Deel jou talent met Kollig

Lloyd Zandberg
Lesers het die geleentheid gehad om hul foto’s, sketse, haikoes en kortverhale met Kollig deel. Hier is maar net ’n paar van die bydraes wat ons ontvang het. Hou gerus aan om jul bydraes te stuur, want in 2018 gaan ons weekliks lesersinskrywings publiseer. Lekker lees!

-----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Om te kan hoor deur Henriëtte van Wyk

Hierdie keer was dit nie die kind wat nié wou luister nie. Dit was die onderwyser wat nie kon hóór nie!

Na etlike jare van “Sê weer?”, “Ekskuus?”, “Ek kan nie hoor nie?, “Herhaal net gou weer, asseblief!”, wat terloops niks met enige didaktiese vasleggingsmetodes uit te waaie gehad het nie, het die dokter toe besluit om met die skalpel nader te staan.

Dus, toe almal vere regskud vir ‘n heerlike, welverdiende vakansie, het die uwe die ore uitgeleen aan gehoortoetse, hospitale en teaterdatums.

Wat ‘n algehele gevoel van straf en vonnis is beleef! Voeg by die prosedure ‘n denkbeeldige, verpletterende slag van ‘n diepsee-brander wat onverwags oor ‘n mens spoel om jou oor tjok-en-blok-vol water te stop.

Dís hoe dit gevoel het nadat daar ten minste twee ure in my middeloor gespoeg en geplak is, by wyse van spreke. Van al die drie gehoorbeentjies is die laaste enetjie, die liewe stiebeueltjie, verwyder en met ‘n “piston”-kie en ‘n “spring”-kie – ‘n silindertjie en ‘n veertjie – vervang. (Bewaar daardie liewe kindertjie wat my nóú kwaad maak – ek skiet hom sommer met my ingeboude kettie en ek “draw” die kettie daar waar die kind se kolskoot sit. . . )

Maar wat het die twee ure voorafgegaan?

Ek dog ek gaan genadiglik en rustig in ‘n vooraf-narkose saggies weghiberneer. . . toe die verpleër skielik gereed staan om my teater toe te koerier. Geen sprake van ‘n rústige vooraf-narkose nie, want saam met die “skielik” is daar toe ook ‘n wakkergeskrikte, benoude verpleegstertjie.

Dit was net vir blitsig spring in die hospitaaljurkie, wat niks aan die verbeelding oorgelaat het nie, asook binne-in ‘n onderkleertjie wat eerder lyk soos ‘n opgeblaasde badkepsie as om die mens se “natuurlike- jy” te beskerm.

En benoude krete: “Oe, Mevroutjie, ons moet nog gou die bandjies om die pols en die been ook kry anders is ons in die moeilikheid!”

Wat wo “anders-is-óns-in-die-moeilikheid”! Dis nie “ons” wat geslaap het nie! Ek bedoel, sý het geslaap toe sy nie moes nie, maar ek wou slaap ómdat ek moes!

By die teater aangekom, was daar nog óúúú jare se tyd, want die pasiënt net voor my op die teaterlys lê toe nog steeds soos die veroordeelde homselwers daar. Rondom hom was dit ‘n opregte, reënweerse miernes van ten minste drie ander trollies wat gekom en gegaan het.

Toe ek weer sien, kom daar so ‘n voortvarende Ierse teatersuster en gryp my trollie vas en beur en stoot vir ‘n vale teatersaal toe. So “order” sy links en regs dat iemand haar moet kom help, maar niemand kom help nie.

Ek gee haar toe al lankal volpunte vir geduld, want ek skat dat daar in die proses van stoot reeds drié hoeke, mínus-hoeke geword het.

Toe sy my uiteindelik in die saal het, gee sy een moedelose sug, makeer die pas en stoot my weer uit, net om my weer met die voete eerste in te stoot. Dis toe dat sy vrolik sê (In Ierse Engels, onthou.):

“En ons haal vanoggend gou die ou mangeltjies uit, nè?!”

Sy wou my nie dadelik glo toe ek haar in geradbraakte Iers vertel dat die ou mangeltjies verlede jaar al gewaai het nie. . .

Ag tog, dis toe dieselfde proses van uitstoot, hoeke onthoek, “Will somebody please help me, here!” met geen reaksie nie. Nooit ooit in die gewone lewe, klim ek saam met haar in ‘n motorkar nie! Wat in die pad kom, word eenvoudig weggestóót!

Die laaste wat ek van daardie hellevaart kan onthou, was die yskoue plank van ‘n teaterbed en gr-o-o-o-o-t, starende oogligte. . .

Toe word ek wakker net voordat hulle my versigtig by die luukse enkelkamer instoot.

TIP-TAP! TIP-TAP!

Kort, kragtige, vinnige HARDE voetstappe!

‘n Haastige, vaal mannetjie stap reg langs die trollie.

“Goeiemôre, mevrou Vermeulen, ek het net u krukke vir u gebring.”

“O, u is nie mevrou Vermeulen nie? Ekskuus tog!”

Woeps, weg is hy en ek het hom nooit weer gesien nie! Of gehoor nie.

Maar nou kan ek HOOR. Wat ek wíl en wat ek nié wil nie!

En so terloops, ek reken daar is maar min skoolhoofde wat kan spog met ‘n EEN-PISTON-AANGEDREWE onderwyser!

-----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Die hart weet beter deur Clarice Gille-Theys

Jy is verloof, herinner sy haarself. Lizel lig onwillekeurig haar linkerhand om net weer 'n keer na die pragring te kyk. Dis 'n knewel van 'n wit diamant wat effe pienk skyn terwyl sy dit in die dowwe lig sit en bekyk.

Sy sug. Hoekom daar geen opgewonde gefladder in haar binneste is nie, pla haar vlietig. Sy staar uit by die venster na nog 'n grou dag.

Sy weet dat haar besluit finaal is. Die troue moet voort. Gisteraand nadat Ludwig die ring so onverwags in haar vinger geglip het, wou sy vir 'n stonde protesteer maar hy het haar vinnig nadergetrek en saggies vol op die mond gesoen.

Dit was nie die passievolle kus van 'n verliefde man nie. Syself het geen sterre sien verskiet nie en die aarde het ook nie onder hulle gebewe nie. Sy glimlag by die onthou van dié lyntjie uit 'n boek deur een van haar geliefde skrywers van toenertyd. Sy't altyd gewonder hoe bewe die aarde onder 'n mens wat verlief is?

Daar is 'n gedurige hunkering in haar binneste. Sy glo haar hart moet wild galop as hy aan haar vat, maar al wat sy voel, is veilig. Sy kan dit nie verstaan nie. Tog is sy ook nie meer 'n tiener nie en al hierdie vreeslike bohaai oor hartkloppings en droë kele is dalk pure senuwees tussen jongmense, paai sy haarself.

Sy en Ludwig deel dieselfde agtergrond. Hulle beoefen selfs dieselfde beroep. Twee suksesvolle mediese dokters vir wie die toekoms blink wink.

“Ek wens net ek kan iets meer voel,” prewel sy terwyl sy die rooi tjalie stywer om haar lang, slanke lyf wikkel. Die kafee is om die draai waar Ludwig vir haar wag. Dis hul klein ritueel op 'n Saterdag.

“Of is dit regtig waar dat 'n rustige, kabbelende stroom meer geborgenheid bied as die bruisende, kolkende rivier?”

Kan dit wees dat haar psige dit eerder verkies? Sy onthou die opwinding van haar lewe nie so lank terug. Haar lewe met Juan. Juan met die wye glimlag en weerbarstige blonde kuif. Juan wat haar onverwags optel en swaai-dans in die straat. Juan wat met haar hare speel en diep in haar oë kyk asof net sy bestaan.

Met Juan was dit anders. Sy onvoorspelbaarheid het haar geboei. Sy smeulende jaloesie het haar gevange gehou. Sy het spesiaal gevoel. Hul instense gesprekke en elkeen se onwrikbare oortuiging waarna hy soms woedend by die deur uitstorm om net weer die volgende oggend met die mooiste bossie blomme en warm wegneemkoffies vir twee by die voordeur te staan.

Tog het hy nie een keer gehuiwer toe die oorsese aanbod kom nie. Ten volle bewus dat sy hom nie sal kan vergesel het hy heel luiters daardie Sondag uit haar lewe gestap. So asof hy nooit deel daarvan was nie. Sy het duidelik meer omgegee as hy. Sy onthou hoe hy byna ongenaakbaar hul drie jaar saam afgemaak het as platonies.

Die warm, bekende knusheid van die kafee omvou haar soos 'n kombers toe sy instap en hom by "hul" tafel merk. Hul oë ontmoet. 'n Skaam glimlag huiwer om sy mond. Dis toe dat sy dit voel. . . die rustigheid in haar liggaam en sy weet met 'n alleroorheersende sekerheid. Die liggaam lieg nooit. Dis met hom wat sy wil wees. Hy is haar rustige rivier. Sy vryf saggies oor haar ring terwyl hy die koffie inskink.

------------------------------------------------------------------------------------------------------

Bosfontein deur Johan J. Beyers

Omdat die groot pad aan die anderkant van die dorp loop, is Bosfontein een van daardie plekke

wat jy maklik kan verbyry en glad nie sal sien nie, veral nie as jy jou oë op die verkeerde tydstip

knip nie. Die ou dorpie het ook nie 'n noemenswaardige rol in geskiedenis gespeel nie behalwe as jy

dalk geweet het dat oom Joos Raadt, voorsitter en stigterslid van die Verenigde Volksverbond, op 'n

stadium daar onderwys gegee het.

Bosfontein het nou onlangs eers op die spreekwoordelike landkaart beland as gevolg van Boetie

Boontjie, die nuutste Afrikaanse sing-sensasie. In sy trefferliedjie, "Baby, jy's my blue-eyed engel",

sing hy in die tweede vers: "Op Bosfontein se berg, het jy my met jou panty geterg. . ." In elk geval,

my storie handel nie oor Boetie Boontjie se taalvaardigheid nie, maar wel oor Bosfontein se mense

en ek.

'n Paar huise weg van my oupa-hulle, waar ons grootgeword het, het juffrou Gloria gewoon. Sy

was nooit getroud nie, maar het die drie soenbaarste meisiekinders gehad wat ek ooit ontmoet het.

Rebecca, die oudste, is gebore tydens juffrou Gloria se Bybel-en-bekeer lewensfase. Julia, die

middel-meisiekind, is gebore toe juffrou Gloria behep was met die doen en late van Hollywood.

Heel laaste was Diana en die oorsprong van haar naam is hopelik helder. Die drie was regtig

soenbaar en. . . dit was al. Orige, gretige mannetjies soos ek het net soentjies ontvang terwyl die

teleurstelling hard was. Al drie dogters het later "geestelike" huwelike gehad: Rebecca het met 'n

Joodse rabbi getrou, Julia met 'n predikant van die Metodiste kerk en Diana met 'n charismatiese

pastoor en sy wit, opslaanbare "kerk".

Na ek graad 10 voltooi het, kry ek toe werk by Awie's Automotive Engineering & Maintenance as

'n handlanger. Eers dog ek dis 'n ingenieursfirma, tot ek agtergekom het hulle maak slegs reg en

diens motors. Ek het onder oom Awie se seun, Wouter, begin werk. Soos mense maar is, het party

geskinder dat Wouter glo "skeef" was. Ek dog dis tjol praatjies. Op 'n dag staan en was ek my hande

in die badkamer, toe Wouter daar in waai, my vasgryp en op die mond soen. Ek was geskok en

bitter ongelukkig, maar hy't net gelag en gesê ek moet my hangkas oopmaak en uitklim. 'n Paar dae

later, gryp hy my so wrintie waar weer vas in die werkswinkel, maar ongelukkig, en hierdie goed

gebeur soms so vinning, het ek op daardie tydstip 'n shifting spanner in my hand gehad wat

onwillekeurig sy kop getref het. Adrenalien en vrees het my begeester. Wouter se gesig was skeef en

ek sonder werk.

My volgende werk was by die poskantoor. Jonk en gesond op my fiets en in my uniform was ek

as die dorp se posbode aangestel. Als was goed tot sersant Eloff se vrou my op 'n dag gevra het of

ek nie kan help om haar wasmasjien reg te maak nie. Ek het niks van wasmasjiene (en vroue)

geweet nie, maar het 'n poging aangewend net omdat sy mooi gevra het. Toe sy oor my buk in haar

effense nagrokkie terwyl ek na die wasmasjien se binnewerke bekyk, het ek 'n openbaring gehad

nes Johannes van die Bybel. Daarna het ek altyd haar pos laaste afgelewer tot sersant Eloff een dag

onverwags by die huis opgedaag het en my amper dood gedond$% het. Die posmeester het

my in die hospitaal besoek net om my vingerafdruk te kry vir die bedankingsbrief.

Ses maande later begin ek te werk by die spoorweë as drywerassistent op 'n dieselkop. Ek moes

die drywer, Piet, wakker hou, die sinjale hardop lees, sy koffie maak, sy trommel netjies hou asook

die kajuit en vensters skoonmaak. Ou Piet het egter 'n swakheid gehad. Hy't op die Bosfontein-kerkraad gedien en het my dus gereeld gestuur om sy krapkaartjies vir kontantpryse by 'n kafee

te gaan koop. Hy wou nie hê die gemeenskap en veral sy vrou moes uitvind hy "dobbel" nie. Op 'n

dag, toe ek weer in die kafee staan om Piet se krapkaartjies te koop, koop ek sommer 'n kaartjie vir

my ook. Die dag toe die wennommers in die koerant verskyn, smyt Piet die koerant al vloekend een

kant. Ek het dit opgetel en die nommers op my kaartjie vergelyk. Die volgende dag bel ek die

maatskappy, vra verlof en gaan haal my prysgeld af. Ek wou die geld vir my oupa gee, maar hy't my

aangeraai om liewer die geld te belê.

By die werk hou ek my bek oor my wengeld en drie maande later gebeur dieselfde ding: ek koop

'n kaartjie en wen 'n kleiner bedrag as voorheen. Ses maande later wen ek die groot pot, alles. In 'n

weelderige kantoor, met drankies in die hand, vra die voorsitters van die maatskappy my

grappenderwys om op te hou om kaartjies te koop en ander ook die geleentheid te gun om te wen. Ek

gee nie om nie, want ek was letterlik skatryk. Hierdie keer vertel ek vir ou Piet van my wenne en

skenk aan hom 'n redelike bedrag geld. Hy't snot en trane begin huil. Ek het gevoel dit is danksy

hom dat ek welaf is.

Ek het vir my oupa-hulle 'n groot plot met 'n huis gekoop waarop hy met hoenders kon boer. Ek

het verder gestudeer en later my graad 12 behaal. Ek woon nog steeds op Bosfontein, tussen sy

mense en hul dinge.

Kommentaar

Republikein 2024-11-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 32° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 23° | 36° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 33° Omaruru: 20° | 35° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 14° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 23° | 34° Mariental: 20° | 36° Keetmanshoop: 13° | 32° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 23° Ariamsvlei: 14° | 32° Oranjemund: 14° | 20° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 18° | 28° Mbabane: 18° | 35° Maseru: 16° | 30° Antananarivo: 17° | 28° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 22° | 38° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 19° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 32° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 32° Harare: 19° | 30° #REF! #REF!