Debatvoering oor volksmoord op 21 September
Debatvoering oor volksmoord op 21 September

Debatvoering oor volksmoord op 21 September

Mnre. Bernadus Swartbooi en Henny Seibeb van die LPM is terug in die parlement en ondersteun die mosie téén die volksmoordooreenkoms tussen Namibië en Duitsland.
Augetto Graig
Augetto Graig – Die leiers van die Landless People's Movement (LPM), mnre. Bernadus Swartbooi en Henny Seibeb, is terug in die parlement en het reeds van die begin van die sewende parlement se vierde sitting vroeër die week hul bydrae gelewer.

Die staande komitee oor voorregte het die uitspraak van sy ondersoek en bevindinge van dié twee se gedrag ná president Hage Geingob se staatsrede op 15 April vrygestel.

Volgens die verslag is albei skuldig bevind aan die oortreding van die parlement se gedragskode. Die komitee stel voor die parlement berispe die duo amptelik en met die optekening daarvan in die notule van die vergadering.

Beide Swartbooi en Seibeb is skuldig bevind aan gedrag wat nie die waardigheid en beeld van die Nasionale Vergadering (NV) gestand doen nie.

Aangesien die staande reëls en bevele van die parlement nie spesifiek oor die misbruik van die amptelike ampstaf melding maak nie, kon geen optrede rakende dié optrede van Swartbooi aanbeveel word nie, brei die verklaring uit.

Saam met die skuldigbevinding is voorgestel dat die reëls in dié verband hersien word, asook die wetgewing oor parlementêre voorregte om voortydige bekendmaking van komiteeprosedure of die getuienis wat gelewer is, te verbied – onder meer na aanleiding van kommentaar wat in die media gelewer is.

In die voorwoord van die verslag sê prof. Peter Katjavivi – die Speaker, wat die duo uit die parlement geskors het – die proses sal as raamwerk dien vir die hantering van toekomstige soortgelyke oortredings.

Die Namibiese hooggeregshof het vroeg in Augustus Swartbooi en Seibeb se skorsing omgekeer.



DEBAT OOR VOLKSMOORD OP PAD

Met Swartbooi en Seibeb se terugkeer, het opposisiepartye 'n hupstoot ontvang in hul poging om die ooreenkoms tussen Namibië en Duitsland rakende die 1904-'08-volksmoord te kniehalter.

Die minister van verdediging en veteranesake, mnr. Frans Kapofi, het dié ooreenkoms Dinsdag weer ter tafel gelê in 'n mosie dat 'n debat oor dié kwessie op 21 September gevoer moet word.

Vroeër die week het opposisiepartye, insluitend die PDM, IPC, Nudo en die LPM, hul ondersteuning te kenne gegee aan Nama- en Herero- tradisionele leiers wat die ooreenkom teenstaan.

Swartbooi het gesê: “Ons kan nie 'n ooreenkoms tussen jakkals en hiëna aanvaar sonder ons raadpleging nie.”

Volgens hom het Swapo se uitvoerende gesag die betrokke gemeen­skappe se rol as hoofonderhandelaar vervang, wat teen die wet is, en in stryd met die mosie van die oorlede Herero-opperhoof Kuaima Riruako wat in 2006 eenparig deur die parlement aanvaar is.

Ná Kapofi se mosie het die leier van die amptelike opposisie, PDM se mnr. McHenry Venaani, beswaar gemaak aangesien die eerste minister, me. Saara Kuugongelwa-Amadhila, óf die adjunk- eerste minister en die minister van internasionale betrekkinge en samewerking, me. Netumbo Nandi-Ndaitwah, nie die mosie in die parlement gebring het nie.

Katjavivi het gesê die mosie is steeds afkomstig van dieselfde regering, wat sy beste kandidaat mag kies om die mosie te bring.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!