De Lange, Diekman en Looser kry wind van voor

Olimpiese Spele
Tielman van Lill
Tielman van Lill

Maike Diekmann het Vrydagoggend uitstekend by die Sea Forest Waterway-meer in die roei-dissipline gevaar toe sy derde by die Olimpiese Spele met haar eerste uitdunresies in die afdeling vir enkelroeiers oor 2 000 meter geëindig het.

Sy het dié afstand in 7 minute 40.72 sekondes afgelê. Sy het onderskeidelik met 18.46 en 15.56 sekondes agter die wenner, Magdalena Lobnig (Oostenryk), en Carling Zeeman van Kanada klaar gemaak.

Gisteroggend kon sy egter nie dieselfde pas in die kwarteindronde handhaaf nie en eindig vyfde in 8:21.69 ná Emma Twigg van Nieu-Seeland (1ste in 7:54.96), Jeannine Gmelin van Oostenryk (2de, 8:02.10), Nazanin Malaei van Iran (3de, 8:07.32) en Kenia Lechuga van Mexiko (4de, 8:09.29).

Indien Diekman onder die voorste drie geëindig het, sou sy gekwalifiseer het om Donderdag (05:00 Namibiese tyd) in die A/B-semifinaal mee te ding.

Sy sal wel Donderdag in die eerste C/D-semifinaal teen Veronica Toro Arana (Puerto Rico), Felice Aisha Chow (Trinidad en Tobago), Jovana Arsic (Serbië) en Wing Yan Winne Hung (Hongkong) deelneem vir ’n plek onder die topdrie om vir die C-finaal te kwalifiseer. As sy dit nie maak nie, sal sy in die D-finaal roei.

In die tweede C/D-semifinaal pak Yi-Ting Huang (Chinese Taipei), Alejandra Alonso (Paraguay), Lovisa Claesson (Swede), Milena Venega Cancio (Kuba), Hyejeong Jeong (Korea) en Tatsiana Klimovich (Bulgarye) mekaar.

Padfietsry

Saterdagoggend was dit Tristan de Lange se kans om in die padfietresies oor 234 kilometer en ’n totale klimhoogte van meer 4 800 meter sy kleim teen die wêreld se bestes af te steek. Maar ongelukkig het De Lange, wat eintlik ’n bergfietsryer is, se taktiek en planne hom in die steek gelaat.

De Lange het gesê: “Ek is baie gelukkig met my resies. Ek het met ’n oopgemoed die resies begin om meer van padfietsry op so ’n hoë vlak te leer. Ek het net ’n week gehad om myself sielkundig voor te berei. Ek is tans uitstekend op peil en was baie bly toe ek die telefoonoproep kry om Namibië by die Spele te verteenwoordig.

“Dit is werklik moeilik om teen die ryers van ander lande mee te ding wat in spanne jaag. In ’n stadium was ek los voor met die resieskommisaris en TV-spanne wat my gevolg het. Maar ek kon nie die pas volhou nie.

“By die eerste klim het die bondel my met ’n paar kilometer na die bopunt ingehaal en my petroltenk was leeg. Ek het vir bykans 40 km alleen voor gejaag en dit het sy tol geëis. Of jy in die groep ry of nie, die pyn is dieselfde. Ek het werklik diep gedelf om by die bondel te bly, maar die pas was eenvoudig net te vinnig vir my. Ek is toe deur die beamptes gestop, want ek het te ver agtergeraak.

“Ek het my bes vir my land probeer en is geweldig trots om Namibië met my eerste Spele te verteenwooordig. Ek sal beslis in die toekoms my peil verhoog en hoop om beter vir Namibië te doen deur verder te ry en Namibië onder die toplande te plaas.”

Goud: Richard Carapaz van Venezuela (6:05.26). Silwer: Wout van Aert van België (6:06.33). Brons: Tadej Pogacar van Slowenië (6:06.33).

Looser

Vera Looser se geluksgodin was ook afwesig in die vroue se padresies oor 137 km en 2 500 m se klimme toe sy agtergeraak het en saam met 18 ryers gestop was. Net 48 ryers kon die moordende resies voltooi.

“My resies was goed en sleg. Ek het beplan om in die eerste bondel te ry wat weggebreek het en ek kon daarin slaag met Anna Kiesenhofer wat voorgelei het vir die eerste 40 km. In ’n stadium was die gaping tussen ons en die bondel sewe minute gewees! Ek weet nie hoe ek dit oorleef het nie. Dit was hard, want die hitte en bedompigheid is erg!

"In ’n stadium was ons vyf ryers wat saam gewerk het in die wegbreekpoging. Toe die klimme begin het, het ek gesukkel. Hoewel my bene goed gevoel het, wou my polsslag nie stadiger word om te herstel nie.

“Ek moes by die groep gebly het, maar het teruggesak en kon hulle nie weer inhaal nie. By die 68 km-merk het die bondel my van agter ingehaal en ek kon ook nie by hulle pas volhou nie en is ná 80 km deur die besemwa afgetrek en my resies was iets van die verlede.

“Ek is bly vir Anna Kiesenhofer wat die goue medalje gewen het,” het Looser gesê.

Goud: Anna Kiesenhofer van Oostenryk (3:52:45). Silwer: Annemiek Vleuten van Nederland (3:54:00). Brons: Elisa Longo Borghini van Italië (3:54.14).

Alex Miller en Michelle Voster sal vandeesweek met bergfietsry Namibië se vlag laat wapper. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!