoek moet egter in Yslandies voorgelê word.

“Wat die aansoek aan Ysland betref, is die proses natuurlik meer ingewikkeld aangesien ons (Namibië) nie ’n uitleweringsooreenkoms met Ysland het nie.”

Sy sê die ministerie steun daarom in sy aansoek op internasionale instrumente soos die internasionale wetgewing wat bepaal dat as ’n land nie sy burgers wil uitlewer nie, moet hy hulle daar aankla en vervolg.

Die ander regsinstrumente waarop die aansoek steun, is die Strafregkonvensie op Korrupsie en die Verenigde Nasies (VN) se Konvensie teen Transnasionale Geörganiseerde Misdaad, sê Pickering.

“Ons probeer dit bespoedig, maar dit gaan ongelukkig nog ’n tydjie vat,” het sy gesê.

Die tien beskuldigdes in die twee Fishrot-sake – Fishcor en Nangomar – wat weer vandag voor regter Christie Liebenberg moet verskyn, is die voormalige ministers van justisie, mnr. Sacky Shanghala, en van visserye en mariene hulpbronne, mnr. Bernard Esau; die voormalige uitvoerende hoof van Fishcor, mnr. Mike Nghipunya, dié staatsonderneming se gewese voorsitter, mnr. James Hatuikulipi, sy neef en die skoonseun van Esau en mnr. Tamson (Fitty) Hatuikulipi; mnr. Ricardo Gustavo, wat ten tyde van sy inhegtenisneming ’n beleggingsbestuurder by Investec Asset Management Namibia was (James Hatuikulipi was die uitvoerende hoof), asook mnre. Pius Mwatelulo, Otneel Shuudifonya, Phillipus Mwapopi en Nigel van Wyk.
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!