Deel in die pret saam met Riverside

Mariselle Stofberg
Leandrea Louw op Swakopmund

Privaatskool Riverside, voorheen bekend as die Swakopmund Skool van Uitnemendheid, sê daar is groot opgewondenheid oor die begin van 2021 se nuwe skooljaar en die voorgestelde programme wat die skool beplan.

“Ons is ’n privaatskool wat fokus op innoverende en opwindende onderwys vir al ons leerlinge, wat op die goeie en volhoubare verhoudings tussen ouers, onderwysers, leerlinge en die gemeenskap as geheel gegrond is,” sê mnr. Ernst Olivier, Riverside se skoolhoof.

Olivier sê die eerste geleentheid wat die skool vanjaar aangebied het, was die jaarlikse atletiekbyeenkoms in Maart by die munisipale sportgronde in Vineta op Swakopmund.

“Alle klasse is tans in volle swang na die onverwagse en verpligte vakansie van ongeveer ses maande. Tydens die inperking het leerlinge gereeld werk ontvang wat hulle voltooi en weer teruggebring het skool toe waar onderwysers die werk gemerk het. Groter klasse het Zoom-groepe gebruik vir aanlyn klasse. Die graad 4 tot 9 leerlinge het ook op 19 November met hulle eksamens begin,” sê Olivier verder.

Een van die skool se groter geleenthede is die 10 kilometer Neon Night-pretdraf wat in Oktober aangebied is. Leerlinge het N$50 betaal en elkeen het ’n ‘glow in the dark’-bandjie ontvang.

“Dit was ’n groot aand waar familie en vriende saam kon deurbring. Deelnemers was ook die eerste wat die skool se Jerusalema-uitdaging video kon sien. Ons het ongelooflik hard gewerk om dit reg te kry.”

Die skool het ook op 26 Oktober hulle jaarlikse Read-a-thon aangebied – wat ook ’n reusesukses was.

Die skool het tydens die Read-a-thon en pretdraf N$70 000 ingesamel.

“Die geld wat tydens hierdie geleentheid ingesamel is, sal gebruik word om boeke vir die skool se biblioteek aan te koop. Die kleintjies wat nog nie kan lees nie het elkeen ’n inkleurboek ontvang sodat hulle ook kon deelneem. Alles was ’n groot sukses,” sê Olivier.

Leerlinge werk ook hard aan beide hul skoolwerk en buitemuurse aktiwiteite.

“Indila Abrahams is ’n graad 6-leerling wat tydens die inperking in skaakkompetisies uitgeblink het. Die 2020 FIDE Online Chess Olympiad het in Julie plaasgevind en die Zone 4.5 Skaakbyeenkoms in Oktober. Sy het nasionale klere ontvang en Namibië tydens die kompetisie verteenwoordig. Ermano van Wyk, ’n graad 5-leerling, het ook aan die Shotokan Karate-kompetisie deelgeneem waar hy silwer in sy ouderdomsgroep behaal het.”

Nog ’n hoogtepunt vir die skool was die opstel wat deur Kate-Lynne Coetzee, ‘n graad 8-leerling vir Afrikaans geskryf is.

Die opstel het gefokus op die belangrikheid van waardes en lees as volg:

“Die belangrikheid van waardes.

Herb Brooks het een keer gesê: “Jy is so goed soos jou waardes.”

Ek dink dit is een honderd persent waar! As jy goeie waardes het, gaan jy ‘n goeie mens wees. ‘n Mens kry verskillende soorte waardes: familiewaardes, kernwaardes, morele waardes, sosiale waardes, ens. Ons gaan vandag kyk na een belangrike waarde: kernwaardes.

Jou kernwaardes is ’n interne geloof, oortuiging of sekerheid wat dikteer hoe jy gaan lewe en optree. ‘n Mens kry positiewe en negatiewe kernwaardes. Jy kan nie altyd jou kernwaardes kies nie. Jou ouers en die gemeenskap waarin jy groot word, kan ook jou kernwaardes help bepaal of beïnvloed. Waardes kan jou verhoudings, daaglikse lewe, gedrag en prioriteite beïnvloed. Enige goeie waardes is baie belangrik, want dit help ons om gebalanseerd groot te word en te gesond te ontwikkel en deur die lewe te gaan.

Ek glo dat jou waardes jou persoonlikheid bepaal. Waardes maak ook besluite tonne makliker om te neem, want as jy weet wat reg en verkeerd is, is die besluit doodeenvoudig.

My waardes is eenvoudig: wees eerlik, hou jou beloftes, respekteer alle mense en pas diere op. Respek is alles. Ek weet wat my waardes is.

Wat is joune?”

Die skool het ook ’n geldinsamelingsprojek aangebied waar ’n skildery van die bekende Swakopmund-kunstenaar Irene Strydom opgeveil is.

“Me. Hoffman en haar kunsleerlinge is tans besig om die speelgrond te verf en te versier, en sover lyk dit ongelooflik. Ons laaste geleentheid van die jaar was ons jaarlikse ouervergadering. ‘n Groot aantal ouers en voogde het die geleentheid bygewoon waar entoesiasme en positiwiteit duidelik onder almal te sien was. Belangrike skoolverwante inligting is ook tydens die vergadering gedeel.”

Olivier sê ten spyte van die uitdagings het die skool ’n paar besonderse oomblikke vanjaar beleef. “Ons is so dankbaar vir ons belangegroepe wat ons deur die jaar ondersteun het.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!