Demensiesentrum vir Hentiesbaai beplan
Demensiesentrum vir Hentiesbaai beplan

Demensiesentrum vir Hentiesbaai beplan

Meer as 60 demensielyers woon tans in private aftreeoorde in Namibië sonder opgeleide versorgers.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – ’n Sentrum met ’n gekwalifiseerde span waaronder opgeleide versorgers en arbeidsterapeute wat fokus op die versorging van demensielyers, open hopelik aanstaande jaar sy deure op Hentiesbaai.

Tans het die land slegs een sentrum van sy soort en wel die Alzheimer Demensie-sentrum (ADN) buite Swakopmund wat 23 mense kan huisves en wat reeds ’n lang waglys het.

Volgens die projekleier van die beplande nuwe sentrum en lid van die Hentiesbaai Lions-klub, mnr. Gert Grobler, toon navorsing meer as 60 demensielyers woon tans in private aftreeoorde sonder opgeleide versorgers. Die aantal geraakte mense wat nie in ’n versorgingsoord is nie, is onbekend.

Volgens Grobler sal eerste prioriteit verleen word aan demensielyers wat tans in sentrums vir verswakte bejaardes van die Lions-klubs op Swakopmund en Hentiesbaai woon. Sou daar later meer plek beskikbaar wees, sal demensielyers in die res van die land wat eerste aansoek doen, eerste hanteer word.

Die nuwe sentrum sal deur Hentiesbaai se Lions-klub opgerig word. Die Vereniging vir Verswakte Sorg sal in fase 1 die sentrum bestuur. Die vereniging is ook verantwoordelik vir die bestuur van die Wallace Theron-sentrum vir verswakte bejaardes op die dorp.

Volgens Grobler is die huidige behoefte net op die dorp 14 mense wat in fase 1 gehuisves kan word. Danksy ’n groot genoeg erf (1,2 hektaar) is die geleentheid daar om die sentrum in so ’n mate uit te brei dat dit inwoners van oraloor in Namibië sal kan huisves en wel ’n totaal van sowat 50.

Volgens Grobler het die Lions-klub op Hentiesbaai tans N$1,8 miljoen in die bank en sodra die mikpunt van N$3 miljoen bereik word, sal die konstruksie begin. Bouplanne vir die sentrum is reeds deur die munisipaliteit goedgekeur.

Hentiesbaai se inwonertal wissel van 7 000 tot 40 000 in die vakansieseisoen, met 10% van sy permanente inwoners wat 80 jaar en ouer is. Dit is buiten as vakansiedorp ook gewild onder mense wat hier kom aftree.

Grobler sê die ekonomiese inkrimping in suidelike Afrika, Namibië ingesluit, tesame met hoë inflasiekoerse het ’n reuse-invloed op mense se spaargeld wat beteken bejaardes is nie in ’n finansiële posisie om hulself te onderhou nie.

“Tans is daar geen primêre gesondheidsorggeriewe vir bejaardes op Hentiesbaai nie en daar is geen versekering die regering gaan sulke geriewe hier oprig nie,” sê Grobler.

Private geriewe is op hul beurt baie duur en onbekostigbaar vir bejaardes op die dorp. Die Lions-klub op Hentiesbaai is 11 jaar gelede in die lewe geroep en sy eerste projek was Nurses on Wheels wat op tuisgebaseerde ondersteuning deur opgeleide versorgers en verpleegpersoneel gefokus het.

“Dit verseker hulle kan steeds tuis in waardigheid en met minimum ontwrigting leef, eerder as om teen ’n hoë koste na ’n gesondheidsinstelling oorgeplaas te word.”

’n Behoefte aan 24 uur versorging het tot die stigting van ’n vereniging vir verswakte sorg gelei wat ’n eenheid met 20 beddens vir verswakte bejaardes begin het en 20 mense kan huisves. Dié eenheid is sedert 2015 ten volle beset wat tot ’n waglys vir opname gelei het.

Volgens Grobler word die waglys sedert 2017 geïgnoreer, omdat nuwe toelatings op “krisisbestuur” gebaseer word.

Nog ’n eenheid, die Wallace Theron-sentrum vir verswakte sorg met 15 beddens op die dorp, is in November 2018 geopen. Ook dié eenheid is sedert Maart 2019 ten volle beset.

Volgens Grobler het al hoe meer inwoners van dié aftreedorp die afgelope paar jaar een of ander vorm van demensie ontwikkel waarvan Alzheimer’s een is.

“Dié individue kan nie in hul eie huise bly en deur familie versorg word nie, omdat hulle baie spesifieke behoeftes het. Hulle kan ook nie in die eenheid vir verswakte bejaardes versorg word nie, omdat nie net hul behoeftes nie, maar ook die opleiding van versorgers geweldig baie verskil.”

Die enigste oplossing is om ’n uitbreiding by die Wallace Theron-sentrum te voeg wat deur spesifieke ontwerp en opgeleide personeel op die behoeftes van demensielyers fokus.

Volgens Grobler is die plan om teen aanstaande maand die nodige finansiering in plek te hê en met bouwerk te begin. Opleiding van versorgers en die aanstelling van personeel sal geskied voor die sentrum hopelik in April aanstaande jaar sy deure open. Die sentrum sal uit vier eenhede met drie slaapkamers elk en ’n administrasieblok met onder meer ’n kombuis, eetkamer, sitkamer en kantoorruimte bestaan.

“Sou die behoefte vir meer beddens in die toekoms ontstaan, sal die personeel tot 15 pasiënte kan hanteer voordat bykomende personeel aangestel word. Sou die pasiënte tot meer as 18 toeneem, sal meer versorgers en ’n bykomende sjef aangestel word.”

Grobler sê die hoop is dat die sentrum ’n toename van drie pasiënte per jaar sal hê, wat beteken in vyf jaar sal dit 24 pasiënte huisves.

“Dit beteken vier wooneenhede wat oor die volgende vyf jaar ontwikkel moet word.” – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!